[Foto’s] Bekendstelling: Eksklusiwiteit was nog nooit só vinnig

Die nuwe Porsche 911 Turbo S Exclusive Series (Foto: Porsche)

Die sprokieswêreld van supermotors het beperkte weergawes wat motormense se hart laat klop. Porsche se ikoniese 911 is net só ʼn motor. Mense sal sê dit is ʼn sportmotor en nie ʼn supermotor nie. Hm. Ek stem nie heeltemal saam nie. Ek glo die 911 is ʼn supermotor. Daar is net ʼn paar supermotors wat saam met hom sal hol. Én hy het ʼn klein bankie agter vir die kinders.

Dié nuwe 911 Turbo S Exclusive Series is die kragtigste en mees kenmerkende 911 tot op hede. Daar sal net 500 wêreldwyd vervaardig word. Dié eksklusiewe nuwe 911 sal met die hand afgewerk word in Porsche se nuwe Porsche Exclusive Manufaktur-afdeling by Porsche se hoofkantoor in Zuffenhausen, Duitsland.

Vir die eerste keer ooit kan kopers ʼn pasgemaakte horlosie kry om by hulle 911 te pas. Dié opgegradeerde plat sessilinder-enjin bied ʼn asemrowende 750 Nm tussen 2 250 en 4 000 r/min en ʼn magtige 446 kW. En ja, 0 – 100 km/h duik op in 2.9 sekondes en dis slegs 9.6 sekondes tot op 200 km/h. Topsnelheid is ʼn skrikwekkende 330 km/h.

Die nuwe Porsche 911 Turbo S Exclusive Series (Foto: Porsche)

Swart 20″-wiele is standaardtoerusting en ʼn spesiale goudgeel metaalverf is beskikbaar asook ʼn reeks ander kleure. Die binneruim is elegant en uniek, boonop met sportsitplekke met 18 verstellings en ʼn alcantara-dakbedekking.

Die opsionele Porsche Design Chronograph 911 Turbo S Exclusive Series is die eerste keer dat Porsche Design só ʼn horlosie slegs beskikbaar maak aan kopers van die beperkte weergawe. Vir transkontinentale reise is daar ʼn reeks bagasie beskikbaar wat van leer gemaak is. Die vier tasse pas perfek in die 911 se kattebak.

Dié beperkte weergawe van die 911 is beskikbaar met ʼn Drive Plan van drie jaar en begin by R4 072 000 in Suid-Afrika. Die bestelboeke maak vandag oop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.