[Foto’s] BMW se K 1600 Bagger ʼn regte rusbankfiets

BMW se K 1600 Bagger (Foto: BMW)

Die term ‘Bagger’ is van Amerikaanse herkoms, en verwys na ʼn motorfiets met saalsakke. ʼn Motorfiets waarmee jy kan toer, met ander woorde. BMW het reeds ʼn toerfiets in hul stal, naamlik die K 1600 GTL, wat swaarde kruis met die Honda Goldwing in terme van grootte, toerusting en aanwending. ʼn Mooi Afrikaanse woord sal seker wees: rusbankfiets. Nou het BMW hul visier op Amerika, en hulle het pas die K 1600 B bekend gestel. Die B staan vir Bagger. ʼn Duitse fiets met ʼn Amerikaanse aksent.

BMW het ons na Nelspruit genooi om te kom kyk en voel hoe die Bagger daarna uitsien. Ek kan aan slegter maniere dink om ʼn Maandag deur te bring. Die Long Tom-pas, Rowerspas en die lang, uitgestrekte kurwes tussen Sabie en Pelgimsrus is mos motorfietskos. En vir nagereg, die kronkelpad tussen Sabie en Hazyview. BMW het egter ander planne vir die dag gehad. Met hul uitgebreide reeks nuwe modelle wat in 2017 bekend gestel is, het hulle besluit om nege ander fietse ook na hierdie bekendstelling te bring en dat ons tien motorfietse in een dag sal ry. My Maandag het al beter geword! Op die spyskaart was onder meer die klein G 310 R, die opgegradeerde S 1000 R, twee R nineT’s, die Urban GS en die Racer.

BMW se K 1600 Bagger (Foto: BMW)

Edgar Kleinbergen, algemene bestuurder van BMW Motorrad SA, het die Bagger se bestaan aan ons verduidelik. Net soos met die G 310 R, is BMW besig om markte te betree wat voorheen nooit in hul portefeulje was nie. Die Amerikaanse mark is groot, en om daar mee te ding moes hulle ʼn toerfiets ontwerp wat aan die Amerikaners se behoeftes voldoen.

Die Bagger is grotendeels op die K 1600 GT gebaseer, met die 6-silinder wat 160 perde se krag seepglad na die agterwiel stuur. Die fiets is feitlik heeltemal swart, met hier en daar ʼn chroom aksent. Die hele agterste raam is laer gemaak en die Bagger is ʼn skamele 78 cm van die grond af. Die ontwerp loop van die hoogste punt op die instumentepaneel sterk skuins na agter, wat die Bagger sy unieke silhoeët gee.

Die spesifieke model was ook toegerus met ʼn tru-rat, want teen 336 kg is die Bagger nie juis maklik om rond te beweeg op ongelyke oppervlaktes nie. Dit is net senutergend om so ’n swaar fiets op eie stoom te sien agteruit beweeg.

BMW se K 1600 Bagger (Foto: BMW)

Deur die loop van die dag kon ek die K 1600 GTL ook ry, en in vergelyking met die Bagger is dié fietse baie eners. Beide fietse het die meeste aandag getrek waar ook al ons gestop het – die teenwoordigheid van agt ander BMW modelle ten spyt.

Die Bagger gaan in Suid-Afrika dalk nie dieselfde aftrek kry as in Amerika nie, want hier hou ons te veel van ons GS’e. As jy egter van plan is om aanhoudend lang afstande af te lê in uiterste gemak, is die Bagger dalk net jou fiets. Die tegnologie is op datum, en die rygemak is uit die boonste rakke. Alhoewel sy grootte my eers geïntimideer het, was dit asof die fiets krimp as jy opklim.

My tyd op die Bagger was baie beperk, maar genoeg om te weet jy sal baie ver kan ry met minimum moeite.

In ʼn neutedop:

Enjin1649 cc inlyn 6
Gewig (Nat)336 kg
Maksimum kraglewering114 kw/160 pk
Saalhoogte78 cm
Tenk kapasiteit26.5 L
PrysR 325 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

anton ·

Daai 6 silinders van BMW bly maar tops.
Daai masjien is uit n ander wêreld.
Die wringkrag is genoeg om jou hoendervleis en hart kloppings te gee elke keer as jy dit beleef.
Ja hy is swaar, maar as jy eers beweeg, voel hy soos enige ander fiets.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.