Foto’s: Citroën is terug in SA!

Foto: Verskaf

My gunsteling- Franse handelsmerk is uiteindelik terug in Suid-Afrika.

Xavier Gobille, Peugeot Citroën Suid-Afrika se nuwe uitvoerende hoof, is ʼn man met ʼn plan, en hy draai beslis nie doekies om nie.

Dit is geen geheim dat die twee Franse handelsmerke Peugeot en Citroën al ʼn moeilike tyd in Suid-Afrika beleef het nie. Toe die fabrikate teruggekom het Suid-Afrika toe, het hulle met verskriklike tegnologies gevorderde motors hier opgedaag, en ʼn handelaarnetwerk met onopgeleide tegnici het hulle in die steek gelaat. Die twee handelsmerke het ʼn reputasie opgebou van onbetroubare voertuie met swak herverkoopwaarde.

Foto: Verskaf

ʼn Besluit is ongeveer drie jaar terug geneem om Citroën opsy te skuif en eers op Peugeot te probeer konsentreer. Die produkmengsel was nie perfek nie, en Peugeot het aanhou sukkel.

Gobille het ʼn ryk geskiedenis in die motorbedryf by Renault, Nissan en nou PSA in Suid-Afrika. Die Fransman sal self vir jou sê hy is ʼn moeilike ou, maar ek dink dit is moontlik al hoe hulle dié twee fabrikate in Suid-Afrika kan red.

Gobille het 40% van die handelaars gesny – dié wat nie minimumstandaarde kon handhaaf nie, is gepos. Toe hy oorgeneem het, was daar 250 WIP (work in progress)-voertuie wat in werkswinkels gelê het met óf die tegnikus wat nie weet hoe om dit te herstel nie óf geen onderdele beskikbaar nie. Hy het onderdele ingevoer en tegnici van hoofkantoor ingespan om die probleem te takel. Teen einde September was die 250 reeds na ʼn verstommende 25 verminder. Daar is nou slegs 25 Peugeot- of Citroën-voertuie wat nog aandag kort in hul werkswinkels. Dít is ʼn reusetree in die regte rigting om weer vertroue in die handelsmerk op te bou.

Foto: Verskaf

PSA werk daaraan om teen die einde van vanjaar op ʼn handelaarnetwerk van 17 te staan, en teen einde 2020 op 41. Gobille het die produkmengsel hersien en die aantal 308’s gesny. Die mediumgrootteluikrug is ʼn mark wat verskriklik vinnig krimp, en kleiner sportnutsvoertuie neem oor – vandaar die bekendstelling van die C3 Aircross.

Citroën se stal bestaan nou uit drie modelle, die intree-C3- kompakte luikrug wat met VW se Polo, Fiesta, Rio, Yaris en so meer sal meeding. Die volgende model in die aanbieding is die C3 Aircross – dit is ʼn Ford EcoSport- en VW T-Cross–mededinger, en dán die reeksleier – die C5 Aircross. Die C5 Aircross val in die Tiguan, Rav4 en Sportage se klas.

Citroën het besluit op ʼn eenvoudige aanbieding van slegs een enjin-ratkas-kombinasie en twee spesifikasievlakke, naamlik intree en luuks. Die C3 kry ʼn intree atmosferiese 1.2-driesilinderenjin met ʼn 5-spoed-handrat, óf ʼn luukse 1.2-turbo met ʼn outomatiese ratkas.

Die ontwerp van al drie modelle is vir my fantasties. Ek hou van die unieke ontwerp en die feit dat die motors heeltemal anders lyk as die kompetisie. Ek het al drie Citroëns besit, almal diesel C3’s… en dit is puik voertuie. Die heel lekkerste is die feit dat hulle veilig is, en nie gekaap of gesteel word nie. As Gobille sy beloftes kan nakom, sien ek ʼn fantastiese toekoms vir dié handelsmerke in Suid-Afrika!

Citroën se reeks lyk nou só:

C3: 

C3 Feel 1.2 PureTech 60 kW-handrat60 kW/118 Nm5,7 ℓ/100 kmR239 900
C3 Shine 1.2 PureTech Turbo-outo81 kW/205 Nm6,0 ℓ/100 kmR289 900

C3 Aircross: 

C3 Aircross Feel 1.2 PureTech 81 kW Turbo-outo81 kW/205 Nm6,5 ℓ/100 kmR339 900
C3 Aircross Shine 1.2 PureTech 81 kW Turbo-outo81 kW/205 Nm6,5 ℓ/100 kmR359 900

C5 Aircross: 

C5 Aircross Feel 1.6 THP 121 kW Turbo-outo121 kW/240 Nm7,9 ℓ/100 kmR469 900
C5 Aircross Shine 1.6 THP 121 kW Turbo-outo121 kW/240 Nm7,9 ℓ/100 kmR509 900

Ek voorspel dat Citroën se C3 Aircross goeie verkope sal geniet. Dit is ʼn puik pakket teen ʼn billike prys – én dis iets anders as wat jy gewoonlik kry.

Die hele Citroën-reeks word gedek deur hul 5 jaar/100 000 km-diensplan en waarborg, sowel as padbystand. Ons gaan vroeg in 2020 tyd met elkeen van dié modelle deurbring en sal hulle dán met hul mededingers vergelyk. Tot dán, welkom terug Citroën…

Indien jy ʼn Citroën besit – soek jou naaste handelaar hier: https://www.citroen.co.za/citroen-you/find-a-dealer.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vita ·

Hulle maak n fout , die voertuie gaan nie goed verkoop nie, Peugeot verkoop ook swak hier

Chris Ws ·

My seun het opgradeer van ‘n Opel Astra na ‘n Citroen toe jare gelede.Hy het sederdien oorgeskakel van sy petrol Citroen na ‘n diesel weergawe van dieselfde model.Ek het nog nie enige voertuig gery wat SO lekker ry nie.Mercedes en BMW kom nie naby nie.My seun se hy sal GEEN ander voertuig koop nie.So laat ons hoor wat ander mense dink as hulle ‘n Citroen toets bestuur het.

Latliesjoukop ·

Iemand wat ‘n Citroën in Suid-Afrika koop, moet sy/haar kop laat lees.
Hulle kan glad nie aan die voertuie werk nie en die herverkoopwaarde bestaan nie.

Vita ·

Ek stem 100% saam, hy kan dalk lekker ry, dit waar dit stop, sal hom nooit verkoop kry nie, en as hy breek wag jy baie lank vir parte,

AB ·

Ek koop eerder ‘n 2de handse alfa. Seker dit gaan goedkoper wees en meer betroubaar!

Chris Ws ·

Moenie TE seker wees nie!Ek wil ‘n Alfa nie verniet he nie wat nog koop!

Vraagteken ·

Hoekom sal ek ‘n C3 feel 1.2 60kw koop as ek ‘n Suzuki Swift kan koop? Die swift het beter herverkoopswaarde, sal beslis langer hou, en beste van als, hy is goedkoper.

chrisjan ·

ENIGIETS is meer betroubaar as ‘n Opel.Moenie Citroen sommer so weggooi nie.Hy gaan baie mense op hul neuse laat kyk.

ADK ·

Ek stem saam met herverkoopwaarde, maar my C4 1.6 se enjin word in BMW, Mini en Peugeot gebruik ek werk self op myne.

Susan ·

Chrisjan dit is waar wat jy praat.Self nooit van citroen gehoor nie.Nie die mooiste kar nie,maar ry grief en pas beter het my 2 leer last dink.Die C6 (nie in SA te kry nie,nog nie) Sal baie motorised 2 leer last dink of kyk.
Groete

wiehan ·

Ha ha ha, Baie te se oor Alfa’s. My 2,5 V6 156 het al 537000km op met nog steeds dieselfde engin waaraan net gewone dienste gedoen is. Beste van als is, ek moes op 350000km die coil packs vervang en dieselfd tyd moes my vriend sy BMW sin vervang, Op 115000Km Wonder maar net

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.