Foto’s: Dié Honda-superfiets het nou meer krag

Die Honda CBR 1000 RR (Foto: Brian Cheyne)

Daar gaan nog ʼn dag kom dat ʼn gesondheidsinspekteur na ʼn superfiets gaan kyk en wetgewing so verander dat hierdie fietse verban gaan word na die buitenste duisternis. Hoe is dit moontlik dat ek vandag by Honda kan instap en ʼn missiel kan koop waarmee ek ver oor die spoedgrens kan ry, en dan oorskakel 2de rat toe? Die rede is wedrenne. Al die groot vervaardigers neem deel aan die Superfiets-wêreldkampioenskap, en om te mag deelneem, moet hulle ʼn sekere hoeveelheid superfietse aan Jan Publiek verkoop. Sonder reekse soos WorldSBK sal die 1000cc-superfiets dalk ophou bestaan. Met krimpende toeskouergetalle is daardie dag dalk nie ver nie.

Honda ontwikkel nou al so vyf jaar aan die nuwe Fireblade en elke stukkie van die fiets, van voor tot agter, is geweeg tot dit lig genoeg bevind is. Die vellings het minder speke. Die tenk is van titanium gemaak. Die raam se wande is dunner. Selfs die plastiekpanele is dunner. Die totale gewigsbesparing is omtrent 15 kg. Die CBR weeg nou slegs 196 kg, en met 189 perdekrag is die krag-tot-gewig-verhouding amper 1:1.

Die Honda CBR 1000 RR (Foto: Brian Cheyne)

Die hele gedagte agter die nuwe Fireblade was dat Honda ʼn baanfiets wou bou wat op die pad gebruik kan word. Vir daardie rede kan die spieëls terugvou as jy lus is om jou knie te gaan skuur op ʼn baan. Die lyne van die Fireblade is pure renfiets.

Vir so R60 000 meer kan jy die SP-weergawe spesifiseer. Vir jou ekstra geldjies kry jy Öhlins se semi-aktiewe vering. Hierdie slim vering neem verskeie parameters in ag om die vering aan te pas vir die optimale kompressie, ongeag die padoppervlak. Brembo-knypers en snelskakeling word ook bygevoeg.

Die elektronika op die fiets kan ook verstel word vir krag, enjinremming en tolbeheer. Alles word vertoon op ʼn klein, volkleur intrumentepaneel.

Die ryposisie is aan die knap kant. In die dieetprogram het die fiets self ook gekrimp. Die fiets forseer jou in ʼn posisie vir baanry en ek het ʼn agteroppie gevra om die posseël wat dien as die agtersitplek uit te toets. Die afstand van die saal na die voetrusse is maar klein en ek was baie beïndruk met haar vermoë om haar sit te kry. Ek dink net nie ons gaan baie ver so kan ry nie.

Die Honda CBR 1000 RR (Foto: Brian Cheyne)

Die Honda Fireblade is seker die maklikste superfiets wat ek nog gery het. Die fiets het, selfs met my beperkte vermoëns, baie selfvertroue by my ingeboesem. Ek het gou agtergekom dat ek heelwat vinniger in draaie kon inleun as wat ek verwag het. Dit is egter nie ʼn beginner se speelding nie. Die CBR vereis jou volle aandag en respek. Die kraglewering is ongelooflik, en die Fireblade doen alles só maklik, dat jy jouself oor 200 sal kry sonder dat jy dit eens agterkom, en dan is daar nog twee ratte oor.

Kom ons hoop maar dat WorldSBK ʼn herlewing beleef en dat ons nie eendag met heimwee terugverlang na die dae toe 1000cc-superblitse vrylik beskikbaar was nie.

Vir meer inligting, besoek Honda se produkblad.

Hier is die pryse:

CBR 1000 RRR240 000
CBR 1000 SPR300 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

anton ·

Ha ha……..ek neem aan jy praat seker nie van n BMW motor nie…….. :-)
Wonder wat is die Honda se top spoed? Seker net duskant opstyg.

TR ·

Haha. Dit is so tipiese meerderwaardige BMW ryer antwoord ook. Ry seker n GS staan-staan (onwettig) op teer.

Hendrik ·

Innie binnekringe word die staan staan ry mos “Meerkating” genoem. Die ryers oefen hierdie vaardigheid indien hulle nou van die pad af gaan ry. Interresant dat die BMW GS nie so groot volg het in europa en dat die Honda TransAlp die topverkoper is.

Vraagteken ·

Anton, hy is beperk tot 300km/h. Ons kan Suzuki bedank vir daardie een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.