Foto’s: Die KTM RC390 ’n prettige liggewig

Die KTM RC390 (Foto: Brian Cheyne)

ʼn Motorfietslisensie in Suid-Afrika is baie eenvoudig. Jy kan die toets vir jou leerlinglisensie gaan aflê en na gelang van jou ouderdom enige motorfiets koop en daarmee ry, sonder opleiding. Boonop, as jy bereid is om elke twee jaar of so weer die toets te skryf, hoef jy nooit jou bestuurstoets aan te durf nie. Nou kan ek verstaan hoekom motorfietse so ʼn skrikwekkende reputasie het. Die mense aan die stuur van die motorfiets-invoerbedryf is hard besig om die regering te bearbei om ʼn tweede trappie in te bring wat jou sal verplig om eers ʼn fiets met ʼn kleiner kapasiteit vir ʼn tydperk te ry, voor jy daardie missiel van 200 perdekrag mag bestyg. In oorsese lande is dit die norm en presies die rede vir die bestaan van ʼn fiets soos die KTM RC390 wat ek dié week onder hande gehad het.

Sommer uit die staanspoor het die klein KTM my gefassineer. Die aggressiewe stilering en die hooflig wat ʼn kruising is tussen Darth Vader en Terminator laat jou onder geen illusie van die fiets se teikenmark nie. Die RC staan vir Racing Concept, en dit is presies wat hierdie fiets is: ʼn middelslag-sportfiets. As die stilering jou nog laat twyfel oor die fietsie se sportiewe vermoë, moet jy net op hom klim, dan sal jy verstaan. Die handvatsels is ver vorentoe, en jou voete effe na agter.

Die 373 cc-enjintjie lewer 32 kw (43 pk) en klink heel besadig as hy luier, maar as die toere klim, klink hy nie soos ʼn tiener wie se stem nog moet breek nie. Al die klanke is gou vergete as jy voel hoe hierdie fiets trek. Die RC beskik oor ʼn elektroniese versneller, en vir ʼn enjin met so ʼn klein kapasiteit was die KTM ʼn openbaring. Hy is selfs parmantig genoeg om so nou en dan sy voorwiel te lig onder hewige versnelling. Die nuwe koppelaar is veerlig, en die ratskakeling glad.

Die KTM RC390 (Foto: Brian Cheyne)

Die KTM word deur Bajaj in Indië gebou, maar staan nie een aks terug as dit by bougehalte kom nie. Die afwerking op die KTM is van hoë gehalte, en klein detail het my oog getrek. Die handvatselkontroles is verlig om hulle makliker in die aand te identifiseer, en dit is ʼn item wat jy gewoonlik op baie duurder fietse sien. Die voorste flikkers is in die spieëlarms ingebou en vertoon baie netjies.

Die RC se intrumentasie is omvattend en bevat inligting soos ratposisie en huidige brandstofverbruik. Dit is jammer dat KTM nie die TFT-skerm uit die 390 Duke gebruik het nie, want dit sou die RC net soveel meer modern laat lyk het.

Vering is van die spesialismaatskappy WP, wat daarop dui dat KTM ernstig is oor die verrigting van die RC. Die 42 mm-voorvurke is onderstebo gemonteer en die agterste vering beskik oor ʼn enkelskokbreker. Die remme spog met sluitwering.

Die KTM RC390 (Foto: Brian Cheyne)

Op die pad het ek die RC baie geniet. Die fiets is baie smal en dit maak hom die ideale pendelfiets. Die enjin trek sterk in enige rat en ek het in geen stadium gevoel dat die verkeer my sal insluk nie. Die handvatsels is breed en laag, en help baie om die KTM sekuur in draaie in te druk. Die smal profiel kom egter met ʼn prys. Die brandstoftenk hou net 10 ℓ, so maak maar reg om baie te stop, want hierdie fietsie smeek om met entoesiasme gery te word.

As jy dus nou pas jou 125 cc-dae agtergelaat het en jou moed of jou beursie weerhou jou van ʼn superfiets, sal die KTM die ideale volgende stap wees. Daar is oorgenoeg woema, sonder om jou bang te maak. Teen R70 999 is die RC ʼn uitstekende kopie. Verder het KTM tans ʼn aanbieding op die RC, waar hulle jou sal help met ʼn R10 000-deposito, sou jou belangstelling dalk oorloop in koop. Gaan kyk gerus na die RC390, jy sal nie teleurgesteld wees nie.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ʼn neutedop

Enjin373 cc-enkelsilinder
Gewig (Droog)147 kg
Maksimum kraglewering32 kw/43 pk
Saalhoogte820 mm
Tenkkapasiteit10 ℓ
PrysR70 999

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.