Foto’s: Ford se nuwe Mustang

In ʼn wêreld van klein 900 cc-petrolenjins, beurtkrag en die oneindige oorlog oor uitlaatgasse is sportmotors alewig in gedrang. Elke keer as ʼn nuwe modelreeks bekend gemaak word, dan hou petrolkoppe in angs asem op vir wanneer daar gesê word – die V8 word met ʼn viersilinder hibriede dryfstelsel vervang. Mercedes-AMG se C63 kom spesifiek na vore.

Toe Ford die Mach-E bekendgestel het, was die skrif aan die muur. Gaan daar nog ʼn Mustang wees? En watter klein driesilinder-nonsies gaan hom aandryf?

Ek kan julle egter nou gerusstel nadat die nuwe Ford Mustang onlangs aan die wêreldmedia gewys is.

Dit is steeds ʼn pragtige koepee-bakstyl, met ʼn fantastiese lang enjinkap, agterwielaandrywing en ʼn Coyote 5 liter V8 voor. Die amptelike produkaanbieding in Suid-Afrika is nog nie vas nie, maar oorsee is die Mustang beskikbaar met ʼn 2.3 viersilinderturbopetrol EcoBoost-enjin, en die Coyote V8. Twee ratkaste bly beskikbaar in die reeks, ʼn 6-spoed handrat en Ford se 10-spoed outo.

Daar is steeds twee bakstyle beskikbaar, koepee en afslaandak, en daar is ʼn splinternuwe binneruim met pragtige digitale instrumente, en Ford se Sync4-sagteware. Intreemodelle loop op 17”-wiele, maar 19” op die GT met 20”-wiele opsioneel beskikbaar.

Ford se Co-Pilot360 -veiligheidstegnologie gee die Mustang ʼn moderne geur. Dié stelsels bied herkenning vir padtekens, aanpasbare spoedkontrole, baanhulp, agterkruisverkeerwaarskuwing… en iets wat seker nét vir Gauteng uitgedink is: ʼn aktiewe stelsel wat help om slaggate te vermy.

Die Ford Pass-app begin nou lekker bekend raak. ʼn Mens kan die voertuig oop en toe sluit, aanskakel sodat die lugreëling ʼn kansie het om te verkoel voordat mens in ʼn vuurwarm ‘Stang klim, dienste bespreek en só aan.

Die nuwe Ford Mustang word teen middel volgende jaar in die VSA bekendgestel en ek verwag dat ons hom hier teen vroeg 2024 kan begin verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.