Fotos: Harley-Davidson verras met nuwe modelle

Harley-Davidson se Pan America. Foto: Verskaf

Harley-Davidson het die wêreld dié week laat regop sit deur sy toekomstige modelplanne bekend te maak.

Die tonge is behoorlik los, veral oor die Pan America, Harley-Davidson se dubbeldoelfiets. Harley-Davidson het sy hele aanslag op die mark van bo tot onder bekyk en met ʼn plan vorendag gekom om die publiek meer toegang te gee tot hulle produkte.

Die plan sluit nie net nuwe produkte in nie, maar ook meer aggressiewe bemarking en verdere ontwikkeling van bestaande produkte.

Daar is groot dinge aan die gebeur in Milwaukee en Harley wil homself sigbaar maak in die markte waar daar baie groei is. Dit beteken nie dat die tradisionele Harley-ryers agterweë gelaat gaan word nie. Inteendeel, Harley gaan sy bestaande groot toerfietse bly ontwikkel sodat bestaande ryers Harley-klante bly.

Harley-Davidson se Streetfighter. Foto: Verskaf

Daar is nou ook ʼn fokus op die middelklas fietse tussen 500 cc en 1250 cc, en hier is waar die puriste en mededingers baie te sê het. Harley-Davidson se eerste avontuurfiets sal bekend staan as die Pan America. Dit is ʼn bonkige 1250 cc wat behoorlik lyk of hy enige plek sal kan gaan.

Daar is ook die 1250 Custom en die 975 cc Streetfighter. Die Streetfighter is nog ʼn model wat breek met die Harley-tradisie en lyk meer soos ʼn kaalfiets as iets wat ʼn Harley-kenteken op sy tenk dra. Hierdie modelle behoort aan die begin van 2020 bekend gestel te word. Daarna sal nog modelle hierdie reeks aanvul tot 2022.

Harley-Davidson se LiveWire. Foto: Verskaf

Aan die onderpunt van die mark is Harley-Davidson besig om ʼn vennootskap met ʼn vervaardiger in Asië aan te gaan om ook in die 250 cc- tot 500 cc-mark mee te ding.

Behalwe vir die Pan America is die ander groot nuus Harley-Davidson se LiveWire. Soos jy seker kan aflei uit die naam, is hierdie fiets elektries. Hierdie model behoort al teen volgende jaar die lig te sien. Harley-Davidson is een van die eerste groot naam- vervaardigers om so ʼn model bekend te stel. Daar word ook ander kleiner weergawes beplan tot 2022.

Wêreldwyd gaan Harley ook sy sigbaarheid verhoog met meer handelaars en ʼn groter aanlynbasis. Harley-Davidson bly so ʼn ikoniese handelsmerk omdat die maatskappy nooit stilstaan nie. Met die nuwe plan “More roads to Harley-Davidson” is hulle op die regte pad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marco polo ·

Daai Pan American lyk asof hy net enige plek kan gaan waar daar teerpaaie is. Hopeloos te groot en lomp vir n dubbeldoelfiets, maar dalk ideaal vir diegene wat n Harley vir die ‘image’ wil he. En dalk heeltemaal oorprys, soos alle Harleys.

ChrisE ·

Nog nie die fiets in lewende lywe gesien nie. Miskien verras dit ons. Ons wag maar en sien. Ek sal in elk geval nie ‘n Harley as ‘n geskenk aanvaar nie.

Koos ·

Ja daai dual purpose is omtrent so lomp soos die ou BMW 1150GS en die 1200 daarna. ‘n Dual purpose moet nie groter as die BMW 800cc wees nie anders is hy te lomp en top heavy. Een ding moet mens v Harley se hulle dink baie hard om die lelikste motorfietse te bou, en slaag goed daarin. Die Streetfighter lyk so half Ducati

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.