Liefhebbers en versamelaars van antieke en klassieke motors en automobilia het die naweek op ʼn landgoed buite Stellenbosch toegesak waar duisende van dié items onder die hamer gekom het.
Die veiling het op die Nassau-plaas plaasgevind en meer as 30 buitelandse aanlynbieërs van ses lande, insluitend die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Switserland, het saam met aanlynbieërs van Suid-Afrika en minstens 450 plaaslike motorliefhebbers wat teenwoordig was, op meer as 70 antieke en klassieke motors en derduisende automobilia gebie.
Joff van Reenen, hoofafslaer en direkteur van High Street Auctions, sê van die noemenswaardige verkope was R370 000 vir ʼn 1928 Buick-afslaankapmotor, R335 000 vir ʼn 1964 Chevrolet Impala-afslaankapmotor, R330 000 vir ʼn 1971 Ford Mustang, R320 000 vir ʼn 1936 Ford Roadster, R320 000 vir ʼn 1948 Chevrolet Fleetmaster-afslaankapmotor, R157 500 vir ʼn 1934 Ford V8 wat in die rolprent Long Walk to Freedom verskyn het, R90 000 vir ʼn 1957 Austin Metropolitan en R105 000 vir ʼn 1954 Mercedes Benz Ponton 180.
Volgens Van Reenen was die reuseveiling die resultaat van duisende werksure oor ses maande waartydens meer as 100 000 individuele motoronderdele gesorteer en gekatalogiseer is.
“Ons het die naweek ʼn aansienlike opkoms verwag, maar die getal bieërs wat vir die veiling geregistreer het, die bywoning van die veiling en die 1 000 plus mense wat die veiling aanlyn besigtig het, was baie beter as wat ons kon verwag.”
Die veiling het langer as ses uur geduur en volgens Stef Olivier, besturende direkteur van Bidway Auction House, is die meeste van die motors uiteindelik aan Suid-Afrikaners verkoop.
Die bestorwe-boedel-veiling was glo die land se grootste veilinguitstalling van motors, onderdele en automobilia wat nog plaasgevind het. Die private versameling is nog nie voorheen in geheel in die openbaar vertoon voor die naweek se veiling nie.
Die items wat verkoop is, word dié week reg oor die land afgelewer.
- Die 1934 Ford V8 is vir R157 500 wverkoop. Foto: VErskaf
- Die 1969 MGB GT is vir R125 000 verkoop. Foto: Verskaf
- Die 1964 Chev Impala-afslaankapmotor het vir R335 000 verkoop. Foto: VErskaf
- Die 1971 Ford Mustang is vir R330 000 verkoop. Foto: Verskaf
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Ai, as ek die geld gehad het.
Sug, kan net wens.
Nee wat hierdie is n swak belgging.oor n paar jaar is daai karre al minder werd..
Pragtige karre en kyk ek is nou nie n man nie, maar stap ook al n pad met karre. Jy koop n kar nuut vandag, dan verloor hy geld in sy kanon in, en dan draai dit weer (oor n hele paar jare) en kry jy omtrent wat hy nuut gelos het en van daar af tel dit net weer op. So nee, hoe mooier daar nou na die karre gekyk word, hoe meer gaan hulle werd wees vorentoe. Hul dae van geld verloor op is verby, tensy mens hom vir meer aankoop as wat hy in enige ander land… Lees meer »