Vroue kan net so gemaklik rondry in Ford se taai Stormtrak- en Raptor-bakkies as in die jongste stadsbuksie op die mark.
Dit is juis wat Ford Suid-Afrika onlangs wou bewys met die #TheRangeHerLife-ervaring aan ʼn uitgesoekte groep vrouejoernaliste, webdagboekskrywers en sosialemediabeïnvloeders.
Maar hoe prikkel jy die klomp vroue se belangstelling? Jy nooi hulle natuurlik saam op ʼn warmlugballonrit en vra hulle om die pad na Bill Harrop’s Original Balloon Safaris in Skeerpoort, so 7 km suidwes van Hartbeespoortdam in Noordwes, in Ford se jongste bakkies aan te pak.
So het dit gekom dat ek die gelukkige joernalis van Maroela Media is om 02:30 uit die bed te spring om te midde van donkerte, koue en ʼn goeie skeut beurtkrag die reis mee te maak. Nie ʼn maklike taak vir ʼn naguil nie, maar vir my eerste warmlugballonrit – iets wat al lank op my eie emmerskoplys kuier – doen ek dit net te graag.
ʼn Goeie uur voor die herfssonnetjie nog enigsins ʼn poging aanwend om kop te lig, ry die konvooi deur Sandton se verlate strate, swenk uit vir ʼn paar slaggate en padwerke onderweg na Lanseria en swaai dan die bakkies se neus om die pad na Bill Harrop’s te vind.
Nou kan ek maar bieg, dit is eintlik heerlik om in bakkie te ry. ʼn Mens voel net veiliger, jy het meer van ʼn uitsig en dit voel of die ander motors op die pad skielik ook net meer respek het vir jou.
Boonop is bakkies lankal nie meer net bak met wiele, enjin en sitplekke nie – daar is al die luukse waaraan jy kan dink, terwyl jy ook spasie het en die bakkies met al die nodige veiligheidskenmerke spog.

Semakaleng (Sema) Remofilwe Mathebula is ons land se eerste swart vroulike lugballonvlieënier. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
By Bill Harrop’s aangekom het die lugballon halfopgeblaas gelê en wag en in die tussentyd het ons die geleentheid gehad om Semakaleng (Sema) Remofilwe Mathebula, Suid-Afrika se eerste swart vroulike lugballonvlieënier, beter te leer ken.
Mathebula (27) van Ga-Rankuwa, noordwes van Pretoria, het in November 2021 haar eerste solo-toetsvlug geslaag en gaan waarskynlik later vanjaar Suid-Afrika internasionaal verteenwoordig by die Wêreld Warmlugballonkampioenskap in Slowenië.
Benewens die feit dat Mathebula ʼn lugballonvlieënier is, is sy ook ʼn ontleder van regeringsake by Ford Suid-Afrika. Sy staan dikwels om 03:00 in die oggend op om met een van die warmlugballonne te gaan vlieg en keer dan terug kantoor toe om ʼn dag se werk aan te pak.
As jy tyd saam met dié inspirerende, geesdriftige vrou in ʼn lugballon se mandjie spandeer het, en die vreedsaamheid van die geruislose vlug ervaar, verstaan jy waarom sy lag-lag die donkeroggend hiervoor aandurf.
Om die son so oor Harties te sien opkom terwyl jy saam in die lug rond dryf met die wind wat jou ʼn bietjie rigting gee, is iets wat ʼn mens nie maklik in woorde kan omskryf nie.
Ná ʼn uur se onbeskryflike genot land ons in die middel van niks en nêrens, veilig op ʼn waentjie in die veld. Die vlug van 60 minute het eenvoudig net te gou verby gevlieg. Ons drink sjampanje – alkoholvry natuurlik want ons gaan binnekort weer self moet ry.

Terug op die aarde geniet ons eers alkoholvrye vonkelwyn om die rit te vier. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
Volgens Marc Nuthull, ons vlieënier van die dag, is dit glo ʼn tradisie van lugballonvlieëniers van ouds om met ʼn bottel sjampanje te vlieg wat hulle as karmenaadjie vir die eienaar van die grond kan aanbied; glo om te bewys die mense wat wel nou sy land toegesak het, is nie vreemde wesens van die ruimte nie.
Nuthull spog reeds met meer as 1 600 vlugure in ʼn warmlugballon en was ook die wenner van die 2021 plaaslike lugballonkampioenskap.
Ná ʼn heerlike ontbyt spring ons terug in ons Ford Stormtrak en Raptor-bakkies om hulle deur ʼn paar passies by die ADA opleiding-en-buitelugsentrum te vat. Glo dit of jy nou wil of nie, hierdie gedeelte het my behoorlik op my senuwees gehad – ek het met my vorige viertrekopleidingsessie as groentjie joernalis, toe ook by Ford, die spoor byster geraak en is tot groot vreugde van die ouer manne bakkie en al uitgetrek.
Ons is egter mooi gewys wat om aan en af te skakel en die Ford het die koppie basies self uitgeklim.
Hier het nog ʼn heerlik verrassing op die span gewag. Ons is bederf met ʼn noenmaaltee wat die koningin sou beïndruk het – net daar op die koppie onder ʼn doringboom met nóg ʼn asemrowende uitsig oor die Magaliesberg-omgewing.
Met die rit terug na Sandton was al die vroue dit eens – groot bakkies is beslis lankal nie meer net speelgoed vir die manne nie.
- Lees Maroela Media se artikels oor die Ford Stormtrak hier en hier.
- Lees Maroela Media se artikel oor die Ford Raptor hier.
- Besoek Ford Suid-Afrika se webwerf vir meer inligting oor die Stormtrak en Raptor se kenmerke en prys.
- Besoek Bill Harrop’s Original Balloon se webwerf om ʼn rit in ʼn warmlugballon te bespreek – dit is beslis iets wat almal een keer moet ervaar.
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)