[Foto’s] Padtoets: Bruikbare weeldewa

Die die V90 Cross Country D5 AWD Inscription (Foto: Volvo)

Uiters luuks en prakties is gewoonlik nie sinoniem nie. Volvo stem nie heeltemal saam nie. So ook nie met die gewone Duitse patroon van wat ʼn luukse motor is nie. Ons was ʼn ruk gelede beïndruk met die Volvo S90 en ek was aanvanklik hartseer dat ons nie die (na my mening, mooier) V90 in Suid-Afrika gekry het nie. Wel, welkom aan die V90 Cross Country D5 AWD Inscription.

Hier het ons ʼn uiters luukse stasiewa met 210 mm grondvryhoogte en allewielaandrywing – met ʼn off road-modus. Of jou off road nou die 250 km grondpad tussen Calvinia en Ceres of ʼn toegesneeude Sani-pas is, glo ek jou V90 Cross Country gaan jou daar besorg, in opperste weelde. Dié spesifieke D5-weergawe gaan jou ook met bitter min brandstof die land van hoek tot kant kan laat ontdek. ʼn Retoerroete van Pretoria na Bela-Bela en terug, ongeveer 105 km in elke rigting, het ʼn asemrowende brandstofverbruiksyfer van 6,1 ℓ/100 km gebied oor die 210 km teen 130 km/h op die spoedbeheer.

Dié V90 streel jou tydens sulke langafstand reise. Die sitplekke is van die beste wat ek al teëgekom het. Hulle kan warm word of koue lug blaas … deur die sitplek! Die asemrowende Bowers & Wilkins-klankstelsel is na my mening die beste klankstelsel wat tans in ʼn motor beskikbaar is. Die bestuursposisie is vir my perfek; die beenruimte agter my sitplek ook oorgenoeg sodat daar nie klein knieë in ʼn mens se rug druk nie. Indien dit koud en mistroostig was sou ʼn mens die reusagtige glasdak kon oopmaak, maar die son was effe kwaai tydens ons toets – so hy’t toegebly.

Die die V90 Cross Country D5 AWD Inscription (Foto: Volvo)

Die V90 Cross Country bied ʼn mens al die voordele van ʼn groot sportnuts – soos spasie, maar geen van die nadele nie – soos onnodige windweerstand en swak brandstofverbruik. Die V90 Cross Country het wel nie sewe sitplekke soos die 2016 Wesbank SAGMJ se motor van die jaar nie – die XC90.

Ek verkies ʼn V6 enjin – en Volvo bied nou slegs viersilinder enjins, maar geen van hul produkte het ʼn V6 nodig nie. Die viersilinder D5 bied 173 kW en 480 Nm wringkrag. Van ʼn 2.0 diesel!? Dit is dalk nie so romerig soos ʼn 3.0 V6 diesel nie, maar dit loop lieflik, én lig op brandstof. Die V90 Cross Country is nie ʼn klein voertuig nie en 0 – 100 km/h duik steeds op in 7,5 sekondes en hy sal aanhou landloop teen 230 km/h. Ek is ook oortuig dat die V90 Cross Country ʼn fantastiese sleepvoertuig sal wees.

Hier is ʼn patroon. Volvo maak asemrowende voertuie op die oomblik. Die bougehalte in hul produkte is verbysterend. Volvo se teikens vir veiligheid is ongeëwenaar in die bedryf. Vir wat die produk bied is die prys ʼn winskoop.

Die reeks lyk só:

V90 Cross Country T5 AWD Momentum187kW/ 350Nm7.4ℓ/100kmR791 986
V90 Cross Country D4 AWD Momentum140kW/ 400Nm5.2ℓ/100kmR812 752
V90 Cross Country T5 AWD Inscription187kW/ 350Nm7.4ℓ/100kmR822 486
V90 Cross Country D4 AWD Inscription140kW/ 400Nm5.2ℓ/100kmR843 252
V90 Cross Country D5 AWD Momentum173kW/ 480Nm5.3ℓ/100kmR858 566
V90 Cross Country D5 AWD Inscription173kW/ 480Nm5.3ℓ/100kmR889 066
V90 Cross Country T6 AWD Momentum235kW/ 400Nm7.7ℓ/100kmR915 184
V90 Cross Country T6 AWD Inscription235kW/ 400Nm7.7ℓ/100kmR945 684

Die reeks word gedek deur ‘n 5 jaar/ 100 000km waarborg en 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Subaru Outback 3.6 R-S Premium194kW/ 350Nm9.9ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

3 jaar/ 75 000km omvattende instandhoudingsplan

R617 000

Daar is slegs twee alleterreinstasiewaens tans te koop in Suid-Afrika met behoorlike grondvryhoogte en allewielaandrywing. Die Volvo V90 Cross Country en Subaru se Outback. Die Subaru is ʼn goeie produk en baie goedkoper as die Volvo, maar min kom by die kwaliteit van die Volvo. As jy dit kan bekostig is die een van die lieflikste motors op die pad wat ver bo sy prysklas kan boks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.