Kia het met die nuwe Sorento 2.2CRDi LS ’n wonderwerk verrig. Dt is ’n groot sportnutsvoertuig wat ’n mens vir minder geld kan koop as van die kompakte sportnutse. Hoe op dees aarde? Eintlik is dit eenvoudig. Hulle het al die onnodige fieterjasies uitgehaal. ’n Magdom goedjies van die vierwielaandrywingstelsel is uit, so ook die leerbekleedsel, van die lugsakke, die misligte en die klimaatbeheer… Nie een van dié dinge maak die Sorento ’n ander voertuig nie, maar die feit dat dit nie daar is nie, doen dit wel… Kom ek verduidelik.
Die 2.2CRDi LS is R200 000 goedkoper as die goedkoopste allewielaangedrewe model. Sjoe. Die LS is ook 149 kg ligter as die ander model. Dit is twee passasiers wat ’n mens uitlaai. Op die pad bied die gewigsbesparing ’n lieflike rit en beter brandstofverbruik – so eenvoudig soos dit.
Jy kry dieselfde bakwerk as die ander modelle, en die Sorento is baie mooi. Die binneruim is grootliks dieselfde as in die duurder modelle – net sonder van die tierlantyntjies. Die enjin en ratkas is presies dieselfde, en ’n lieflike kombinasie wat verskriklik lig is op brandstof. Die onderstel en vering is dieselfde. Die wiele is effe kleiner, 17” in plaas van 19”.
Op die pad ry die Sorento LS heerlik op die kleiner wiele met groter profiel bande. Die enjin voel elke kW van sy 147 kW sterk. Die 440 Nm tussen 1 750 en 2 750 r/min sal die voorste bande vermoor indien jy laf raak met die versneller.
Die kajuit is regtig gemaklik en baie ruim. Die Sorento LS is stil op die oop pad en die kajuituitleg en bestuurposisie perfek vir my. Die instrumentasie is maklik leesbaar en al die kontroles eenvoudig om te ontsyfer.
Dit gebeur nie baie nie – maar ek dink in dié geval is die baba-diesel van die reeks die beste waarde aanbieding wat ek in ’n lang tyd gesien het.
Die reeks lyk só:
Sorento 2.4 LS | 127 kW/ 225 Nm | 9.2 ℓ/100 km | R457 995 |
Sorento 2.2CRDi LS | 147 kW/ 440 Nm | 6.7 ℓ/100 km | R489 995 |
Sorento 2.2CRDi LX | 147 kW/ 440 Nm | 6.7 ℓ/100 km | R582 995 |
Sorento 2.2CRDi AWD EX | 147 kW/ 440 Nm | 6.7 ℓ/100 km | R686 995 |
Sorento 2.2CRDi AWD SX | 147 kW/ 440 Nm | 6.7 ℓ/100 km | R713 995 |
Sorento 2.2CRDi AWD SXL | 147 kW/ 440 Nm | 6.8 ℓ/100 km | R733 995 |
Die reeks word gedek deur ’n 5 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só, al het die Sorento 2.2CRDi LS nie ’n direkte mededinger nie:
Toyota Fortuner 2.4GD-6 outo | 110 kW/ 400 Nm | 7.9 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km diensplan | R474 200 |
Ford Everest 2.2 XLS outo | 118 kW/ 385 Nm | 7.3 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R477 900 |
Volvo XC90 D4 Momentum | 140 kW/400 Nm | 5.2 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R932 124 |
Mercedes-Benz GLE 250d | 150 kW/500 Nm | 5.9 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 6 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R973 704 |
BMW X5 xDrive25d | 170 kW/ 500 Nm | 5.6 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R991 664 |
Die mededingers is moeilik om te kies. Die Fortuner en Everest loop op leerraamonderstelle en is agterwielaangedryf, so hulle is nie direkte mededingers nie. Die Volvo is voorwielaangedryf soos die Kia, en met amper dieselfde kragsyfers seker sy naaste mededinger. Die BMW en Mercedes-Benz is allewielaangedryf, so nie eintlik mededingers nie, maar ek het hulle hier ingesluit oor hul viersilinder-dieselenjins. Die mededingers val almal in dieselfde grootte-klas.
Die probleem met die Sorento is sy gebrekkige grondvry-hoogte. Parkeer hom langs ‘n Fortuner of Everest en jy sal sien: hy sal nie hond haar af maak in die veld of selfs op ‘n slegte grondpad nie. Eintlik is hy maar net ‘n (bietjie) hoër stasiewa.
Die Sorento is nie veronderstel om ‘n veldryer te wees nie. Jy kry egter baie kar vir jou geld en is ‘n beter voertuig as die Fortuner en Everest.
Dankie MM vir die Info