[Foto’s] Padtoets: Jeep Renegade Limited 1.4 MultiAir AWD outo

Die Jeep Renegade Limited 1.4 MultiAir AWD outo (Foto: Jeep)

Jeep se veldryvernuf is legendaries, ook hier in Suid-Afrika. ‘Trail Rated’ is ‘n stempel wat net aan Jeeps toegeken word indien hulle aan sekere vereistes voldoen. Jeep gebruik die Rubicon-roete in Nevada, VSA, as hul proefroete. Sodra Jeep tevrede is met ‘n Jeep se bandgreep, wateroorsteekvermoë, beweegbaarheid, artikulasie en grondvryhoogte dan kry hy so ’n ‘Trail Rated’ stempel.

Ek was redelik skepties toe die eerste Renegade bekendgestel is. Hoekom sou Jeep wegbeweeg van dit waarin hulle goed is – groot en sterk 4×4’s? Ek glo dat al die ander kruismodelle besig is om in Jeep se slaai te krap. So het hulle besluit om ‘n platvorm te deel met die Fiat 500X en hul eie kruismodel bekend te stel.

Van buite is dié Jeep ‘n vreemde een. Ek hou van sy ontwerp; ander nie. Party vind die ontwerp heeltemal te rof en onbeskof – al is sy DNS baie meer verfynd; ander is mal daaroor. Die ontwerp mag dalk vreemd wees, maar dit is wel ’n bietjie iets anders – wat verfrissend is. Die binneruim is merendeels soortgelyk aan die buitekant. ‘n Growwe afwerking gee die indruk dat die Renegade reg is vir ‘n avontuurlustige leefstyl. Die Renegade is nie ‘n reus nie, maar eintlik groot genoeg vir ‘n naweek in die boendoes – as jy mooi pak. As jy nie mooi wil pak nie, sleep net ‘n waentjie saam.

Die Jeep Renegade Limited 1.4 MultiAir AWD outo (Foto: Jeep)

Die ritgehalte in die Jeep is heeltemal goed. Sy vering is meer gerat vir veldry as vir renbaan en ek hou daarvan. ‘n Jeep moet nie stamp en stoot asof hy met ysterwiele op treinspore loop nie. Die sitplek is elektries verstelbaar en die stuurwiel kan kantel en vir reikhoogte stel – so ’n mens is vinnig lekker gemaklik in die Jeep. Van die Jeep se veiligheidstelsels pla egter onnodig in normale omstandighede. Indien daar ‘n voertuig in jou blindekol is en jy skakel jou rigtingwyser aan, gaan daar ‘n alarm af. As jy te naby aan die witlyn ry, trek die stuur onnodig in jou hande. Ek verstaan dat die stelsels veiligheid bevorder, maar teen watter koste? Gaan ons oor 20 jaar nog self kan bestuur sonder dat daar alarms aangaan vir duisende redes?

‘n Aangename verrassing in die Jeep was die 1.4L MultiAir2 petrolturbo-enjin met sy 125 kW teen 5 500 r/min en 250 Nm-wringkrag teen 2 500 r/min. Vir ‘n skaarse 1 400 cc’s trek die Renegade soos ‘n klein vuurpyl. As ’n mens aanhoudend die krag gebruik, raak die Jeep wel baie dors. Ons het 10 ℓ/100 km gehandhaaf met die Renegade – nie indrukwekkend vir ‘n 1.4 nie. Die Renegade wat ons getoets het, het Jeep se nuwe outomatiese 9-spoed-ratkas. Dit klink indrukwekkend, maar in my opinie is dit eintlik bietjie van ‘n bemarkingsfoefie. Die Renegade wat ons gehad het, het meeste van die tyd in 2de weggetrek en op 125 km/h in 8ste rat oorgegaan. Daar bly hy dan tot ver bo 160 km/h … Ek weet dus nie waarom ratte 1 en 9 daar is nie.

Die Jeep Renegade Limited 1.4 MultiAir AWD outo (Foto: Jeep)

Die ratkaste is glo intelligent en sal aanpas by jou bestuurstyl. Dalk is ‘n week ’n bietjie kort vir die ratkas om te besluit hoe ek wil ry, maar ek voel daar is ruimte vir verfyning van die ewenaar, as en ratverhoudings op die model.

Die Jeep is vir my moeilik om op te som. Ek het die voertuig geniet. Die ratkas pla ’n bietjie – maar dit is seker onnodig om te wonder of hy die 9de rat gebruik of nie. Die veiligheidstelsels kan afgeskakel word sodat hulle nie pla nie, maar ’n mens betaal daarvoor. As ’n mens van die ontwerp hou, is die intreemodel ‘n winskoop teen R299 900. As jy ’n 4×4 wil hê, is die 2.4 Trailhawk teen R498 900 ‘n beter opsie en goedkoper as die een wat ons getoets het wat R501 900 kos. ‘n Jeep is wel ‘n leefstylbesluit. As jy hom wil hê, sal jy hom koop.

Milan, die skepper van Maroela Media se webtuiste, het ook ‘n beurt gehad en sy hou daarvan dat die Jeep “rof en onbeskof” voel. Wanneer sy in hom gery het, wou sy net met hom gaan bergklim. Sy het ook van die magdom verstellings gehou waaruit ‘n mens kan kies – soos hoe die deure moet oop- en toesluit, hoe die ligte moet aanbly ensovoorts. Sy voel anders as ek en het van die veiligheidstelsels gehou.

Die reeks lyk so:

1.6 E-Torque Sport81 lW/152 Nm6 ℓ/100 kmR299 900
1.6 E-Torque Longitude81 lW/152 Nm6 ℓ/100 kmR360 900
1.4 T Limited103 kW/230 Nm6 ℓ/100 kmR420 900
1.6 Multijet Limited88 kW/320 Nm4.6 ℓ/100 kmR432 900
1.4 T Limited outo103 kW/230 Nm5.9 ℓ/100 kmR446 900
2.4 4×4 Trailhawk137 kW/232 Nm7.5 ℓ/100 kmR498 900
1.4 T 4×4 Limited125 kW/250 Nm5.9 ℓ/100 kmR501 900
1.4 T 4×4 Limited 75th anniversary edition125 kW/250 Nm5.9 ℓ/100 kmR543 900

Die reeks word gedek deur ‘n 3 jaar/100 000 km-waarborg en ’n 6 jaar/100 000km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk so:

Renault Duster 1.5dCi Dynamique 4WD80 kW/ 240 Nm5ℓ/100km5 jaar/ 150 000km waarborg

3 jaar/ 45 000km diensplan

R304 900
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 4Motion Highline162 kW/ 350 Nm7.8 ℓ/100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R542 200
Audi Q3 2.0TFSI Quattro132 kW/ 320 Nm5.7 ℓ/100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R578 000
BMW X1 xDrive20i outo141kW/ 280 Nm6.4 ℓ/100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R615 592
Mercedes-Benz GLA250 4Matic Style155 kW/ 350 Nm6.6 ℓ/100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R658 576

Die kompetisie is vreeslik wydverspreid. ‘n Renault Duster gee vir jou toegang tot die leefstyl vir R200 000 goedkoper, al is hy nie naastenby so luuks soos die Renegade nie. Ek dink die Jeep Renegade 2.4 Trailhawk sal ongeëwenaar wees in die klas as dit kom by behoorlik 4×4, maar R40 000 meer gee vir jou toegang tot ‘n Tiguan 2.0TSI 4 Motion, en dit het ‘n GTi enjin in. Sjoe, nou weet ek eens nie watter kant toe nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul ·

Daardie veiligheidstelsels waaroor jy kla, kan maklik afgeskakel word of verstel word om minder sensitief te wees.
Instruksies vir hoe om dit te doen, is in die handleiding op bladsye 359 en 606. Ek besit nie ‘n Jeep nie, en ek het nog nooit ‘n Renegade bestuur nie, maar dit het net 2 minute se Google geneem om die inligting op te spoor.

Die handleiding verduidelik ook waarvoor 9de rat daar is.
As jy sê die voertuig het meestal in 2de rat weggetrek, het jy hom moontlik meestal in sneeumodus gehad, want dan sal hy in 2de rat wegtrek eerder as 1ste.

Brendon ·

Dagsê Paul,

Dankie vir jou kommentaar. Ek weet die stelsels kan afgesit word, ek praat daarvan in die berig – maar, my vraag bly – hoekom is dit dan daar? Hoekom dit so aggressief programmeer uit die fabriek sodat mens dit afsit? Ek het nou al twee Volvos gery wat met die selfde tipe tegnologie toegerus is, en dit is glad nie so indringend nie.

Ek het ook beslis nie in Sneeumodus gery nie, maar wel in ‘Auto’. Ek het ook ‘n vinnige internetsoektog gedoen en sien dat die 9de rat probleem algemeen is, en nie net in Suid-Afrika nie, maar die VSA ook. Glo werk die ratkas baie beter in die Cherokee Trailhawk model, daar word seker ‘n ander eindaandrywingverhouding toegepas.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Paul ·

Jy kan die stelsels se sensitiwiteit ook stel sodat dit minder indringend is.

Hoekom is die stelsels enigsins daar? Omdat smaak verskil?

Anton Kld ·

Nogals ‘n merkbare verskil in brandstof verbruik in vergelyking met die vervaardiger se syfers?

Paul ·

Dis die storie met al hierdie hedendaagse klein turboenjintjies.

Die Europese amptelike brandstofverbruiktoets (deur die Europese regering voorgeskryf) is erg onrealisties, met die enjin wat nooit eers meer as ongeveer 2500 toere bereik nie, en baie geleidelike versnelling, so die turbo bou nooit eers noemenswaardige druk op tydens die toets nie.
As mens dan die kar ry soos ‘n normale mens hom ry, pomp die turbo baie meer lug in die enjin in, en die enjin verbruik dus ook baie meer brandstof.

Die Europese toets word tans aangepas om ietwat meer realisties te wees, hoewel dit tog steeds redelik onrealisties sal wees.

Dis wel interessant, met al die karre wat ek al gehad en gery het wat enjins van 1.8 liter en meer, met of sonder turbo, gehad het, was die brandstofverbruik wat ek gekry het altyd naastenby dieselfde as wat die vervaardiger aangedui het. Met karre met klein turboenjintjies, was dit altyd baie swakker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.