[Foto’s] Padtoets: Mitsubishi-markaandeel ʼn raaisel

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS (Foto: Mitsubishi)

Wanneer verkoopsyfers van sekere vervaardigers baie laag en die produk swak is – dan is die resultaat vanselfsprekend. Wanneer die verkoopsyfers baie hoog is, en die produk, diens en naverkopebystand puik is – is die resultaat weereens vanselfsprekend.

Die feit dat Mitsubishi nie honderde meer voertuie ʼn maand verkoop nie is vir my ʼn raaisel. Daar is nie ʼn slegte voertuig in hul aanbieding nie, al is ek nie gaande oor die ASX nie, is dit steeds ʼn billike voertuig in sy prysklas – en Mitsubishi se stapelmodel. Mitsubishi het maar 113 eenhede verkoop in Augustus. Dit is net meer as Peugeot, JMC en Subaru. JMC is ʼn Sjinese handelsmerk wat nog moet naam maak in Suid-Afrika – al speel hulle op ʼn heel ander veld as Mitsubishi in die LCV-mark en onderste range van die prysleer.

In die vroeë 2000’s het derduisende Pajero-voertuie rondgerits. Colt-bakkies was amper so gewild soos Hilux, Ranger en Hardbody. Ek is oortuig dat Mitsubishi in die duisende voertuie ʼn maand verkoop het. So wat het gebeur? Wisselkoers. En die feit dat Mitsubishi slegs invoer, so geen uitvoerkrediete by die staat kry nie. Op elke rand wat by invoer betrokke is, moet hulle invoerbelasting betaal. En dan, die instroming van goedkoper voertuie deur verskeie handelsmerke maak Mitsubishi se taak amper onmoontlik.

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS (Foto: Mitsubishi)

Hoekom die geskiedenisles? Ons het onlangs die Mitsubishi Outlander 2.4 GLS op toets gehad. Ek het aanvanklik gedink, ai – hoekom ʼn 2.4-viersilinderpetrol, met ʼn palwisseltransmissie. Nee, man. Maar – die Outlander het my verkeerd bewys.

Ek is nie ʼn 2.4-viersilinder se grootste liefhebber nie. Ook nie van ʼn CVT (palwisseltransmissie) nie. Maar – die pakket op die Outlander werk heeltemal goed. Die enjin bied 123 kW en 222 Nm. Dit voel heeltemal voldoende op die pad. Die Outlander pak ʼn langafstandreis op snelweë moeiteloos aan. Vanaf die Internasionale Lughawe OR Tambo na my huis in die noorde van Pretoria het die Outlander ʼn asemrowende 6.3 ℓ/100 km gebied. Ek het wel baie rustig gery – maar myself verkeerd bewys dat ʼn 2.4-viersilinder nie altyd swaar is op brandstof nie.

Die binneruim van die Outlander is lekker luuks. Daar is ʼn magdom speelgoed om jou veilig en deeglik vermaak te hou tydens jou reise. Daar is ʼn ingeboude DVD-sisteem vir die agterste passasiers. Die leerbekleedsel is lekker gemaklik en die bestuurdersitplek elektries verstelbaar. Die derde ry sitplekke plaas die Outlander in ʼn klein mark van kompakte 7-sitplek-sportnutse met allewielaandrywing. Die indrukwekkende Rockford Fosgate-klankstelsel is fantasties vir dié van ons wat ons musiek hard wil luister.

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS (Foto: Mitsubishi)

Ritgehalte is uiters gemaklik en padhouvermoë voldoende vir ʼn mediumgrootte sportnuts. Wat beïndruk, is die stilte teen 120 km/h in die kajuit – behalwe as die Rockford Fosgate oopgedraai is. Die Outlander se ontwerp is vir my regtig mooi en netjies. Die feit dat daar ʼn Mitsubishi-allewielaandrywingstelsel is, stel my ook gerus dat die Outlander sal gaan net waar jou lewenstyl jou lei.

Die spesifikasievlak, 7 sitplekke en allewielaandrywing maak die Outlander ʼn veeldoelige ryding. Teen sy mededingers is hy regtig goed geprys en mens kry nie die luukshede in die groter bakkie-gebaseerde 7-sitplek-motors soos Fortuner, Everest en Pajero Sport nie – tensy jy nog ʼn paar bokke uithaal. Ek’t nie gedink ek sou van die Outlander hou nie, maar dit is regtig ʼn lekker voertuig vir dié van ons met baie kinders.

Daar is net een model in dié reeks:

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS123kW/222Nm8.2ℓ/100km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R549 900

Die kompetisie lyk só:

Nissan X-Trail 2.5 4×4 SE126kW/233Nm8.3ℓ/100km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R421 900
Land Rover Discovery Sport Pure Si4177kW/340Nm8ℓ/100km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R659 368

Tussen die mededingers kan die Nissan nie met die Mitsubishi op spesifikasievlak meeding nie. Die Mitsubishi is baie beter toegerus. Die Mitsubishi en Nissan kan nie met die Land Rover se enjin meeding nie, maar sy prys sit hom weer in ʼn ander klas. Ek sou hier die middelman kies en die Outlander koop.

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS (Foto: Mitsubishi)

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS (Foto: Mitsubishi)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adri ·

Ek ry ‘n 2004-model Outlander en is baie, baie tevrede met die outjie. Hy hou net aan en aan met ry (nou al vir 200 000 km.) en vra net brandstof en gereelde dienste. Ek wonder ook baie waarom hy nie baie meer gewild is nie. M.i. vergelyk hy loshande met enige Toyota teen ‘n baie beter prys. Miskien moet Mistsubishi meer aan advertensies bestee.

Andre ·

Onthou Suid Afrikaners koop net voetuie wat “tough” lyk wat ook die tweedehandse pryse opstoot. Dis dan ook die beeld wat hier bemark word. Veiligheid is nie hoog op die lys nie en sommige voetuie word met laer veiligheid is S.A. verkoop omdat die vervaardigers, handelaars en regering die geld jaag en dit skep mos werk. Van ons voertuie kry jy nie in die eerste wêreld of as jy kry het hulle hoër veiligheidsheid spesifikasies.

Witwillem ·

Goeie karre (ek het self ‘n Clubcab v6 wat net aanhou en als doen wat verwag word sonder ‘n oomblik se gekerm) maar ek dink Mitsubishi se naverkope diens en onderdele se beskikbaarheid is nie op die standaard van die ou brood en botter staatmakers soos Nissan, Toyota, Ford en Volkswagen nie. Hulle nasionale netwerk is ook erg klein in vergeleke met die ander. Niemand is lus om ver te ry om ‘n kar te laat diens nie. Lexus sit met dieselfde situasie in ‘n mate. Produk is goed maar die ondersteuning knor.

Basson ·

Was dit situasie anders toe dit nog deel van M-B was?
Volgens my het Mitsubishi dramaties agteruit geboer na April 2011 se skeisaak?

Pietsepan ·

Mitsubishi maak puik voertuie. So ook Subaru maar ly aan dieselfde naverkope diens probleme. Een ding waaraan julle gewoond sal moet raak is CVTs. Hulle word al hoe meer gewild. Al die outomatiese ratkaste van Honda, Subaru en Toyota se hibriede voertuie het CVTs. Ek ry ‘n Nissan met ‘n CVT en verkies dit bo ‘n gewone outomatiese ratkas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.