[Foto’s] Padtoets: Toyota Corolla 1.4D Prestige

Die nuwe Toyota Corolla (Foto: Toyota)

Alles loop al 50 jaar reg vir Corolla. Vir 50 jaar bly Toyota getrou aan die DNS van die Corolla – ʼn bekostigbare gesinsmotor. Ons het onlangs ʼn beurt gehad om die opgekikkerde 11de generasie te toets.

Die eerste Corolla wat die Suid-Afrikaanse kuslyn gesien het, was die derde generasie in 1974. In 1981 is die vierde generasie bekendgestel. Dit sou die laaste agterwielaangedrewe Corolla wees. Die vyfde generasie is die eerste Corolla wat met behulp van rekenaars ontwerp is. Dié model is in 1983 van stapel gestuur en was die eerste voorwielaangedrewe Corolla wat die meesterplan is vir ʼn Corolla se DNS tot vandag. Dit was ook die eerste klein massaproduksiemotor met ʼn tweelingnokas-enjin.

Met die sesde generasie het hy in 1989 die SA Motor van die Jaar-toekenning weggeraap. In die sewende generasie is ons in Suid-Afrika vir die eerste keer blootgestel aan die Corolla RSi. Met die agtste generasie het die warm model ʼn RXi geword met ʼn sesgang-handrat. Dit was die laaste “warm” Corolla wat in Suid-Afrika verkoop is.

Die negende generasie was regtig gewild in Suid-Afrika. Sy luikrugmaat, die RunX was op dieselfde platform gebaseer. Dit is dieselfde as wat Conquest was vir die sesde generasie Corolla. Nuwe VVTi-enjins is toe bekendgestel. Met die 10de weergawe moes klante binne vyf minute ʼn goeie indruk van dié Corolla ervaar. Daai weergawe leef nou nog voort as die Corolla Quest in Suid-Afrika.

Elke Suid-Afrikaner het iewers in sy of haar verlede ʼn verhouding of ervaring met ʼn Corolla. ʼn Reis, ʼn familielid wat een het met oor die 500 000 km op, so iets. Corolla is so eg Suid-Afrikaans soos boerewors, braai, biltong en die Bokke.

Die dieseltjie wat ons getoets het, is ʼn facelift van die 11de generasie. Ek het tot nou nie die 11de weergawe ervaar nie. Ek gaan vir julle dadelik sê ek is uit my skoene beïndruk. Die Corolla 1.4D Prestige is na my mening as gesinsmotor net mooi perfek. Mooi van buite, indrukwekkend netjies en gemaklik binne. Duursame materiale is aan die binnekant gebruik. Die leersitplekke sit fantasties gemaklik en die bestuursposisie is vir my perfek.

Die nuwe Toyota Corolla (Foto: Toyota)

Die ritgehalte is uiters gemaklik. Sag geveer, hoewel daar geen bakrol is nie. Die Corolla reis uitermatig stil en gemaklik. ʼn Mens sal maklik van Johannesburg na Kaapstad kan toer sonder om moeg te raak, en terselfdertyd bitter min diesel gebruik.

Die 1.4-viersilinder-dieselenjin in die Corolla bied 66 kW en 205 Nm tussen 1 800 r/min en 2 800  r/min. Gepaard met ʼn sesganghandratkas lewer die Corolla 4.5 ℓ/100 km. Die diesel versnel nie soos ʼn vuurpyl uit die blokke nie, maar die 205 Nm-wringkrag verseker goeie gemaklike vordering. Iets wat vir my regtig merkwaardig was, is die kalibrasie van die koppelaar en die ratkas. Die Corolla trek altyd seepglad weg en wissel perfek tussen sy ratte. Die enjin en ratkas se omwentelinge stem elke keer perfek ooreen.

Ek gaan die Corolla so opsom. Die kajuit is goed aanmekaargesit. Die buite-ontwerp is aantreklik en netjies. Daar is goeie beenruimte en ʼn reusagtige kattebak. Die enjin is tjoepstil en het oorgenoeg krag vir alledaagse rygenot. Uit die aard van die saak bly dit ook ʼn Toyota, en ʼn Corolla. Daar is oor die afgelope 40 jaar in Suid-Afrika meer as een miljoen Corollas gebou en verkoop en wêreldwyd amper 45 miljoen. Hier kan niks skeefloop nie. Iets wat ek gereeld gedink het terwyl ek met die Corolla gery het, is: Al die ander motoriste wat nie met Corollas ry nie het die verkeerde kar gekoop …

Die nuwe Toyota Corolla (Foto: Toyota)

Cyril, nog ʼn Maroela Media-joernalis, meen: “Ek is nie iemand wat ʼn motor splinternuut sal koop nie, bloot omdat jy só baie geld verloor binne die eerste ruk. Dié Corolla sal ek egter uit die boks koop net om hom myne alleen te maak. Dit is ʼn lieflike kar wat lekkerder bestuur as enigiets waarmee ek in ʼn lang tyd gery het. Die sitposisie is wonderlik, die manier hoe die kar op die pad voel, die ekstras en die stilte van die enjin bied alles saam vir jou ʼn wonderlike rit. Om die waarheid te sê, die Corolla smeek jou om jou koffers te pak, padkos te maak en die oop pad aan te durf. Daarbenewens het die motor die legendariese Toyota-naam wat gepaardgaan met betroubaarheid wat jare gevat het om op te bou. Ek kan niks vind waarvan ek nié hou aan die kar nie – absoluut niks nie. Die nuwe Corolla is nou selfs aantreklik ook en lankal nie meer ʼn ouer man se kar nie.”

Die reeks lyk so:

Corolla 1.3 Esteem73 kW/128 Nm6 ℓ/100 kmR261 300
Corolla 1.6 Esteem90 kW/154 Nm6.6 ℓ/100 kmR280 200
Corolla 1.3 Prestige73 kW/128 Nm6 ℓ/100 kmR281 300
Corolla 1.4D-4D Esteem66 kW/205 Nm4.5 ℓ/100 kmR294 400
Corolla 1.6 Prestige90 kW/154 Nm6.6 ℓ/100 kmR299 900
Corolla 1.4D-4d Prestige66 kW/205 Nm4.5 ℓ/100 kmR307 500
Corolla 1.8 Prestige103 kW/173 Nm7 ℓ/100 kmR313 500
Corolla 1.6 Prestige outo90 kW/154 Nm6.3 ℓ/100 kmR314 000
Corolla 1.8 Exclusive103 kW/173 Nm7 ℓ/100 kmR336 300
Corolla 1.8 Exclusive outo103 kW/173 Nm6.4 ℓ/100 kmR349 400

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk so:

Ford Focus 1.5 TDCi Trend88 kW/270 Nm3.8 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/80 000 km-diensplan

R301 300
Volkswagen Jetta 1.6 TDI Comfortline77 kW/250 Nm4.5 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R370 700

Daar is géén manier dat die Focus se gemiddelde brandstofverbruik 3.8 ℓ/100 km is soos Ford beweer nie. Ek ken die Volkswagen-produk en hul 4.5 ℓ/100 km is haalbaar. Ek het ʼn lang stuk pad met die Corolla 3.9 ℓ/100 km gehandhaaf. Ek dink Toyota het ʼn wenner hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AndreK ·

Net jammer ek kap my kop as ek in n Toyota klim, of dit nou n Corolla of n Bakkie of n Fortuner is, kop bly kap….

Nico ·

Bly ek het my 1.6 Prestige in Junie 2014 gekoop. Twee toyotas ingeruil om die motor te koop! Lieflike motor! Net jammer die wisselkoers maak dit so duur…

Paul ·

Niks met die huidige model te doen nie, maar Toyota bak kluitjies as hulle sê die 1983-model Corolla was die eerste klein massaproduksiemotor met ʼn dubbelnokasenjin (DOHC).

Daar is talle ander klein karre wat voor 1983 met DOHC enjins toegerus is en massageproduseer is. As mens nie die Jaguars tel wat sedert die laat 1940s met DOHC enjins toegerus is nie, omdat hulle “groot” karre was, dan kom die Alfa Romeo Giulietta uit die 1950s waarskynlik eerste, met die legendariese “Nord” enjin.
Triumph het ook al in die 1970s die Dolomite Sprint met ʼn DOHC massageproduseer.
Daar is waarskynlik nog talle ander voorbeelde waarvan ek nie weet nie.

Daar moet ʼn ander detail aan die 1983 Corolla se enjin of produksie wees wat dit ʼn “eerste” gemaak het. Dalk eerste in Japan?

Pietsepan ·

Net jammer dat die bakontwerp so verbeeldingloos is. Toyota moet maar weer by die Italiaanse ontwerpers gaan hulp soek. Die Mazda en Honda het netjieser bakwerke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.