Foto’s: SA se goedkoopste nuwe buksie!

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

Ons het in Januarie Suzuki se splinternuwe S-Presso in Indië op die proef gaan stel.

Die plaaslike bekendstelling sou Dinsdag plaasgevind het, maar Covid-19 het dit in die wiele gery. Die bekendstelling het egter toe gister deur middel van ʼn regstreekse uitsending op Suzuki se YouTube-kanaal voortgegaan.

Sê welkom vir Suid-Afrika se goedkoopste nuwe buksie teen R134 900. Hoor ek jou vra: “What’s the catch”? Wel – ek sien nie een nie. Ek het al met die buksie gery – dis ʼn lekker tjor. Plaaslik kom hy met een jaar gratis versekering, ʼn twee jaar diensplan en ʼn vyf jaar/ 200 000 km- waarborg.

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

ʼn Jaar se gratis versekering is ʼn besparing van minstens R6 000 terwyl die twee dienste waarskynlik nóg R4 000 of só sou wees. Die vyf jaar/ 200 000 km- waarborg is waar dinge interessant raak. Indien jy jou S-Presso oppas, en getrou elke 15 000 km óf elke jaar by Suzuki laat diens – is die kar onder waarborg vir vyf jaar of 200 000 km, wat ook al eerste kom. Dit beteken kommervrye rygenot vir vyf jaar!

Ek glo vas dat laer inkomste huishoudings in Suid-Afrika nie kan bekostig om tweedehandse voertuie te ry nie. ʼn Stel bande jaag mens deesdae niks minder as R2 000 uit die sak nie. Dienste is duur. Meeste voertuie in dié era is baie gevorderd, en indien iets breek kan dit letterlik honderde duisende rande kos om te herstel.

Die Suzuki S-Presso. Foto: Verskaf

My advies is – sou jou begroting knap wees, koop dié S-Presso en jy weet – vir die eerste jaar is dit ongeveer R1 800 per maand plus jou brandstof. Dis dit. Die versekering is gedek. Vir twee jaar is die dienste gedek. Vir vyf jaar is herstelwerk gedek. Dit is vir my die goedkoopste toegang tot vryheid wat ek aan kan dink.

Lees hier meer oor my eerste indruk van die S-Presso waarmee ek in Indië gery het. Teen die prys dink ek Suzuki gaan hulle nie vinnig genoeg kan invoer nie. Die S-Presso is gebaseer op dieselfde platform as Suzuki se Ignis – en hy kry drie sterre in die Global NCAP-toets – heel veilig. Die Suid-Afrikaanse S-Presso het twee lugsakke en ABS met EBD. Ek kan werklik nie aan ʼn beter eerste motor dink nie. Welgedaan Suzuki.

Die reeks lyk só:

Suzuki S-Presso 1.0 GL handratR134 900
Suzuki S-Presso 1.0 GL+ handratR139 900
Suzuki S-Presso 1.0 GL+ outoR152 900
Suzuki S-Presso 1.0 S-Edition handratR147 900
Suzuki S-Presso 1.0 S-Edition outoR160 900

Die reeks word gedek deur een jaar omvattende versekering, twee jaar/ 30 000 km diensplan en vyf jaar/ 200 000 km waarborg.

Die GL se standaardtoerusting is: Elektriese vensters voor, parkeerhulp agter, lugreëling, ABS met EBD, twee lugsakke en ʼn sentrale sluitstelsel.

Die GL+ kry dié by: ʼn Raakskerminligtingstelsel met truratkamera, Android Auto en Apple CarPlay, Bluetooth en USB.

Die S-Edition kry ʼn omvattende visuele opknappingspakket by met allerhande bedekkings en plaatjies.

Ons sal binnekort die S-Presso hier onder hande kry om te sien hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra en hom dán teen sy mededingers vergelyk … maar my raad is – indien jy in die mark is vir ʼn tjor, gaan toetsbestuur gou ʼn S-Presso want die voorraad gaan nie lank hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Indien hierdie voertuig per kontanttransaksie gekoop word, en die jaar se omvattende versekering dus nie nodig is nie, is die pakketprys waarskynlik minder?

andre ·

Oulik ,miskien net die Ignis se wiele opsit met die geld wat jy op versekering bespaar ,of verleng die diensplan na 4jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.