Gaan Haval die handskoen opneem?

Haval, of eintlik die Chinese oor die algemeen, het min of meer dieselfde strategie gehad as dit by hul motors kom. Gaan soek ʼn ou voertuig van ʼn ander vervaardiger, kopieer dit en bied dit teen ʼn winskoop aan. Daar was ʼn paar probleme daarmee. Die gehalte was meestal nie wat dit moes wees nie, en om goedkoop genoeg te kon wees, was die materiale se gehalte ietwat twyfelagtig.

So het ons onlangs twee nuwe Havals onder hande gehad. Eers die Jolion en nou die nuwe H6. Die H6 is hul reeksleidende 2.0T 4WD Super Luxury. Dit is weereens, soos met die Jolion, ʼn enorme tree vorentoe vir die handelsmerk, maar is dit genoeg as ʼn mens die stywer prys in ag neem?

Die ontwerp van die nuwe H6 is werklik bitter mooi. Selfs die gehalte lyk met die eerste oogopslag goed, afgesien van die parkeersensor wat binne die buffer lê. As jy die binneruim betree, kry jy die idee dat Haval se ontwerptaal ’n skuif gemaak het. Dit is uiters skoon, minimalisties en luuks.

Ja, ek hou steeds nie van die kunsleer op die sitplekke nie – onder ons warm Afrika-son bak dit té warm. Die twee skerms bied ʼn goeie beeld, en die min knoppies laat die kajuit baie skoon vertoon. Ek is nie gek oor ʼn draaiknoppie om ratte mee te kies nie, maar dit werk goed genoeg. Ek sou egter nog die toevoeging van ’n volumeknoppie verkies om die klankstelsel mee harder en sagter te stel.

Aanvanklik beïndruk die 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin. Dit is beslis die gladste enjin wat ek al van dié handelsmerk ervaar het. Hy is werklik sterk, ook met 150 kW en 320 Nm. Die enjin is gepaard aan ʼn 7-spoed‑dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas. Dit ratwisselings is lekker glad – solank jy nie haastig is nie. Die oomblik wat jy die versneller in die mat begrawe, dan skrik alles en voel vir ʼn oomblik of dit teen mekaar werk, in plaas van saam om oombliklike versnelling te veroorsaak. Soos jy die week deurmaak, begin mens besef – die H6 is ongelukkig getrou aan die norm met Chinese voertuie – hy’s maar lekker dors. Ons het in die omgewing van 9,5 l/100 km gehandhaaf. In moderne konteks is dit steeds swaar.

Op die pad beïndruk die Haval selfs meer. Die ritgehalte is soepel genoeg, maar die padhouvermoë ook goed – ʼn lekker balans. Die H6 sit met ʼn indrukwekkende arsenaal van veiligheidstelsels. Tussen die passiewe stelsels is daar ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap‑ en stabiliteitsbeheer. Aan die aktiewe kant is daar blindekolwaarskuwing met baanhulp en ʼn 360 °‑kamera. Die kamera is egter uiters verwarrend want in trurat is die beeld van voor – dan voel dit asof die tjor in die verkeerde rigting draai. Die parkeersensors op ons toetseenheid was egter ʼn bietjie op die koffie en het sommer gereeld en hard begin gil en skreeu vir niks nie. Dalk is dit daar sensortjie wat in die buffer geval het.

Dit is maklik om die H6 op te som. Dit is regtig ʼn mooi voertuig. Hy bied ʼn omvattende spesifikasie, maar soos sy Jolion-kleinboet kort hy nog ʼn bietjie afronding om die stelsels te kry om lekker saam te gesels. Die probleem met die H6 Super Luxury is – teen R530 000 is dit nie min geld nie. Ja, ʼn Rav4 Hybrid is R200 000 meer, maar hy gaan die helfte van die brandstof gebruik, en twee keer meer werd wees oor ʼn paar jaar as jy inruil. ʼn Mens kan ook in dié prysklas amper ʼn 2.4 Fortuner of 2.2 Everest bekom.

Die reeks lyk só:

Haval H6 2.0T Premium7,4 l/100 kmR431 900
Haval H6 2.0T Luxury7,4 l/100 kmR466 900
Haval H6 2.0T 4WD Luxury8,3 l/100 kmR494 900
Haval H6 2.0T 4WD Super Luxury8,3 l/100 kmR529 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km‑waarborg en 5 jaar/60 000 km‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Everest 2.2TDCi XLS118 kW/385 Nm7,3 l/100 km4 jaar/120 000 km‑waarborg

Diensplan opsioneel

R575 400
Citroën C5 Aircross 1.6T Shine121 kW/240 Nm7,9 l/100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg en diensplanR604 900
Toyota Fortuner 2.4GD-6110 kW/400 Nm6,8 l/100 km3 jaar/100 000 km‑waarborg

9‑dienste‑diensplan

R605 000
Nissan X-Trail 2.5 4×4 Tekna126 kW/233 Nm8,3 l/100 km6 jaar/150 000 km‑waarborg

3 jaar/90 000 km‑diensplan

R627 900
Kia Sportage 1.6T GT Line AWD130 kW/265 Nm7,5 l/100 km5 jaar/onbeperkte km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R663 995
Peugeot 3008 1.6T GT121 kW/240 Nm7 l/100 km5 jaar/100 000 km‑waarborg en diensplanR679 900
Toyota Rav4 2.5 Hybrid VX E-Four163 kW 221+e Nm4,8 l/100 km3 jaar/100 000 km‑voertuigwaarborg

8 jaar/195 000 km‑batterywaarborg

6‑dienste‑diensplan

R723 200
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 162kW 4Motion R-Line162 kW/350 Nm8,3 l/100 km3 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R738 400

Hier is talle mededingers. Die Haval bied puik spesifikasies – maar die brandstofverbruik en herverkoopwaarde is vir my ʼn bekommernis. Gaan toetsbestuur almal en kies dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Nog nie vir my, is nog nie oortuig oor die kwaliteit en volhoudbaarheid, ek dink die enjin kan nog uit “Haval”

SlinkseKoljander ·

Ek hou van hom, baie mooi afwerking en bekostigbaar.
Ek koop hom beslis voor ek n Ford of n Fortuner koop.

andre ·

Baie van hierdie klas voertuie word as sleepvoertuie gebruik .Ek wonder hoe die Haval met sy DSG ratkas teenoor die meer konvensionele Toyota en Ford gaan vaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.