Wanneer dit by motors kom, sal ek mense meestal afraai om vir die goedkoper weergawe te gaan weens verskeie slaggate soos ’n swakker diensplan of betroubaarheid wat nie heeltemal kan kers vashou by mededingers nie.
Maar wat as jy die vorige weergawe van die presiese bakkie kan kry vir ʼn baie beter prys? Die bakkie waarvan ek praat, is Toyota se Hilux. Toyota het ʼn geruime tyd terug die 2.8 Raider en 2.4 SRX in Suid-Afrika bekendgestel. Daar was aanvanklik ontsteltenis omdat Suid-Afrika nie die bakkie met die mooier ligte en sierrooster kry wat in Australië beskikbaar is nie, en ook nie CarPlay en Android Auto nie.
Toyota het laat verlede jaar hul reeks opgeknap. Die luuksste model in die reeks was altyd die Raider. Die SRX was die intreemodel. Toyota sê die mark het gepraat – en hulle het geluister. Die SRX se spesifikasievlak is effens gelig en staan nou bekend as die Raider. Die Raider se spesifikasievlak is heelwat opgeskerp en staan nou bekend as die Legend.
Nietemin, meer oor die Raider. ʼn Dubbelkajuitbakkie is gereeld ietwat van ʼn penarie. ʼn Mens wil ʼn lekker sterk bakkie hê om mee te ry, maar jy wil terselfdertyd nie met daai einste luukse lorrie werk nie uit vrees vir skade. Aan die ander kant, vir werksdoeleindes wil jy darem van die luukshede hê, maar nie oortollige goed teen ʼn plaas se prys nie. Ek dink die Toyota Hilux 2.4 Raider vind die goue middeweg.
Die ontwerp is netjies, mooi opgekikker teenoor die SRX. Binne is dit heeltemal voldoende, met spoedkontrole en CarPlay en Android Auto by. Alles wat jy nodig het om lekker met jou lorrie te kan werk.
Onder die kap is daar ʼn heeltemal sterk genoeg 2.4 GD-6-viersilinderturbodieselenjin met 110 kW en 400 Nm. ʼn Mens kan dan besluit of jy ʼn handrat of outo, 4×4 of 4×2, wil hê. Party mense sal met my stry dat die 2.4 nie sterk genoeg is nie, maar ek stem geensins saam nie. Die 4×2-weergawes van die 2.4 kan 2 750 kg sleep, en die 4×4-weergawes presies dieselfde as die 2.8 teen 3 500 kg.
ʼn Ander voordeel van die 2.4 is, as jy nie soos ʼn nar ry nie, dat hy werklik lig op brandstof is. ʼn Pel het die vorige 2.4 GD-6 SRX-handrat… ʼn enkelkajuit. Sy beste verbruik wat hy al gehaal het, is 6,2 ℓ/100 km. Dit is voorwaar fantasties vir ʼn bakkie.
Op die pad is die Raider pure Hilux. Lekker sterk en rateltaai. Ja, dit bly ʼn bakkie en is ʼn bietjie stamperig as hy leeg is, maar laai net iets op, dan ry hy soos ʼn droom. Dit is geen geheim dat ek ʼn groot Hilux-liefhebber is nie. Die 2.4 Raider versterk net die Hilux-aanbieding in my opinie.
Die reeks lyk só:
Toyota Hilux 2.7 S | 122 kW/245 Nm | 10,7 ℓ/100 km | R449 200 |
Toyota Hilux 2.4GD-6 SR | 110 kW/400 Nm | 7,1 ℓ/100 km | R486 400 |
Toyota Hilux 2.4GD-6 Raider | 110 kW/400 Nm | 7,1 ℓ/100 km | R515 300 |
Toyota Hilux 2.4GD-6 Raider outo | 110 kW/400 Nm | 7,3 ℓ/100 km | R531 600 |
Toyota Hilux 2.4GD-6 4×4 SR | 110 kW/400 Nm | 7,6 ℓ/100 km | R560 200 |
Toyota Hilux 2.4GD-6 Raider 4×4 | 110 kW/400 Nm | 7,6 ℓ/100 km | R595 400 |
Toyota Hilux 2.4GD-6 Raider 4×4 outo | 110 kW/400 Nm | 7,7 ℓ/100 km | R621 700 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 Raider outo | 150 kW/500 Nm | 7,4 ℓ/100 km | R644 500 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend | 150 kW/420 Nm | 7,4 ℓ/100 km | R681 900 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend outo | 150 kW/500 Nm | 7,4 ℓ/100 km | R710 100 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 Raider 4×4 outo | 150 kW/500 Nm | 8 ℓ/100 km | R720 500 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend 4×4 | 150 kW/420 Nm | 7,9 ℓ/100 km | R748 200 |
Toyota Hilux 4.0 V6 Legend 4×4 | 175 kW/376 Nm | 11,8 ℓ/100 km | R780 500 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend 4×4 outo | 150 kW/500 Nm | 8 ℓ/100 km | R780 900 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend 4×4 RS | 150 kW/500 Nm | 7,9 ℓ/100 km | R835 400 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 Legend 4×4 outo RS | 150 kW/500 Nm | 8 ℓ/100 km | R868 100 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 9-dienste-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Ford Ranger 2.2 XL Sport 4×4 handrat dubbelkajuit | 118 kW/385 Nm | 7,2 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 6 jaar/90 000 km-diensplan | R551 300 |
Isuzu KB250 X-Rider 4×4 handrat dubbelkajuit | 100 kW/320 Nm | 7,9 ℓ/ 00 km | 5 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R565 200 |
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
Ek wil ook een hê, dankie
Daar doen Toyota dit alweer….
Loop staan en plak n Ford Ranger sierrooster op n Hilux vas.
Die ooreenkomste is net te duidelik om nie raak te sien nie.
Die benaming Raider en 2.4 laat menigte Suid Afrikaners regop sit en luister want dit is ‘n kombinasie wat bekend is vir betroubaarheid en kwaliteit. Toyota weet dit en voed nou die verbruiker se brein met die mooi kombinasie teen ‘n goeie prys. Na my mening is Toyota SA tans besig met die bekendstelling van verskeie nuwe modelle en is besig om nog ‘n groter gedeelte van die voertuig mark op te slurp. Ek het onlangs gaan kyk na die nuwe Urban Cruiser en dit is ‘n goeie produk en gaan plek vat by een of ander vervaardiger. Met goeie… Lees meer »