Goeie nuus vir Suzuki se Jimny

Die Suzuki Jimny was vir die afgelope drie jaar uiters gewild met waglyste regoor die wêreld wat selfs jare lank geword het.

Dit is nie noodwendig goed vir ʼn handelsmerk nie aangesien ʼn koper nie só lank sal wag nie en net iets anders gaan aanskaf. Suzuki se fabriek in Japan vervaardig reeds teen maksimumkapasiteit en kon eenvoudig nie een enkele bykomende Jimny lewer nie. Hoe gemaak?

Maruti Suzuki in Indië is ʼn hele paar keer groter as die moedermaatskappy. Hulle het vier aanlegte in Indië en vervaardig reeds meer 2,25 miljoen motors per jaar. Indië het die aptyt en kapasiteit vir die Jimny en die Gurgaon-aanleg vervaardig reeds sowat 700 000 eenhede per jaar en sal voortaan ons Jimny’s vervaardig.

Ons het onlangs vier dae saam met Suzuki op die grens tussen Suid-Afrika en Namibië, in die Karoo en in die Kalahari deurgebring. Dit was ʼn ware belewenis maar meer daaroor in ʼn ander artikel. Ons het met ʼn vloot van ses Suzuki Jimny’s gery. Ons toerleier het met ʼn Japanse Jimny gery, maar die res was splinternuwe Indiese Jimny’s. Ek ken die Jimny goed, en daar is nie een enkele verskil nie. Die gehalte is presies dieselfde as met die Japanse voertuig.

Daar is nóg goeie nuus en dit is dat dit vir ons meer ekonomies is om uit Indië in te voer. Dit maak Suzuki opgewonde, en dus sal ons vroeg volgende jaar ʼn derde model in die reeks sien. Tot nou was daar slegs die GA – die intreemodel met staalwiele en vensters wat met die hand werk – en die GLX-reeksleier met al die foefies. Daar sal nou ʼn GL-model beskikbaar gestel word met meeste van die speelgoed van die GLX, sonder spoedkontrole, outomatiese ligte, die raakskerminligtingstelsel en die laai in die kattebak, wat ʼn lekker besparing bied.

Die Jimny is ʼn bokserige klein buksie met ware 4×4-geloofsbriewe. Sy talent verbaas al word hy aangedryf deur ʼn atmosferiese 1.5 viersilinderpetrolenjin. Daar is ʼn 5-spoed handrat én ʼn 4-spoed outo beskikbaar. My persoonlike keuse is die outo, dit maak hom ʼn rateltaaimededinger op die 4×4-verhoog, en in die Jimny is beslis nie ʼn renmotor nie so ʼn mens het nie die handrat nodig nie – wees net rustig, dan is die outo puik. Ons het 1 227,7 km in die outo deurgebring en ons is groot liefhebbers.

Dis bitter maklik om die Jimny op te som. Hy het uitstekende herverkoopwaarde, is uiters bekwaam en bitter oulik. Já, hy is nie ʼn hansie-my-kneg nie, maar dis dié klein foefies wat hom so spesiaal maak. Ek dink daar is regtigwaar plek in my motorhuis vir een.

Die reeks sal só lyk:

Suzuki Jimny 1.5 GA handratR318 900
Suzuki Jimny 1.5 GL handratNog nie beskikbaar nie
Suzuki Jimny 1.5 GL outoNog nie beskikbaar nie
Suzuki Jimny 1.5 GLX handratR356 900
Suzuki Jimny 1.5 GLX outoR377 900

Die GA-model word gedek deur Suzuki se 5 jaar/200 000 km-waarborg en ʼn 2 jaar/30 000 km-diensplan. Die GLX geniet ʼn 4 jaar/60 000 km-diensplan. Pryse vir die GL-model sal met sy amptelike bekendstelling vroeg volgende jaar bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
andre

Die derde model wat volgende jaar inkom sal hopelik die lank verwagte 5 deur wees.Die 3 deur se verkope sal n groot knou kry,maar ons met gesinne soek plek vir 4 met bagasie en die res in die treiler

Belinda

oulikste karretjie ooit.

Die Goodwoodianer

Net ñ jammerte die prys is so vreeslik hoog. Maar weereens, dis ñ 4×4.

Dit sou ñ baie populêre voertuig in SA wees, wat baie goed sou kon meeding teen Polo en Corolla, veral in 4×2-gewaad (prysgewys).

Die dae van bekostigbare, betroubare buksies is lank reeds verby.