GR-beker lewer hope pret en pyn by Zwartkops op

Die derde ronde van die GR-beker het die naweek by Zwartkops in Pretoria plaasgevind en wat ʼn puik naweek vir motorsport was dit nie.

Onder die motorjoernaliste het die blitsige Setshaba Mashigo van ASAMM behoorlik sy staal gewys en stof in die oë van die ander gery. Chad Lückhoff van AutoTrader en Mark Jones van The Citizen was tweede en derde oor die wenstreep.

Sake tussen die motorjoernaliste was oor die naweek baie gelyk. Ek het Vrydag groot geskrik toe Chad die eerste tyd onder die 14’s aangeteken het met ʼn 1:13.9. In Saterdagoggend se kwalifiserende ronde kon ek ook ʼn halwe sekonde vind en ʼn 1:14.1 aanteken, maar Chad en Setshaba se tyd in die simulator het hulle albei in staat gestel om in die 13’s te kom.

Denis Droppa van TimesLive is dalk die oudste onder ons, maar hy daag op soos ʼn spook. Halfpad deur draai twee word ek en Mark verras met Denis wat ons almal verbysteek en agter Chad en Setshaba inskuif. Die eerste wedren maak ek in ʼn teleurstellende laaste posisie klaar. My pel en mentor, Mark, sê vir my: “Jy MOET bereid wees om jou kar te plaas sodat die ander ou moet besluit of daar kontak gaan wees.”

In die tweede wedren besluit ek dat ek vir myself moet bewys dat ek moeilike maneuvers kan trek om verby te steek, en dit werk! Ek het mooi vir John Thomson, visepresident van Future Toyota in draai een verbygesteek, en toe gaan jaag ek vir Reuben van Niekerk van News24 en Jumping Kids. Ek steek in draai twee vir Reuben verby voor hy in draai vyf weer die voortou neem. Stuuroorywerigheid in draai agt laat my in die veld langs die baan beland en Reuben skiet in vierde plek oor die wenstreep.

(Foto: Colin Windell)

Tussen die verbysteek in draai vier en die spin in draai agt sien ek ʼn gewonde Denis hinkepink terug kuipe toe na hy en Chad dieselfde stukkie baan wou gebruik, maar die wedren was opwindend. Terug in die kuipe sien ek ons werktuigkundige ons aangluur. Daar was ʼn klomp gevryf, gestamp en gestoot en die littekens sit op ons karre. Ek gaan vra vir Porra om verskoning, nou moet ek net stert tussen die bene vir die base by Toyota Gazoo Racing gaan sag maak oor die ontwerpsverandering van my en Reuben se karre.

Brendon Staniforth van Maroela Media

Met dié ronde by Zwartkops sluit ons die derde ronde van ons sewe ronde-seisoen af. Die punteleer lyk só:

Setshaba Mashigo33
Mark Jones26
Chad Lückhoff19
Denis Droppa14
Reuben van Niekerk12
Brendon Staniforth11

Die volgende ronde vind Saterdag 17 Junie by die Aldo Scribante-renbaan in Gqeberha plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.