GR Yaris: Bitter mooi en aan die brand

Vir petrolkoppe is daar geen inleiding nodig vir dié tjorrie nie! Dit is die splinternuwe Toyota GR Yaris. Nee, dit is nie nét ʼn Toyota Yaris nie. GR staan vir Gazoo Racing. Dit is dieselfde been wat nou al ʼn paar keer die Dakar-uithouren gewen het… én Le Mans.

Wat ek probeer sê is dat daar ʼn paar ouens is wat wéét hoe om renmotors te bou wat ʼn bietjie met ʼn Yaris gekarring het, of altans baie met ʼn Yaris gekarring het. Wat ons dan nou hier sien, is ʼn tweedeurluikrug met vierwielaandrywing, ʼn 6-spoed‑handratkas en ʼn turboaangejaagde 1.6‑driesilinderenjin. Daai enjin bied 198 kW en 360Nm. Dit is absoluut fantasties.

Die GR Yaris spog met 154 kW per ton en kan van 0 tot 100 km/h versnel in 5,5 sekondes. Hy is elektronies beperk tot 230 km/h. Die Yaris het wat Toyota noem GR-Four – dit is hul nuwe allewielaandrywingstelsel. In die standaard rymodus gaan 60% van die wringkrag na die voorwiele. In Sport-rymodus gaan 70% na die agterwiele, en met Track-rymodus 50:50.

Die Yaris GR is bitter mooi. Die bultende wielboë sê hier kruip iets weg onder hierdie tjor. Die sportsitplekke is nog ʼn leidraad. As ʼn mens hom aanskakel en begin ry, voel al die kontroles beslis swaarder as met ander Toyota-modelle – puik vir motorsport.

Sodra die Yaris warm is, plant jy die versneller vir die eerste keer. Die rathefboom maak jou reeds opgewonde, want onder hom is daar ʼn handratkas. Die omwentelinge klim, en só ook die wringkrag. Ek het gehoop hy trek soos ʼn haas as hy tot 7 000 r/min gedruk word en ek is nie teleurgestel nie. Die Japannese is fantasties as dit kom by die kalibreer van enjins, versnellers en koppelaars. Nou’s ek eers opgewonde!

Ons kom by ʼn renbaan. By die eerste draai klim jy hard op die rempedaal en die terugvoer is perfek. Die pedaal is lekker hard onder my regtervoet. Jy skuif ʼn rat laer van 3de na 2de en die wisselaksie is perfek en duidelik. Die stuur is uiters akkuraat en ʼn mens tref maklik die middelpunt van die draai. Die vierwielaandrywing stel jou in staat om lekker vroeg weer op die versneller te klim om om die volgende draai te jaag.

Na die tweede ronde om die baan kom jy agter die remme is spesiaal – 356 mm‑remskywe voor met ʼn 4-suierknyper. Ons gee later die stuur oor aan Leroy Poulter en Giniel de Villiers – albei manne met ʼn klomp titels agter hul naam. Daar het ʼn bietjie rook uit die remme getrek. Hierdie manne mag maar.

Kyk hoe lyk dit as ʼn mens saam Giniel de Villiers ry:

Ons sal weer tyd met die Yaris deurbring, en ek kan nie wag nie. Dit is fantasties om weer opgewonde te wees oor Toyota-produkte. Die GR-handelsmerk gaan nog sterk word. Ek hoor mense huil oor die prys, maar vir die aantal wat aan Suid-Afrika toegeken is en dit waartoe die Yaris in staat is, is dit ʼn winskoop!

Die GR Yaris lyk só:

Toyota GR YarisR606 600
Toyota GR Yaris RallyR715 600

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km‑waarborg en 9 dienste-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Kannie wag tot hy oor ‘n paar jaar op die tweedehandse mark kom nie.

Wielspore ·

Die baba het ‘n tiener seun geword met oorvloed hormone wat sy spiere laat bult. Lekker ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.