Grand i10 ding mee met sterk kompetisie

Hyundai is al ʼn geruime tyd ʼn sterk speler wanneer dit kom by billike buksies. Hyundai het al derduisende Atos-karretjies verkoop en toe kom hul fantastiese opvolger in die vorm van die Hyundai Grand i10. Dit was ʼn puik produk wat goed geprys was, mooi gestileer was en bitter gemaklik gery het.

Hyundai het ons effens verwar toe die Atos-naam terugkom, maar dit is nou hul intreebuksie en dan kom die nuwe Grand i10. Hy’t effens grootgeword.

Die Grand i10 word steeds deur twee enjins aangedryf – Hyundai se 1.0-driesilinder en 1.2-viersilinder- atmosferiese enjins. Daar is ʼn 5-spoed-handrat of 4-spoed-outo beskikbaar… so die reeks dek die grootste deel van die intree-segment. Die 1.2 wat ons getoets het, trek voorwaar goed met 61 kW en 114 Nm. Dít gepaard met ʼn ligte koppelaar en gladde ratwisselaksie verseker dat die Grand i10 ʼn lekker buksie is om die verkeer mee aan te durf.

Ek is egter nie oortuig dat hy mooier is as sy voorganger nie en die pogings om die Grand i10 nog grênder te maak, sit vir my die pot effens mis. Die paneelbord se ontwerp is ʼn bietjie vreemd en die kunsleer op die sitplekke word ongelooflik warm. As die tjor ʼn rukkie in die son gestaan het, voel dit jou boude gaan afsmelt as jy inklim. Ek voel dat ʼn goeie gehalte bekleedsel beslis beter sou werk as die kunsleer.

Op die pad toer die Grand i10 heel lekker. Die ritgehalte is soepel genoeg om gemaklik te wees, en styf genoeg om billike padhouvermoë te bied. Aan die veiligheidskant bied die Hyundai twee lugsakke en ABS met remkragverspreiding. Dit is wel Hyundai se uitstekende waarborg wat verdere gemoedsrus bied.

Dit is maklik om die Grand i10 op te som. Dit is moontlik ʼn oulike opsie, maar die kompetisie in dié segment is rateltaai. Teen die 1.2 Fluid se prys kan jy groter buksies soos Ford se Figo en VW se Polo Vivo bekom, en dit is ʼn groot probleem vir die Grand i10.

Die reeks lyk só:

Hyundai Grand i10 1.0 Motion-handrat49 kW/94 Nm5,4 ℓ/100 kmR193 900
Hyundai Grand i10 1.0 Motion Cargo-paneelwa49 kW/94 Nm5,4 ℓ/100 kmR196 500
Hyundai Grand i10 1.0 Motion-outo49 kW/94 Nm5,9 ℓ/100 kmR218 900
Hyundai Grand i10 1.0 Fluid-handrat49 kW/94 Nm5,4 ℓ/100 kmR218 900
Hyundai Grand i10 1.2 Fluid-handrat61 kW/114 Nm5,9 ℓ/100 kmR233 500
Hyundai Grand i10 1.2 Fluid Cargo-paneelwa61 kW/114 Nm5,9 ℓ/100 kmR234 900
Hyundai Grand i10 1.2 Fluid-outo61 kW/114 Nm6,9 ℓ/100 kmR259 500

Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg en 1 jaar/15 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Fiat 500 TwinAir Pop63 kW/145 Nm3,8 ℓ/100 km7 lugsakke3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/100 000 km-diensplan

R205 900
Ford Figo 1.5 Ambiente88 kW/150 Nm5,7 ℓ/100 km2 lugsakke4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R215 100
Suzuki Ignis 1.2 GLX61 kW/113 Nm5,1 ℓ/100 km2 lugsakke5 jaar/200 000 km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R223 900
Volkswagen Polo Vivo 1.4 Comfortline63 kW/132 Nm5,9 ℓ/100 km2 lugsakke3 jaar/120 000 km-waarborg

Geen diensplan

R233 200
Kia Picanto 1.2 X-Line61 kW/122 Nm5 ℓ/100 km2 lugsakke5 jaar/onbeperkte km-waarborg

2 jaar/30 000 km-diensplan

R237 995
Honda Jazz 1.2 Trend66 kW/110 Nm5,6 ℓ/ 100 km6 lugsakke5 jaar/200 000 km-waarborg

Geen diensplan

R245 600

Tussen dié mededingers, indien spasie nie van kardinale belang is nie, is die Fiat 500 puik waarde. Die Ford Figo 1.5 se enjin is die beste, en boonop teen ʼn puik prys. Die Picanto X-Line is ʼn mooier buksie, wat lekkerder ry en teen dieselfde prys. Maak ʼn kortlys en gaan toetsbestuur almal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

Hi Brendon ,sou die Suzuki Swift GLX nie beter as mededinger inpas nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.