Grondpadvreter van formaat

(Foto: Brendon Staniforth)

Ongeveer 80% van Suid-Afrika se paaie is nie geteer nie. Dit is fantastiese nuus vir Ford se beperkte weergawe van hul Raptor – die SE (Special Edition).

Die Ford Ranger Raptor is nie vir ons ʼn vreemdeling nie. Ons was by die oorspronklike bekendstelling in Mei 2019 en was oombliklik oortuig dat die Raptor op ʼn troontjie in ʼn liga van sy eie sit.

Ons het weer onlangs bietjie tyd met die Raptor deurgebring tydens ’n sloertoer Umhlanga toe en was weereens getref deur die Raptor se vernuf op die langpad én op ʼn grondpad. Ford het ons pas saamgenooi op die bekendstelling van die Ford Ranger Raptor SE.

(Foto: Brendon Staniforth)

Wat presies is die SE? Dit is steeds die Raptor, maar nou met die sportrolstaaf van die Wildtrak, ʼn rolluik op die laaibak en ander plakkertjies. Dis omtrent dit. Gelukkig het hulle niks aan die resep verander nie behalwe een verandering wat stilletjies ingesluip het – die bande. Ons plaaslike Raptors loop nou op General Grabber AT3-bande. Die voordeel is dat dit plaaslik vervaardig word en makliker verkrygbaar is, teen ʼn beter prys. Dit wil ook voorkom of dit ʼn effens sagter band is wat beter remkrag in nat weer bied. Die Raptor SE maak gebruik van die 2.0‑viersilinder‑turbodiesel met twee turbo’s. Hy bied 157 kW en 500 Nm. Die enjin is gepaard aan Ford se 10-spoed‑wringkragomsitter‑ outomatiese ratkas.

(Foto: Brendon Staniforth)

Die bekendstellingsroete was van die Kaapstad Internasionale Lughawe af tot by Du Toitskloof om bietjie die ware staal van die Raptor se 4×4‑vernuf uit te toets. Soos ek vermoed het, skrik die Raptor vir niks nie. Die 283 mm‑grondvryhoogte stel die Raptor in staat om mooi wydsbeen oor die meeste klein hobbeltjies te klim. Die General Grabber-bande maak ligte werk van grond, modder én klippe en die Fox-vering hou alles mooi stil in die kajuit.

Ek jeuk vir die laaste stuk. Dit is van Du Toitskloof af deur Ceres, dán Prince Alfred Hamlet en dán begin die grondpaaie. Honderde kilometer daarvan tot in Tankwa Karoo se tentkamp. Die wind speel mooi saam en waai die stof perfek vir ons weg. ʼn Vloot Raptors storm teen 140 km/h op die Tankwa Karoo af en binne die kajuit voel dit stiller en veiliger as op die N1.

Die Tankwa is droog… bitter droog. Daar val gewoonlik so 70 mm reën per jaar. Dit het in die afgelope sewe jaar amper niks gereën nie… tot ons daar aangekom het. Daar is iets erg spesiaal aan die reuk van ʼn donderstorm in die Karoo! Die damme op Williston is letterlik oornag vol.

(Foto: Brendon Staniforth)

Die pad van Tankwa se tentkamp terug tot in Ceres is grond. Weereens speel die wind mooi sy rol, en die vloot Raptors mik vir Ceres. In ʼn stadium gryp ek my kans aan en druk die versneller in die mat om te kyk wat sal hy maak in 4H op ʼn grondpad as jy die leiband losmaak. Sowat 170 km/h is al waarvoor ons plek gehad het. Toe ek by die padstal indraai en sien almal is saam met my daar, besef ek almal het dieselfde gedagte gehad.

Ek het dit al baie gesê – maar ek herhaal. Daar is geen ander voertuig wat kan doen wat ʼn Ford Ranger Raptor kan doen nie. Dit is duur, ja – maar vir diegene wat dit kan bekostig en vir wat ʼn mens met hom kan aanvang, is dit ʼn winskoop. Met 12 Raptors, 24 jaagduiwels, honderde kilometer se grondpad  en nie een enkele voorval behalwe een pap wiel nie – fantasties!

Die Raptor-reeks lyk só:

Ford Ranger Raptor 2.0Bi-Turbo 4×4R920 300
Ford Ranger Raptor 2.0Bi-Turbo 4×4 Special EditionR965 300

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km‑waarborg en 6 jaar/90 000 km‑diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VaalDonkie ·

Is reg. Ek sal hom vat as jy hom vir my gee. Moet net nie vir my vra om self daai aardige bedraggie te betaal nie.

MakersMark ·

R 1 m vir ‘n 2 liter, 4 silinder Ford ? Must be joking.

VaalDonkie ·

Hy doen darem dieselfde as ‘n V6. Maaaaar, ja. As die prys aan R1m begin raak, wil ek 8 silinders he. Net omdat.

Anoniem ·

Stem saam, dis 1 ding om ‘n bakkie op ‘n toetsrit te bestuur, maar iets heel anders na ‘n paar honderd duisend kiliometers op die klok en ‘n rit deur Botswana of Richtersveld. Hopeloos te duur vir ‘n onbeproefde ryding.

AW ·

Kan maar net my kop skud, Hoe op aarde bekostig n mens so n voertuig ???

Grens ·

Ek sal 1M betaal vir ‘n voertiug, maar verseker nie vir ‘n stuk Ford nie.

Harley Davidson ·

As ‘n Hillux ou gaan ek sê die ford is en lyk fantasties maar die prys ,’n miljoen rand vir ‘n lorrie is bietjie boy vuurmaakplek.

VaalDonkie ·

Ten minste as mens ‘n woonstel of ‘n kleinerig huis vir R1m aanskaf, kan jy hom oor 20 jaar afbetaal. Ek weet nie of Ford dit sal toelaat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.