Groot planne vir Toyota Gazoo Racing  

Toe ek ʼn jong lat was, het Toyota oral gejaag. Hulle het die wêreld se bane aan die brand gery met Corolla’s… en in die tydren-afdeling was dit altyd die Celica.

ʼn Tydjie gelede het Toyota se president, Akio Toyoda, gesê dat daar nie meer vervelige voertuie uit die Toyota-stal mag kom nie. Dit kom nadat ʼn motorwedren plaasgevind het waarby al die vervaardigers betrokke was en Toyoda in ʼn stokou Toyota Supra moes deelneem, want sy maatskappy het toe nie ʼn sportmotor vervaardig nie. Toe sluit hy die ooreenkoms met BMW, en die nuwe Supra is gebore.

Wêreldwyd het Toyota sy strategie vernuwe en al die onderskeie afdelings is saamgevat onder Gazoo Racing. Toyota Gazoo Racing is betrokke by uithourenne, tydrenne, kringrenne, Dakar en Nascar. Plaaslik ding Toyota in GTC (Global Touring Cars), die SA Nasionale tydrenkampioenskap en die SA Veldrenkampioenskap mee. In 2021 sal Toyota Gazoo Racing Suid-Afrika sy splinternuwe Starlet-tydrenmotor bekendstel wat die uiters suksesvolle Etios vervang. Die Starlet word deur Guy Botteril bestuur met navigator Simon Vacy-Lyle.

Michael van Rooyen en Mandla Mdakane is die twee renjaers wat die Corolla in die kringrenne (GTC) sal jaag en Giniel de Villiers en Henk Lategan is die twee Hilux-manne wat in die plaaslike veldrenkampioenskap en Dakar sal meeding. Brett Cummings en Dennis Murphy is hulle navigators. Shaheer Variawa sal ook met ʼn Hilux deelneem.

Hoekom is dít belangrik? Akio Toyoda noem dit Waku Doki. Dit is opwinding in Japannees. Al dié gejaag kom terug na ʼn reeks uiters opwindende voertuie wat in die nabye toekoms uit die Toyota-stal onder die GR-handelsmerk bekendgestel sal word.

Ons het reeds die GR Supra… volgende is die GR Yaris. Ek self kan nie wag nie. Daarná is dit die nuwe GR 86 en moontlik sal ʼn Corolla ook op die lys verskyn. Dan is daar ook die bespiegeling dat die volgende GR Hilux die ‘Cruiser 300 se V6 turbodieselenjin gaan kry. Ek hou duim vas.

Intussen is Toyota se eie gevorderde bestuurskool opgeknap. Daar is klomp verskeie kursusse om van te kies en te keur. Hulle bied elke tweede naweek kursusse aan en doen meeste van hul opleiding by Gerotek, net wes van Pretoria. Vir meer inligting oor pryse en kursusse stuurʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Shady ·

Ek kan nie wag vir die GR Yaris nie. Die ding gaan n paar warm vuurwaens op hulle neuse laat kyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.