GTI in Hyundai se visier

Hyundai se Kona N

Sonder dat ʼn enorme getal mense daarvan bewus is, steek Hyundai al vir ʼn geruime ruk tydrenbane oor die hele wêreld aan die brand met sy i20 WRC-renmotor. Dit is nie noodwendig belangrik nie, maar die feit dat van daardie tegnologie en vaardighede stelselmatig in sy passasiersvoertuie gebruik word, is wel. Ons het al tyd met ʼn Hyundai i30N deurgebring en Hyundai het pas sy opgeknapte i30N en Kona N aan die media gewys.

Die resep vir ʼn vurige luikrug klink dalk eenvoudig – vat ʼn luikrug, druk ʼn paar rissies onder sy kap en voilà. Nee, dis nie só maklik nie, veral as mens dink dat Magnum se Ferrari heelwat minder krag gehad het as die i30 en Kona N’e. Die vering moet reg wees, die onderstel moet reg wees, die remme moet puik wees, die ratkas moet reg wees – en só hou die lys aan.

Hyundai se i30N

Volkswagen se Golf GTI is waarskynlik ʼn segmentleier hier en die i30N het hom stip in sy visier.

Die Hyundai Kona is ietwat meer van ʼn kruismodel, en die i30N ʼn C-segment-luikrug. Waar die Kona se ontwerp jonger en meer uitspattig is, hou ek eerder van die i30 se meer konserwatiewe benadering. Albei voertuie bied sitplek vir vyf. Die i30 se kattebak is heelwat beter as die Kona s’n.

Die bougehalte in albei voertuie se binneruimtes is goed, en die materiale in die kol vir dié tipe voertuig. Die ergonomie voel presies soos dít waarvoor die Koreane gewild is. Waar die Kona se sitplekke met leer oorgetrek is, geniet die i30 suède en leer. Ek verkies die i30N se sitplekke.

Dan kom ons by die lekker gedeelte. Albei modelle word aangedryf deur ʼn fantastiese 2.0-viersilinderturbopetrolenjin. Die 2.0T-GDI bied 206 kW en 392 Nm. Albei maak gebruik van ʼn 8-spoed-dubbelkoppelaar- outomatiese ratkas. Die i30N snel tot 100 km/h in 5,4 sekondes en die Kona in 5,5 sekondes weens sy effens swaarder gewig.

Hyundai se Kona N

ʼn Gedeelte van ons bekendstellingsroete was óm die renbaan by Killarney in Kaapstad in die gietende reën. Aanvanklik was dit maar katvoet, maar toe ons eers gevoel het waar die tekkies mooi vastrap, kon ons bietjie meer vet gee. Om die baan en deur die bergpasse in die Wes-Kaap kan mens voel hoe lekker die beperkte glipewenaar werk. Aan die einde van die baanrondtes het die instrukteurs egter ons breine herbedraad rakende wat ʼn klein luikrug op ʼn nat baan kan aanvang. Dis fantasties om ʼn passasier te wees wanneer Deon Joubert die leisels in die hande neem.

Op die pad toer albei voertuie goed. Die bande was effens hard gepomp vir diens op die baan, en dit het geringe vibrasie deur die stuur veroorsaak, maar indien die banddruk reg is, sal dit nie ʼn probleem wees nie. Albei voertuie het verskeie rymodusse tussen eco, normaal, sport en N. N is meer vir baanwerk of waar die mens agter die stuur werklik weet waarmee hy besig is.

Hyundai se i30N

Albei voertuie het ʼn sterk spesifikasievlak van klimaatbeheer tot verhitte sitplekke en stuurwiel. Die Kona het digitale instrumente en albei het ʼn lekker raakskerm vir die inligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied.

Aan die veiligheidskant bied die i30N sewe lugsakke en die Kona vier. Verder is die gewone toerusting soos sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap en stabiliteitsbeheer alles daar. Daar is aktiewe stelsels ook soos aanpasbare spoedkontrole, blindekolwaarskuwing en noodremhulp.

Ons sal weer tyd met albei voertuie op bekende paaie deurbring, en ook wanneer die paaie nie sopnat is nie. Ek sal egter beaam wat Hyundai sê. Hulle voel, waar die mededingers se spesifikasievlak gelyk gebring word, is daar nie beter waarde vir geld in die segment nie. Tussen die twee wen die i30N my hart.

Die twee lyk só:

Hyundai Kona N 2.0 DCT206 kW/392 NmR749 900
Hyundai Kona N 2.0 DCT206 kW/392 NmR749 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg, 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg en 5 jaar/75 000 km-diensplan.

Ons sal weer tyd met albei deurbring en hulle dán teen hul mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.