GWM se P-reeks blaf saam met die groot honde

Dié artikel is ʼn bitter moeilike een vir my om te skryf – eenvoudig omdat ek vir die GWM P-reeks krediet wil gee waar hy dit verdien, maar ook sy geringe foutjies uitwys. Ek het al dikwels hier geskryf dat Suid-Afrika nie China se skrootwerf is nie. Daarbenewens kan ʼn mens nie nét ʼn ryding vol tierlantyntjies pomp om hom beter te maak nie – die voertuig moet eers onder die vel reg wees.

Ek sal hier sê die ontwerp van die GWM P-reeks se buitekant en binneruim is wat die Mercedes-Benz X-klas van die begin af moes gewees het. Die bakkie is regtig mooi, en die binneruim is werklik groot, ruim en gemaklik. Die paneelbord en sitplekke voel stewig en die materiale en bekleedsel is van ʼn puik gehalte.

Die GWM P-reeks word aangedryf deur ʼn 2.0-viersilinderturbodiesel wat 120 kW en 400 Nm bied. Die enjin gaan gepaard met ʼn puik ZF 8-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas. Dié spesifieke model is 4×4 met laestrek en ʼn ewenaarslot. GWM beweer ʼn 9,4 l/100 km gemiddelde brandstofverbruik, maar ek het tydens my week met die bakkie 8,9 l/100 km gehandhaaf – bitter goed vir dié soort dubbelkajuit.

Aan die veiligheidskant bied dié LT-weergawe alles. Daar is ses lugsakke, vastrap- en stabiliteitsbeheer, baanhulp, blindekolwaarskuwing, botsingwaarskuwing, noodremhulp – die lot. Op die pad toer die P-reeks met ʼn billike ritgehalte en in-die-kol padhouvermoë. Laai iets ligs op die bak agter, dan voel hy sommer dadelik rustiger.

Is die GWM dan perfek? Nee. Dit is egter die beste Chinese aanbod wat ek al in my lewe teëgekom het. Dié bakkie bied dieselfde as ʼn Ford Ranger Wildtrak en Toyota Hilux Legend, teen R250 000 minder. Já, ʼn mens kan nie nou al sê hoe die betroubaarheid gaan wees nie, én dan is daar die vraag van waardevermindering – iets waarteen die Toyota amper immuun is.

Daar is vyf klein goggatjies. Eerstens, die veiligheidstelsels bied baanhulp. Dit is outomaties aan elke keer dat jy die bakkie aansluit. Indien dit aan is, kan jy nie deur jou odometer blaai nie – jy moet eers die baanhulp afskakel. Tweedens is daar alarmpies vir ʼn vale. Indien jy jou rigtingwyser aanskakel en daar is ʼn voertuig in jou blindekol, dan gil hy – saam met die liggie wat skyn om vir jou te wys daar is iemand. As jy te naby aan die kar voor jou in die verkeer kom, dan raak hy ook angstig.

Derdens is óf die agterste ewenaar, die dryfas óf die agterste wiele nie lekker nie. Daar is ʼn geringe vibrasie teen 130 km/h op ʼn snelweg – nie wielbalansering of -sporing nie, meer soos ʼn wiellaer-vibrasie. Die ander rede hoekom ek sê dit is die ewenaar: As jy op ʼn afdraand jou voet van die versneller afhaal, dan sing die ewenaar … regtig saggies, maar hy’s daar.

Die vierde een is die programmering van die versneller. Dit is heeltemal te sensitief. ʼn Mens kry 100% van die versneller in omtrent 20% van die pedaal … so, rustig wegtrek, word ʼn kuns. Ek dink daar is ʼn klein bietjie turbotraagheid wat die ingenieurs met versnellerkalibrasie wou hokslaan, maar toe juis vererger het. Hulle moes dit maar eerder gelos het. Hier op die platorand is ons gewoond aan ʼn klein bietjie turbotraagheid.

Laastens, ʼn klein bekommernis is egter die ietwat lae sleepkapasiteit van 2 250 kg. Al die mededingers kan meer as 3 000 kg sleep.

Ek wil die artikel op ʼn hoë noot afsluit, want ek is werklik beïndruk met die GWM. Die klein foefies wat ek hier bó noem, sal hulle vinnig uitstryk. Aan die ander kant het die P-reeks een van die oulikste uitvindsels wat ek al op ʼn bakkie gesien het. Binne-in die klap is ʼn trappie wat kan uitvou sodat ʼn mens grasieus op die bak kan klim sonder om oud en oorgewig te lyk. Die klap het ook twee skokbrekers op. As jy hom dus oopmaak, kan jy hom los en hy val nie met ʼn reuseslag oop nie. Slim.

Die kajuit is voorwaar bitter luuks … verhitte sitplekke, digitale instrumente en ʼn lekker groot raakskerm. Alles dra by tot ʼn puik ervaring. Ek’t nooit gedink ek sal hartseer wees om te sien hoe ʼn Chinese voertuig moet teruggaan nie. Hier word nou saam met die groot honde geblaf.

Die reeks lyk só:

GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit SXR369 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit DLXR389 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit SX outoR404 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit SX 4×4R414 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit DLX outoR424 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit DLX 4×4R434 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit LSR434 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit SX 4×4 outoR449 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit DLX 4×4 outoR469 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit LS 4×4R479 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit LTR499 900
GWM P-reeks 2.0TD dubbelkajuit LT 4×4R544 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en -diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Nissan Navara 2.3D dubbelkajuit 4×4 LE outo140 kW/ 450 Nm7 l/100 km3 500 kg6 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/90 000 km- diensplan

R707 700
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit 4×4 LX outo130 kW/ 380 Nm7.8 l/100 km3 500 kg5 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R713 900
Volkswagen Amarok 2.0BiTDI dubbelkajuit Highline 4Motion outo132 kW/ 420 Nm8.5 l/100 km3 200 kg3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R777 300
Toyota Hilux 2.8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 Legend outo150 kW/ 500 Nm8 l/100 km3 500 kg3 jaar/100 000 km- waarborg

9-dienste-diensplan

R780 900
Ford Ranger 2.0Bi-Turbo dubbelkajuit 4×4 Wildtrak outo157 kW/ 500 Nm8.1 l/100 km3 500 kg4 jaar/120 00 km- waarborg

6 jaar/90 000 km- diensplan

R797 500

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Klompie jare terug is Hyundai in SA bekend gestel en na heelwat kritiek en teleurstellings het die vervaardiger hom gevestig as ‘n betroubare produk. GWM het nog altyd my aandag getrek en ek wou al met twee geleenthede van hulle koop maar in albei gevalle na ‘n toetsrut het ek daarteen besluit. Onlangs ry ons in Nelsrpruit en hier tussen die verkeer maak die GWM P reeks homself bekend, sjoe wat ‘n skouspel. Hierdie is ‘n groot stuk yster, indrukwekkende voorkoms wat jou dadelik laat dink, pasop Hilux, Ranger en Amarok, hier is ‘n buiteperd. Lekker ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.