Hart van ʼn leeu

Party klein karretjies is presies net dit: ʼn klein, ongemaklike ryding met heeltemal té min krag en geen karakter nie. Ons het onlangs ʼn klomp klein buksies met mekaar vergelyk op Perdekrag. Kyk gerus daar hoe die Picanto die ander mededingers uitstof.

Dit was egter ʼn Kia Picanto 1.0 Start. Hy kos R189 995. Vir R50 000 meer kan jy dié pragtige Kia Picanto 1.2 X-Line kry. Die X-Line is die reeksleier. Hy het ʼn baie mooi versieringspakket, ʼn groter 1.2-enjin met vier silinders in plaas van drie, elektriese vensters agter én die beter klankstelsel wat Apple Carplay of Android Auto bied, outomatiese ligte, 15”-sierwiele, misligte, ʼn truratkamera en op ons toetsmotor die opsionele sondak.

Die R50 000 is nie nét vir die speelgoed nie. Met die eerste oogopslag lyk die X-Line geensins soos ʼn begrotingsbuksie nie. Dis ʼn mooi, stylvolle klein luikrug. Tweedens, as ʼn mens die binneruim betree, voel dit egter soos ʼn luukser motor met baie goeie bougehalte.

Die feit dat Kia, Hyundai en Genesis al vir jare en jare JD Power & Associates se aanvanklike gehaltestudie wen, spreek boekdele. Die kompetisie kyk na kopers van elke model, en vergelyk enige foute in die eerste jaar van eienaarskap. Dit sê dan dat Kia, Hyundai en Genesis meeste van die tyd perfek reg sonder enige foefies uit die fabriek uitrol.

Die verskil tussen die Start se 1.0-driesilinder en die X-Line se 1.2-viersilinder is groter as wat ʼn mens verwag. Die Start is heel goed, maar die 1.2 voel baie lekkerder op ʼn snelweg en die oop pad. Daar is ook baie minder vibrasie van die enjin. Die 1.0 en 1.2 geniet die selfde gemiddelde brandstofverbruik, die 1.2 is egter 15 km/h vinniger op topspoed teen 170 km/h.

Dit is egter op die pad waar die X-Line uitblink. Behalwe vir die kunsleer, wat ek eerder sou ruil vir gewone bekleedsel, en ʼn kleinerige kattebak, staan die Picanto vir niks terug nie. Dit is mooi, ry lekker sag en voel luuks – selfs vir ʼn piepklein tjor. Aan die veiligheidskant het die X-Line twee lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding – heel goed vir dié segment.

Indien jy in die mark is vir ʼn klein motortjie sal ek beslis die Picanto aanbeveel. Gaan toetsbestuur die Picanto, en koop die beste Picanto wat jy kan bekostig – al is dit die 1.0 Start.

Die reeks lyk só:

Kia Picanto 1.0 Start49 kW/ 95 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR189 995
Kia Picanto 1.0 Start outo49 kW/ 95 Nm5,3 ℓ/ 100 kmR203 995
Kia Picanto 1.0 Street49 kW/ 95 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR203 995
Kia Picanto 1.0 Runner paneelwa49 kW/ 95 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR209 995
Kia Picanto 1.2 Street61 kW/ 122 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR212 995
Kia Picanto 1.0 Style49 kW/ 95 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR213 995
Kia Picanto 1.0 Street outo49 kW/ 95 Nm5,3 ℓ/ 100 kmR217 995
Kia Picanto 1.2 Style61 kW/ 122 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR222 995
Kia Picanto 1.2 Street outo61 kW/ 122 Nm5,9 ℓ/ 100 kmR226 995
Kia Picanto 1.0 Style outo49 kW/ 95 Nm5,3 ℓ/ 100 kmR227 995
Kia Picanto 1.2 Style outo61 kW/ 122 Nm5,9 ℓ/ 100 kmR236 995
Kia Picanto 1.2 X-Line61 kW/ 122 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR239 995
Kia Picanto 1.2 X-Line outo61 kW/ 122 Nm5,9 ℓ/ 100 kmR253 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ onbeperkte km waarborg en 2 jaar/ 30 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Swift 1.2 GLX61 kW/ 113 Nm4,9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

2 jaar/ 30 000 km diensplan

R218 900
Volkswagen Polo Vivo 1.4 Mswenko63 kW/ 132 Nm5,9 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

Geen diensplan

R247 700
Fiat 500 TwinAir Connect63 kW/ 145 Nm4,7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

Geen diensplan

R260 900
Citroën C3 1.2 Feel60 kW/ 118 Nm5,7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

R269 900
Ford Figo Freestyle 1.5 Titanium91 kW/ 150 Nm7,5 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R274 600

Tussen dié mededingers is die Swift ʼn ware winskoop, en net só oulik soos die Picanto, net met ʼn beter kattebak. Toetsbestuur wel almal, een gaan jou hart steel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.