Haval se dryfstelsel van die toekoms

Terwyl elke vervaardiger en sy maat tans in ʼn wedloop is na die wenstreep in die nuwe energie voertuig- resies, is dit moontlik nie die nommerpas oplossing vir ʼn Suid-Afrikaanse koper nie. Dit is byna 2 000 km vanaf Beitbrug in die noorde tot Kaappunt in die suide. Met yl gesaaide laai-infrastruktuur langs die pad het Suid-Afrika ʼn beter oplossing nodig. Hibriede voertuie.

Suid-Afrikaners is die afgelope paar jaar bederf met enorme verbeterings uit Haval se stal en naas die Jolion is die H6 die volgende gewildste voertuig. Die gewone binnebrandmodelle gebruik ʼn 2.0 viersilinderturbopetrolenjin, maar die H6 HEV hibriede-model loop met ʼn 1.5 viersilinderturbopetrolenjin en elektriese motors.

Die totale dryfstelsel bied ʼn fantastiese 179 kW en 530 Nm wat die H6 na 100 km/h in ʼn ratse 8,5 sekondes kan slinger – maar dis eerder die 5,2 ℓ/100 km-brandstofverbruik wat op die gekombineerde siklus behaal kan word wat die oë laat rek.

Nie nét dra die H6 ʼn mooi pakket nie, maar onder die vel sit ʼn sterk veiligheidspesifikasievlak – sewe lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer is almal aan die passiewe kant. Die H6 HEV spog ook met ʼn sterk aktiewe veiligheidsuite met funksies soos baandwaalwaarskuwing, blindekolwaarskuwing en botsingwaarskuwing mét noodremhulp. Slim funksies soos kruisverkeerwaarskuwing en ʼn banddrukmonitor rond die pakket mooi af – werklik indrukwekkend.

Een van die ander slim funksies wat die H6 bied is selfparkering – ʼn funksie wat Haval Reverse Memory Assistance noem. Die voertuig sal jou ook waarsku indien jy jou deur wil oopmaak en daar ʼn voertuig, motorfiets of fietsryer op pad is wat moontlik teen die deur kan bots.

Waar die H6 HEV ʼn mens werklik betower is op die pad. Die rit is gemaklik, en die magdom funksies wat die H6 bied is indrukwekkend. Die algehele pakket van mooi stilering, ʼn luukse binneruim, slim tegnologie én ʼn moderne, hibriede dryfstelsel dra alles by tot ʼn indrukwekkende produk. Teen die prys wonder mens hoekom jy enigiets anders sou koop.

Die reeks lyk só:

Haval H6 2.0T Premium 7DCT150 kW/320 Nm7,4 ℓ/100 kmR479 950
Haval H6 2.0T Luxury 7DCT150 kW/320 Nm7,4 ℓ/100 kmR518 950
Haval H6 2.0T Luxury 7DCT 4WD150 kW/320 Nm8,3 ℓ/100 kmR549 950
Haval H6 2.0T Super Luxury 7DCT 4WD150 kW/320 Nm8,3 ℓ/100 kmR589 950
Haval H6 GT 2.0T Super Luxury 7DCT 4WD155 kW/325 Nm8,4 ℓ/100 kmR629 950
Haval H6 1.5T Hybrid Ultra Luxury179 kW/530 Nm5,2 ℓ/100 kmR669 950

Die H6 HEV word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg en ʼn 8 jaar/150 000 km-batterywaarborg sowel as ʼn 5 jaar/60 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.