Die Mazda 2 is vir my ’n lekker buksie. My gunsteling in die reeks was die 1.5-diesel Hazumi. Ongelukkig is die dieselenjin uit die reeks verwyder; die Hazumi kry nou ʼn atmosferiese 1.5-viersilinderpetrolenjin.
Die Mazda 2 se ontwerp is netjies en skoon, dog Japannees. Die vroeë Kodo-ontwerp is steeds netjies, maar met voertuie soos die Mazda 3 begin die 2 ʼn bietjie oudmodies lyk.
Die binneruim is ergonomies uitgelê, en met ʼn fantastiese spesifikasievlak. Daar is klimaat- en spoedbeheer, ʼn raakskerminligtingstelsel met CarPlay en Android Auto, ʼn sogenaamde “heads-up display” (HUD) en leerbekleedsel. Dit is by die leerbekleedsel in dié spesifieke model waar hulle my verloor. Die tweekleurige leerbekleedsel en die kwaliteit daarvan voel vir my nie van die gehalte wat dit behoort te wees nie en is beslis nie so mooi soos die sitplekke wat altyd in die Hazumi was wat leer en Alcantara was nie.
Die enjin is die tweede teleurstelling in die Hazumi. Die diesel was heel sterk, ekonomies en stil. Die 1.5-viersilinder in dié weergawe bied dalk 85 kW en 148 Nm, maar hy is beslis nie stil nie. Die enjin gaan gepaard met Mazda se 6-spoed-ratkas wat ’n mengsel is tussen ʼn wringkragomsitter-outo en ʼn palwisseltransmissie. Van 0-100 km neem ʼn billike 10,4 sekondes en die Mazda 2 sal aanhou draf tot 184 km/h – heel goed. Mazda maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6 ℓ/100 km. Ek dink dit is heel moontlik op die oop pad, maar beslis nie in die dorp nie.
Op die pad voel die Mazda 2 heel goed. Vering is nie té hard nie, en soepel genoeg sonder enige onaangename bakrol. Die bestuursposisie sit vir my baie lekker. Die Mazda spog met ses lugsakke, ABS, EBD en vastrapbeheer.
Dit is maklik om die Mazda 2 1.5 Hazumi op te som. Dit het ʼn fantastiese diensplan en waarborg vir diegene wat verskriklik baie ry, soos verkoopsverteenwoordigers. Op die oop pad ry hy lekker, maar die enjin dreun vir my effe te veel vir ’n motortjie wat nie ’n sportmotor is nie. Die sitplekke sou ek ook verkies met gewone lapbekleedsel. Teen sy Japannese mededingers raak hy duur, en daar is ander luikrûe wat vir my meer opwindend en beter waarde vir geld bied.
Die reeks lyk só:
Mazda 2 1.5 Active handrat | R261 900 |
Mazda 2 1.5 Dynamic handrat | R286 000 |
Mazda 2 1.5 Dynamic outo | R302 300 |
Mazda 2 1.5 Individual handrat | R310 700 |
Mazda 2 1.5 Individual outo | R326 900 |
Mazda 2 1.5 Hazumi outo | R351 100 |
Die reeks word gedek deur ‘n 3 jaar/onbeperkte km-waarborg én diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Toyota Yaris 1.5 Xs outo | 79 kW/140 Nm | 5,8 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 3 jaar/45 000 km-diensplan | R308 200 |
Citroën C3 1.2T Shine outo | 81 kW/205 Nm | 6 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg en diensplan | R315 900 |
Hyundai i20 1.4 Fluid outo | 74 kW/133 Nm | 7,5 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg 3 jaar/60 000 km-diensplan | R317 500 |
Honda Jazz 1.5 Elegance outo | 88 kW/145 Nm | 5,8 ℓ/100 km | 5 jaar/200 000 km-waarborg 4 jaar/60 000 km-diensplan | R339 100 |
Kia Rio 1.4 Tec outo | 74 kW/135 Nm | 6,2 ℓ/100 km | 5 jaar/onbeperkte km-waarborg 4 jaar/60 000 km-diensplan | R347 995 |
Volkswagen Polo 1.0TSI Highline outo | 85 kW/200 Nm | 4,8 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km-waarborg 3 jaar/45 000 km-diensplan | R353 400 |
Nissan Micra 84kW Turbo Tekna Plus | 5 ℓ/100 km | 6 jaar/150 000 km-waarborg 3 jaar/90 000 km-diensplan | R361 600 | |
Ford Fiesta 1.0T Titanium outo | 74 kW/170 Nm | 5,2 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 4 jaar/60 000 km-diensplan | R364 300 |
Tussen dié mededingers bied die Citroën C3 fantastiese waarde en ʼn puik diensplan. Sy turbo-enjin is ook puik en sy ontwerp uiters modieus.
Só lyk die Mazda 2 1.5 Hazumi:
Nee wat, oor die R 300 000.00 vir die klein meganiese toestelletjie?