Hero Dash 125 Fi – ʼn Moderne bromponie

(Foto: Brian Cheyne)

Kleinkapasiteitmotorfietse het oor die laaste jaar ongekende groei getoon. Dit is egter oorwegend die afleweringsektor wat die aankope doen en nie Jan Alleman nie. Ons sukkel steeds om in te sien watter besonder praktiese vervoermiddel iets soos die Hero Dash 125 Fi is. Om nie eers te praat van hoe min brandstof hy verbruik nie.

Soos ek in die artikel oor die Hero XPulse 200 berig het, is Hero ’n geweldige sterk maatskappy in Indië. Hierdie land vervaardig selfs sekere KTM‑ en BMW‑modelle; so hulle weet hoe om goeie, betroubare motorfietse te bou. Met die XPulse wat nou al mooi in Suid-Afrika gevestig is, het Hero besluit om die Dash plaaslik bekend te stel. Hero word onder andere deur die Fire-it-up‑groep versprei en dit is by hulle tak in Lynnwood waar ek die blou Dash gaan haal het.

My eerste indruk was dat dit maar net nog ’n bromponie is, maar tog het die Hero klein detail wat nie net praktiese waarde het nie, maar ook die veiligheid van jou bagasie beskerm wanneer jy brandstof ingooi. Eerstens het die fiets pakplek onder die saal, maar anders as ander fietse, het die Hero ’n aparte klappie waar die petrolprop wegkruip. Dit beteken dat jy nie die saal hoef op te lig en moontlik vir ’n verbyganger die kans gee om te sien wat jy saamry nie. Die opening onder die saal is nie baie groot nie, maar ek is seker jy sal ’n vinnige melk-en-brood‑aankoop daar kan bêre. Daar is selfs ’n liggie in die pakplek sodat jy nie in die donker hoef rond te vroetel nie. Omdat die enjin warm word en juis daardeur die pakplek warm maak, bied Hero jou nie net een nie, maar twee hake tussen jou bene om jou kruideniersware aan op te hang. Een klein minuspunt is die feit dat die motorfiets nie afskakel as die systaander uit is nie. Vir hierdie prysklas, is die afwerking redelik goed.

Ek is nie een van die kortste mense nie, maar die Dash bied meer as genoeg plek vir my om my sit te kry. My gewig tel net teen my as die klein enjintjie probeer om vordering te maak. Alhoewel hy brandstofinspuiting het, is agt perdekrag nie juis aardskuddend nie. Dit is beslis nie ’n fiets waarmee jy jou op die snelweg begewe nie. Dit is egter nie waarvoor die Dash bedoel is nie. Dit is bedoel om vinnig winkels toe gaan vir iets kleins, of vir skoolkinders om by hul aktiwiteite uit te kom. Ek moet sê, vir skoolkinders sal die Dash ideaal wees. Hero kan ook ’n pasgemaakte raam agterop verskaf, sou jy die fiets vir aflewerings wil aanwend.

Hero maak daarop aanspraak dat die Dash ’n brandstofverbruik van so min as 55 km/ℓ kan behaal, maar dit klink ʼn bietjie optimisties. Ek dink jy moet ’n baie ligte gewig gebruik om dit te kan bereik.

Die fiets is in twee kleure beskikbaar – blou en rooi – en jy kan selfs ’n tweejaardiensplan bykry. Vir gemoedsrus bied Hero ’n vyf jaar‑ of 100 000 km‑waarborg en vir slegs R25 999, is dit ’n winskoop.

(Foto: Brian Cheyne)

Vir meer inligting, besoek: https://www.fireitup.co.za/buy-a-motorcycle/?make-hero=1&view=26429489

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.