Hero XPulse 200 – dié buksie bied goeie waarde vir geld

(Foto: Brian Cheyne)

As ek nou in die mark vir ’n klein, bekostigbare motorfiets was, sou ek nie weet waar om te begin nie. Daar is net te veel opsies! Die nuutste toevoeging tot hierdie klas van fietse is die nuwe Hero XPulse 200. Hierdie fietse word deur Hero SA versprei. Die Fire-it-up!-groep het pas ‘n nuwe tak in Lynwood geopen en tersefdertyd Hero, Lynnwood gevestig. Ek het daar gaan inloer en kans gekry om tyd met die XPulse 200 deur te bring.

Hero is nie sommer net nog ’n motorfietsvervaardiger nie. Hulle het eers bekend gestaan as Hero Honda en het in Indië fietse vervaardig met Honda se tegnologie en navorsing. Hierdie samewerking is in 2011 beëindig, maar dit het die maatskappy nie van stryk gebring nie. Inteendeel, hulle het net verder gegroei. Hulle grootste mark is natuurlik Indië waar hulle markaandeel digby 50% is. Daar word motorfietse ingespan as alledaagse gebruiksitems en nie naweekspeelgoed soos hier in Suid-Afrika nie. Hero se gewildheid in Indië dui ook sterk op die betroubaarheid van hulle fietse.

As ʼn mens kyk na die reeks fietse wat Hero tans in Suid-Afrika beskikbaar het, is dit duidelik dat hulle mik vir die afleweringsmark. Met ’n groot toename in aanlyn verkope is hulle in die kol met hul fietse, maar die XPulse 200 verdien meer as om net as afleweringsfiets gebruik te word. Hierdie fietsie lyk reg vir ’n lang grondpad tot by ’n lekker storie.

(Foto: Brian Cheyne)

Die XPulse lyk sommer soos ’n stofpadfiets moet lyk. Hy het ʼn 21 duim-voorwiel met ʼn hoë voorste modderskerm en die uitlaatpyp wat hoog langs die saal uitkom. Dan is daar ook die staal pensplaat en speekwiele. Die brandstoftenk hou 13 liter en behoort vir ’n goeie reikafstand te sorg. Die hele fiets is ordentlik aanmekaar gesit en dit lyk op die oog af of die fiets die slegste sinkplaatpad sal kan oorleef.

Die enjin is die eenvoud vanself. Hy beskik oor brandstofinspuiting en klink verbasend glad. Die enjin lewer ongeveer 18 perdekrag, maar soos met die meeste kleinkapasiteitfietse uit Indië het jy net vyf ratte tot jou beskikking. Dit beteken dat jy wel 120 km/h uit die fiets kan kry, maar dan voel dit asof die enjintjie baie hard werk. Hy is op sy gemaklikste op so 100 km/h. Op ’n grondpad is die fiets ewe tuis. Daardie groot voorwiel help baie en die vering is nie te sag nie. Die agterste skokbreker is verstelbaar en ek het regtig die fiets geniet weg van die teer.

Die verbasendste eienskap van hierdie fiets is egter op die instrumentpaneel. Deur middel van Hero-motorfietse se toepassing op jou foon het jy navigasie reg voor jou op die klein instrumentpaneel. Dit werk wonderlik.

As jy nog wonder of jy wel ’n motorfiets moet kry, of as groter fietse te intimiderend is, dan maak hierdie klein fietsies baie sin. Teen slegs R41 999 is die prys ook nie verregaande nie. Jy kan jou voete vind op hulle en dan mettertyd opgradeer na iets groters. Dan kan jy jou Hero hou om sommer net naweke te gaan speel .

Loer gerus hier op Fire-it-up! se webtuiste vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.