Hibriede RAV4 sal pyn by die petrolpomp verlig  

(Foto: Verskaf)

ʼn Avontuurlustige voorkoms, onmiddellike kraglewering en lig op brandstof.

Dit is hoe ek die hibriede modelle van Toyota se uiters gewilde RAV4 sal opsom. Toyota het in die afgelope drie maande ʼn totaal van 455 RAV4’s van die hand gesit waarvan 39,8% (181) hibriede modelle was.

Die RAV4 is seker een van die karre wat ʼn mens die meeste op die pad sien – wel veral in die ooste van Pretoria waar ek bly (daar staan altyd ʼn paar in die parkeerarea by die kleuterskool). En dit maak heeltemal sin… die RAV4 is regtig ʼn lekker gesinsmotor met al die nodige ruimte en luukshede.

(Foto: Verskaf)

Ons het die 2.5-GX-R-hibried E-Four onder hande gehad. Met die intrapslag was dit die oranje aksente wat eerste my aandag getrek het. Ek kon nie dadelik besluit of ek daarvan hou nie, maar met verloop van tyd is ek oortuig dat dit tot die avontuurlustige voorkoms en persoonlikheid van die RAV4 bydra.

Ons motorjoernalis Brendon Staniforth hou baie van die RAV4 se bestuursposisie. Hy sê dat hy altyd lekker gemaklik agter die stuur kan raak en dat die ergonomie van die kajuit goed is. Hy het ses weke lank tydens die inperkings met ʼn laer spesifikasie GX RAV4-hibried gery en meen dat die RAV4 dié C-segment-sportnutsvoertuig is om te koop. Nie nét gegrond op die gemak van die kajuit nie, maar ook die betroubaarheid en sterk herverkoopwaarde wat met die Toyota-handelsmerk gepaardgaan.

Die hibriede modelle verskil nie veel van hul gewone eweknieë nie. Die Toyota-kenteken het ʼn blou skynsel en daar is Hybrid-kentekens. Die onmiddellike kraglewering is egter wat die meeste beïndruk.

(Foto: Verskaf)

Die hele kragbron, petrol saam met die elektriese motors, bied 163 kW en 221 +e Nm. Die 2.5-petrolenjin bied 131 kW en 221 Nm. Die voorste elektriese motor bied 88 kW en 202 Nm, en die agterste elektriese motor bied 40 kW en 121 Nm. ʼn Mens kan wel nie alles bymekaartel nie, want dit hang af van hoeveel krag daar in die battery gestoor is.

Die krag word deur ʼn CVT- outomatiese ratkas na die wiele gestoot. Nie almal is mal oor ʼn CVT-ratkas nie. Wanneer die RAV4 rustig of suinig gery word, is daar egalige kraglewering en ʼn stil kajuit. Wanneer jy egter voet in die hoek sit, is daar ʼn dreuning wat kenmerkend is aan baie van die tipe ratkaste.

Die groot vraag is natuurlik hoe die brandstofverbruik lyk? Toyota sê jy behoort ʼn puik verbruiksyfer van 4,8 liter te kan handhaaf. Tydens ons tyd met die RAV het die brandstofverbruik gewissel tussen 5 en 6 ℓ/100 km wat uiteraard steeds puik is vir ʼn groot gesinsmotor.

Die RAV4 is toegerus met ʼn magdom luukshede, waaronder verkoelde en verhitte leersitplekke, klimaatbeheer, Apple Carplay en Android Auto, sleutellose toegang, ʼn groot raakskerm, talle USB-sokke, ʼn tru-kamera en parkeersensors. Daar word ook aangedui wanneer die motor in elektriese modus is. Die veiligheidsfunksies sluit talle lugsakke, rembystand, stabiliteitsbeheer en ʼn sleepwa-stabiliseerder in.

Teen R644 100 is die 2.5-GX-R allermins nie “goedkoop” nie, maar is dit ook nie besonder duur vir ʼn gerieflike gesinsmotor nie en is hy kompeterend geprys teen sy mededingers. Die goeie brandstofverbruik ten natuurlik ook in sy guns.

Die reeks lyk só:

Toyota RAV4 2.0 GX-R CVT AWD127 kW/203 Nm6,7 ℓ/100 kmR606 600
Toyota RAV4 2.0 VX CVT127 kW/203 Nm6,5 ℓ/100 kmR617 000
Toyota RAV4 2.5 GX-R CVT Hybrid E-Four163 kW/220 +e Nm4,8 ℓ/100 kmR644 100
Toyota RAV4 2.0 VX outo AWD152 kW/243 Nm7,3 ℓ/100 kmR702 300
Toyota RAV4 2.5 VX CVT Hybrid E-Four163 kW/220 +e Nm4,8 ℓ/100 kmR723 200

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg en sesdienste-diensplan. Hibriede modelle kry ʼn 8 jaar/195 000 km-batterywaarborg by.

Die kompetisie lyk só:

Subaru Forester 2.5i-Sport ES136 kW/ 239 Nm8,3 ℓ/100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 75 000 km omvattende instandhoudingsplan

R611 000
Volkswagen Tiguan 1.4TSI 110kW Life110 kW/ 250 Nm7,7 ℓ/100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R629 600
Hyundai Tucson 2.0D Elite137 kW/ 416 Nm7,4 ℓ/100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R704 900
Honda CR-V 1.5T Executive140 kW/ 240 Nm6,7 ℓ/100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R721 800
Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera140 kW/ 450 Nm5,7 ℓ/100 km3 jaar/ onbeperkte km waarborg en diensplanR742 900

Daar is nie een ander hibride aanbieding in die C-segment tussen die sportnutsvoertuie nie behalwe Toyota se RAV4. Teen R644 000 is die RAV4 ‘n winskoop, hibried – én bied vierwielaandrywing. Ek dink nie hy kan sommer geklop word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.