Hibriede Rav4 skud groenmark reg

Die 2021 Rav4 hybrid sien kans vir dieselfde uitdagings as sy nie-hibriede voorgangers. (Foto: Toyota.com)

Lank voor ander fabrikate het Toyota die groenrewolusie in voertuie op ʼn kommersiële vlak afgeskop toe hy in 1997 die Rav4 EV op ʼn baie beperkte skaal in die VSA, en die hibriede Pruis in dieselfde jaar bekendgestel het. Die eerste Pruis-modelle is in 2005 na Suid-Afrika gestuur.

In daardie dae was dit merendeels die gat in die osoonlaag en Al Gore se The Inconvenient Truth (2006) wat klimaatsbesorgdes aan die praat gehad het. Vandag het klimaatsverandering in ʼn reusekwessie en ʼn politieke twispunt ontaard.

Motorvervaardigers het intussen hul elektries-aangedrewe konsepmodelle begin uitryg en daadwerklik in elektriese en batterytegnologie belê.

Terwyl heelwat Europese lande hulle verbind het om brandstofaangedrewe motors in die afsienbare toekoms uit te faseer en slegs elektriese voertuie op hulle paaie toe te laat, was dit vir baie Suid-Afrikaners nog nie eens beskore om ʼn rit in ʼn elektriese voertuig te ervaar nie.

Sake is egter vinnig aan’t verander. Toyota het onlangs aangekondig dat hy sy Corolla Cross- hibriede voertuig in KwaZulu-Natal begin vervaardig het.

 

Rav4 Hybrid lei ʼn nuwe era in

Suid-Afrikaners suig tans aan die agterspeen as dit kom by die aanbring van laaipunte vir elektriese voertuie en derhalwe is ons mark meer gereed vir hibriede voertuie, wat soos ʼn elektriese voertuig werk, maar ook ʼn enjin het, wat in sekere fabrikate saam met die remme help om die batterye te laai.

Die eerste Rav4’s het in 1996 as ʼn avontuurvoertuig aanvanklik tot jappies en jongmense gespreek wat ʼn branderplank op die dak wou sit en met sy hoë onderstel en groot wiele in die duine kon baljaar. Terselfdertyd kon veral die driedeur-modelle vinnig tussen die stad se verkeer vleg en maklik parkeer.

Mettertyd het die Rav4 groter en duurder geword en in ʼn ma-wa verander. Toyota se volgende (beter) stap was om die Rav4 ook met batterye en elektriese motors toe te rus.

Die lekkerste ding van ʼn hibriede voertuig is wanneer slegs die battery met die wegtrek inskop en die kar tjoepstil begin beweeg. Dan hoor jy slegs hoe die bande op die grond onder jou knars.

Om die ingewikkelde wisselwerking tussen die energiebronne te verstaan, maak die grafiese voorstelling op die raakskerm, dit maklik verstaanbaar. (Foto: Motorpress.co.za)

Dit is die vet gee daarna wat jou laat besef dat jy met iets besonders te doen het – wanneer die enjin, palwisseltransmissie en battery saamwerk om blitsig ʼn gladde en foutlose versnellingskurwe te genereer.

Dit is ook fassinerend om die kragverskuiwing en wisselwerking tussen die enjin, remme, elektriese motors en batterye wat grafies op die raakskerm vertoon word, dop te hou.

As jy daarop uit is om ʼn voertuig aan te skaf om brandstof te bespaar, is ʼn hibriede voertuig soos die Rav4 hybrid, wat met sy remme ook energie kan opwek, deur en deur ʼn stadsvoertuig. Waar ʼn gewone petrolvoertuig uitermatig brandstof verbrand tydens stop en ry, werk die hibride stelsel andersom. Met elke stopslag wek die remme krag op en wanneer jy stadig ry, sal die batterye oorneem.

Dit is veral in die stad, tydens stop en wegtrek, waar die Rav4 hybrid brandstof bespaar. (Foto: Toyota.com)

Toyota het waarlik die kuns bemeester om met rem en wegtrek, teen bulte op en bulte af, die wisselwerking tussen die verskeie bronne se kragopwekking en kragvrystelling te vervolmaak.

Vir die spoedvrate kan die Rav4 Hybrid ʼn allemintige 200 km/h handhaaf.

Die stewige 2,5 ℓ-, A25A-FXS-enjin lewer 131 kW, maar werk saam met die 88 kW- elektriese motor om ʼn algehele stelselverrigting van 160 kW teen 202 Nm te lewer, gegewe dat die batterye volgelaai is.

Die Hybrid gebruik slegs ʼn gemiddeld van 4,7 ℓ per 100 km, met ʼn CO2-uitlaat van 107 g/km, wat merkwaardig vir ʼn vyfsitplek-sportnutsvoertuig is.

 

Luuksheid om van te droom

ʼn Moderne voertuig wat sy sout werd is, bied natuurlik sleutellose toegang en as jy in die kajuit inklim en die deur agter jou toemaak, sê die sagte rubberlaag aan die binnekant van die deurhandvatsels vir jou dat Toyota steeds nuut en prakties dink te midde van ʼn strewe na luuksheid.

Daar is oral pakplek wat slim uiteengesit is en as jy omkyk na die agterste deel van die kajuit, kan jy nie eens sien dat daar twee relatief groot batterye knus onder die agterste sitplekke sit nie. Die ruimte en bagasieruimte agter is net so groot soos in die nie-hibriede modelle.

Die Rav4 hybrid se bagasieruim is net so groot soos die nie-hibriede modelle s’n. (Foto: Toyota.com)

Die tweesoneklimaatbeheer, drie 12 volt-kragsokke en meer as genoeg bekerhouers help ook dat die insittendes tuis voel en lus raak om baie kilometers af te lê.

Op die langpad hou die spoedbeheer die verlangde spoed sonder sukkel. Met ʼn truspieël wat outomaties verduister, ʼn leerafgewerkte stuurwiel wat kan kantel- en teleskopies verstel en al die nodige knoppies op die stuurwiel, sal jy nie regtig lus raak om by jou bestemming uit te kom nie.

Die voor- en agterligte is LED’s, wat natuurlik energie bespaar. Die Rav4 Hybrid spog ook met dagryligte aan die voorkant, reënsensor-ruitveërs, asook verhitte en elektries-beheerde kantspieëls.

Met sy 17 duim-allooisierwiele, ’n volgrootte spaarwiel en ʼn grondvrye hoogte van 190 mm kan jy met ʼn geruste gemoed die Suid-Afrikaanse paaie aandurf.

Die Rav4 hybrid skrik nie vir rowwe, of grondpaaie nie. (Foto: Toyota.com)

Teen 6,2 ℓ per 100 km op die oop pad, is die Hybrid se brandstofverbruik indrukwekkend, as dit met die (amper) 10 ℓ per 100 van die nie-hibriede model vergelyk word. Daarbenewens is die ritgehalte puik en die enjin boet geen krag in vir die min brandstof wat dit gebruik nie.

Op die oog af kom die Rav4 Hybrid lank en plat voor en ek hoop inniglik dat Toyota weer ʼn wulpse, kleiner, korter en “regop” model sal bekendstel. En, so terloops, was dit regtig nodig om die driedeur-modelle stop te sit?!

Die RAV4 GX Hybrid CVT kos R 555 300, wat relatief goedkoop is as jy kyk waar die pryse van elektriese voertuie vandaan kom.

 

Toyota se hibriede aanbieding lyk só:

Toyota Corolla Cross 1,8 XS Hybrid90 kW/142 +e Nm4,3 ℓ/100 kmR413 000
Toyota Corolla 1,8 XS Hybrid90 kW/142 +e Nm3,5 ℓ/100 kmR419 900
Toyota Corolla Cross 1,8 XR Hybrid90 kW/142 +e Nm4,3 ℓ/100 kmR448 300
Toyota Rav4 2,5 GX Hybrid160 kW/221 +e Nm4,7 ℓ/100 kmR555 300

 

Op die oop pad hoef die Rav4 hybrid met sy kragtige 2,5 ℓ enjin nie, vir sy mededingers terug te staan nie. (Foto: Toyota.com)

Die hibridiese reeks word gedek deur ʼn sesdienste-diensplan en driejaar/100 000 km-voertuigwaarborg en ʼn agtjaar/195 000 km-batterywaarborg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.