Hier is turbo koning …

Die mediumgrootte kruismodelsegment bars tans uit sy nate.

Ons het onlangs vyf van die motors onder hande gehad – Honda se HR-V, Opel se Mokka, Volkswagen se T-Roc, Toyota se C-HR en Nissan se Qashqai. Die Honda en die Opel is baie naby aan mekaar geprys – so kom ons vergelyk die twee.

Ontwerp:

Honda HR-V 1.5 ExecutiveOpel Mokka 1.2T GS Line
4/54/5

Albei voertuie het ʼn moderne ontwerp met lekker grondvryhoogte. Die Honda loop 187 mm bó die grond en die Mokka maar 160 mm. Die Opel het ʼn meer waagmoedige ontwerp as die HR-V. Die HR-V se konserwatiewe voorkoms is vir my werklik mooi, maar ek hou nie van die sierrooster nie.

Binneruim:

Honda HR-V 1.5 ExecutiveOpel Mokka 1.2T GS Line
5/54/5

Die binneruim van die Honda voel voorwaar lekker ruim. Já, dit is beslis meer konserwatief, maar voel werklik luuks en ergonomies uitgelê. Dit is ook gepeper met lieflike luukshede. Die Mokka is beslis nie yl gesaai met truuks nie, maar die binneruim voel effens kleiner as met die Honda. Albei se kattebak is so te sê dieselfde grootte met 304 liter op die Honda teenoor 310 liter op die Opel.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Honda HR-V 1.5 ExecutiveOpel Mokka 1.2T GS Line
2/55/5

Dit is ongelukkig hier waar die BR-V enige voordeel verbeur. Die Honda word deur ʼn atmosferiese 1.5-viersilinderpetrolenjin aangedryf. Dit is probleem een. Hier op die platorand verloor daai enjin omtrent 17% van sy krag … die 89 kW en 145 Nm wat hy gehad het om mee te begin. Dan word ʼn CVT-palwisseltransmissie ingespan om die krag aan die wiele te bring. Die resultaat is ʼn dreunerige enjin wat vreeslik pap voel. Waar die oppervlak gelyk of afdraande is, loop hy lieflik stil én lig op brandstof, maar ongelukkig is alle paaie nie afdraande nie.

Die Opel maak gebruik van ʼn turboaangejaagde 1.2-driesilinderpetrolenjin. Hy bied 96 kW en 230 Nm. ʼn Turbo-enjin verloor omtrent 7% hier op die platorand … so die Mokka voel werklik sterk. Turbo-enjins is ook meestal lekker stil, én Opel het ʼn 8-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas ingespan. Die twee verskil hemelsbreed van mekaar, en die Opel is beslis die lekkerder kar om mee te ry.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Honda HR-V 1.5 ExecutiveOpel Mokka 1.2T GS Line
4/53/5

Verbasend, al loop die Honda op ʼn 18″-wiel teenoor die Mokka se 17″ – het hy ʼn beter ritgehalte. Die rit voel minder sportief gestel – en het dus ʼn meer soepel gevoel. Dít, gepaard met die beter grondvryhoogte, gee vir die Honda die voordeel hier. Albei voertuie se padhouvermoë is in die kol, en bied dieselfde enorme veiligheidspesifikasie. Albei bied ses lugsakke, sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrapbeheer en aktiewe stelsels soos botsingwaarskuwing, blindekolwaarskuwing en baanhulp. Albei geniet ook aanpasbare spoedkontrole.

Opsomming:

Honda HR-V 1.5 ExecutiveOpel Mokka 1.2T GS Line
15/2016/20

Dít is ietwat van ʼn verrassing. Ek verkies die Honda in elke segment, maar mens kan nie met daai dryfstelsel saamleef nie. Indien ʼn palwisseltransmissie jou nie pla nie, gaan toetsbestuur steeds die Honda, dis ʼn lieflike voertuig andersins – maar tussen die twee is my geld op die Opel.

Die twee vergelyk só:

Honda HR-V 1.5 ExecutiveOpel Mokka 1.2T GS Line
Enjin1.5 atmosferiese 4-sil1.2 turbo 3-sil
Krag89 kW/145 Nm96 kW/230 Nm
RatkasPalwisseltransmissie8-spoed-outo
0 – 100 km/h12,1 sek9,2 sek
Topspoed187 km/h200 km/h
Brandstofverbruik6 ℓ/100 km6,1 ℓ/100 km
Diensplan & waarborg5 jaar/200 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

3 jaar/120 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

PrysR554 500R539 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.