Hier word motorversamelaars se drome ʼn werklikheid

(Foto: Colin Mileman)

As petrolkop is daar sekere voertuie of handelsmerke wat vir ʼn mens uitstaan. Dit is soos die eerste keer toe jy as kind ʼn Ferrari of Lamborghini gesien het en die hoendervleis teen jou rug opkruip.

Een van daai karre vir my as kind was ʼn Cobra. My pa het altyd gesê dit is een van die vinnigste versnellende sportmotors waarin hy al ooit was. Dit was die gegrom van die pragtige V8’s wat altyd my aandag getrek het.

Ek het al klomp keer in my lewe gedink ek is in die verkeerde era gebore. Dink net hoe dit moes gewees het toe voertuie soos die Mustang, Cobra, Ford GT en dies meer nuut van die produksielyn afgerol het.

(Foto: Colin Mileman)

So is ons laat verlede jaar omtrent bederf. Naby Gqeberha (Port Elizabeth, oftewel PE) in die Oos-Kaap is daar ʼn motorfabriek, Hi-Tech Automotive. Ek het al gehoor van die fabriek, want dis die manne wat die Noble M400 en die GT40-replika, wat Jeremy Clarkson op Top Gear gery het, gebou het. Ons is deur twee Suid-Afrikaanse legendes, Jim Price en Peter Lindenberg, deur die fabriek geneem.

Peter en sy dogter is die eienaars van die Shelby-franchise in Suid-Afrika. Shelby het ʼn paar interessante Mustangs wat rondrits. Carroll Shelby is ʼn naam wat vereer word in die VSA. Hy is ook die man wat ʼn groot rol gespeel het in Ford se prestasie by Le Mans in die sestigerjare.

(Foto: Colin Mileman)

Dié fabriek bou ʼn paar ongelooflik pragtige rygoed soos die Shelby Cobra’s. Ja, dit is ʼn replika, maar só eg aan die oorspronklike kar dat die onderstelnommers op die Shelby-register in die VSA geregistreer word.

Daar is ʼn voertuig wat ek nie goed ken nie – dis ʼn Daytona Coupé. Basies is dit ʼn Cobra met ʼn dak. Ek moet meer navorsing doen oor dié model, maar om te sien hoe alles met die hand by Hi-Tech vervaardig word, is verstommend. Dan kom ons by die kersie op die koek – die Ford GT40. Die voertuie wat in PE vervaardig word, is identiese replikas. Dit is bitter mooi.

(Foto: Colin Mileman)

Daar is egter ʼn ander voertuig wat my aandag meer as enigiets anders getrek het. Dit is ʼn Shelby Cobra Mk1. Dit is ʼn pragmotor met nouer bakwerk. Dit lyk vir my meer akkuraat vir daai era as die Mk2 met sy wyer bakstyl. Hy loop ook nog op ʼn enkel bladveer wat dwars loop vir die agterste vering. Daai mét ʼn enorme volvet V8 sal ʼn mens nogal besig hou in die padhouvermoëspeletjie!

Terwyl Price en Hi-Tech die voertuig kompleet bou, is dit Lindenberg en Shelby wat hier in Suid-Afrika die kliënt se gekose enjin net voor aflewering installeer. Vir die Amerikaanse mark is dit Superformance wat die enjins daar installeer voor die voertuig aan die kliënt afgelewer word.

Soos ʼn mens deur die werkswinkel stap en sien hoe elke vakman trots is op hul skepping, begin ʼn mens besef dat dit nie enige ou werkswinkel is nie, maar ʼn plek waar welaf versamelaars se drome ʼn werklikheid word. Nie nét dit nie, maar ook omdat die meeste onderdele in sulke bitter klein hoeveelhede benodig word dat baie onderdele op die perseel vervaardig word en daarvoor is ʼn bitter goeie werkmag onontbeerlik. Dié manne weet wat hulle doen, al 300 van hulle.

Klik hier om meer te wete te kom oor Shelby óf Superformance.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Dankie dat jul legendes laat voortleef! Ons kan doen met sulke positiewe nuus