Hierdie voertuie het die beste verkoop in September

verkeer vintageAs gevolg van die drie weke-lange staking in die voertuigvervaardigingsbedryf en die gepaardgaande ‘simpatie’-staking in die verwante komponentebedryf, is daar allerweë verwag dat September se verkopesyfers ‘n duidelike afplatting sou toon – vergeleke met September verlede jaar.

Dit was egter nie die geval nie, aangesien voorraadvlakke in die vraag kon voorsien – met die gevolg dat 39 792 nuwe voertuie (passasiersmotors en ligte handelsvoertuie) verlede maand verkoop is. Dit is ‘n geringe (0.8%) verbetering van 303 eenhede teenoor September verlede jaar.

Hierteenoor het ligte handelsvoertuie (minibusse ingesluit) ‘n verkope-afname van 9.6% (1 269 eenhede) gehad en is 12 014 voertuie verkoop.

Groot skade is egter aangerig aan Suid-Afrika se reputasie as gehalte-monteerder van voertuie, en die uitvoerkomponent het dan ook met ‘n skandelike 75.1% gedaal. Hierdie situasie sal waarskynlik daartoe bydra dat multinasionale maatskappye wat hier belê het in die toekoms eerder na stabiele vervaardigingslande soos Indië, Turkye en Indonesië sal kyk. Ons toekoms as ‘n voertuig-uitvoerland is op die spel.

Ten opsigte van individuele vervaardigers het Toyota weer eens die eerste plek onder die Top Tien beklee. Met verkope van 9 453 eenhede – 534 minder as in Augustus – is dit weer eens Hilux wat tot Toyota se redding gekom het. Hierdie gewilde bakkie het 2 739 nuwe eienaars se harte verbly en was ook die algehele topverkoper. Vir Toyota het Corolla/Auris (1 005), Etios (2 358) en RAV (318) goed presteer.

In die tweede plek algeheel het Volkswagen die onderskeiding behaal as die grootste verkoper van passasiersmotors in September (8 321). Uitblinkers vir VW was Polo (2 634), Golf 7 (525) en die intreevlak Polo Vivo met 2 435 verkope.

Die maatskappy se Audi-afdeling het ook heel goed gevaar met veral die A3 (335), A4 (577) en Volkswagen se Tiguan (311) wat uitgeblink het. Trouens, die Volkswagen-groep het algehele verkope met 77 eenhede opgestoot.

Oudergewoonte in die derde plek vind ons die Associated Motor Holdings (AMH) Groep. Hierdie invoerders het altesaam 6 823 eenhede verkoop – hoofsaaklik in sy sogenaamde kleinmotor-kategorie. Geen spesifieke handelsname word vermeld nie, maar die groep het nogtans 111 eenhede minder verkoop as in Augustus.

Die vierde plek word steeds beklee deur Pretoria se Ford Motor Co, danksy 6 752 eenhede. Dis ‘n skitterende verbetering van 859 eenhede teenoor Augustus se syfers en kan hoofsaaklik toegeskryf word aan goeie vertonings deur Ford Ranger (1 741), Figo (1 690), Fiesta (836) en Focus (350).

In die spreekwoordelike een treetjie agter Ford is steeds Port Elizabeth se General Motors SA. Dié maatskappy, met 4 838 verkope, het teleurgestel deurdat sy syfers met 862 eenhede teenoor dié vir Augustus gedaal het. Vir GM het die Chev Spark (718), Trailblazer (283), Chev Utility (1 329) en Isuzu KB (1 049) mooi presteer.

Steeds in sy tradisionele sesde plek het Nissan stabiliteit getoon met verkope van 4 129 eenhede wat verkoop is – teenoor 4 248 die vorige maand. Nissan se ‘sterre’ was oudergewoonte sy Micra (495), Juke (356), Almera (460) en NP300 Hardbody (836), asook NP200 (726) en Qashqai (277).

Soos dit in Augustus die geval was, klou BMW steeds aan sy sewende plek onder die Top Tien – met verkope van 2 189 eenhede (sonder dat hy ‘n bakkie in sy stal het). Dit is ‘n redelike prestasie, aangesien dit slegs 183 minder is as Augustus se verkopesyfers. Ondanks BMW se algehele voorsprong op aartsmededinger Mercedes-Benz, het laasgenoemde laaste gelag deurdat die Mercedes-Benz C-klas (859) steeds gewilder was as BMW se 3-reeks (783). Ander uitblinkers vir BMW was sy 1-reeks (527) en die 5-reeks (227).

Mercedes-Benz blaas steeds vanuit sy agtste plek in BMW se nek met verkope van 2 003 eenhede – hoofsaaklik danksy sy staatmaker C-klas (859), B-klas (235), en E-klas (233). Mercedes-Benz se duur M-klas het ook goed presteer met verkope van 204 eenhede.
Die tweede laaste plek onder die Top Tien behoort weer eens aan Honda nadat Renault – nou weer in die 10e plek – hom verlede maand uitgestof het. Persentasiegewys het Honda waarskynlik die grootste vordering getoon (276 eenhede meer as in Augustus) vir ‘n uitstekende totaal van 1 301 eenhede. Hier was die CR-V (315), Jazz (312) en Brio (327) die presteerders.

Terug in sy tiende plek kan Renault tevrede voel met sy verkope van 1 284 eenhede – net vier minder as in die voorafgaande maand.

Onder die ander vervaardigers is dit veral Chrysler wat goed gevaar het met verkope van 797 eenhede, terwyl Jaguar/Land Rover ook uitgeblink het met 634 verkope – hoofsaaklik danksy Discovery 4 (226), Freelander 2 (114) en F-type (57). Intussen doen gerugte die ronde dat Jaguar so nukkerig was omdat hulle Range Rover Evoque nie vanjaar met die Motor van die Jaar-titel weggestap het nie, dat hulle hul deelname aan die 2014-kompetisie heroorweeg. Praat van suur druiwe.

Intussen sukkel Volvo aan met beskeie verkopesyfers van 290 eenhede.

Onder die kleiner nismark-invoerders is dit weer eens Porsche wat die oog gevang het met totale verkope van 127 eenhede, waaronder Cayenne (75) en Cayman/Boxster (26).
‘n Ander naam wat gerus dopgehou kan word, is Mitsubishi se skitterende nuwe ASX. Goed geprys, met uitstekende bougehalte, bied hierdie nuweling skitterende waarde vir geld – soos weerspieël in sy verkopesyfers van 148 eenhede in September.

En intussen hou die motormark asem op vir die uitwerking van die stakings – of ekonomiese sabotasie, afhangende van jou siening – op Oktober se verkopesyfers. Daar word trouens verwag dat invoerders – dis nou die slim mense wat nie lus is vir sukkel met militante vakbonde nie – uit die huidige situasie voordeel sal trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard ·

Weet enige iemand hoeveel Hilux bakkies is die vorige maand gesteel?

Bernard Hellberg ·

Jammer, Gerhard, selfs die polisie kan nie help nie, Dis net die korttermynversekeringsbedryf – en dan ook net in die geval van voertuie wat wel verseker was.

Ek verstaan talle Hilux-onderdele pas op taxis – en dis glo een van die vernaamste redes vir hierdie vlaag diefstalle.

Wilna ·

Vergeet dit als…… Wat maak daai kind tussen al daai karre op die foto?

Conrad ·

Wilna, hy verkoop koerante. As jy op die foto druk, word hy groter. Dit is nou die foto en nie die seun nie neh.

Esther Venter ·

Op die foto was voertuie nog die ware jakob, maar toe was petrol ook bekostigbaar. Net jammer hulle moes uitsterf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.