Hier’s die rede waarom sedans verdwyn

Die Honda Ballade.

Die sedanmark is besig om teen ʼn verskriklike tempo te verdwyn. Daar was in ’n stadium ’n sedan in amper elke huishouding, maar dit is oor die afgelope twee dekades amper heeltemal uitgewis – deur die sportnutsvoertuig. In baie gevalle is dit werklik ʼn jammerte, byvoorbeeld die nuwe Toyota Corolla en Mazda 3-sedan – albei pragtige voertuie wat puik waarde, gemak en spasie bied. Maar hoekom is die sportnuts só gewild?

Die Renault Duster.

Twee redes… die gevoel van taaiheid en daai “ry enige plek”-idee wat beter grondvryhoogte bied en die hoër ryposisie. My vrou sê nou die dag vir my dat sy ʼn sportnuts verkies bó Audi se A4; ek stem glad nie met haar saam nie,  maar dis ʼn argument vir ʼn ander dag.

Hier is twee mededingers wat prysgewys weinig verskil. Die Honda stel effens teleur, maar die Duster verkoop soos soetkoek. Kom ons vind uit hoekom.

Ontwerp

Honda Ballade 1.5 EleganceRenault Duster 1.5dCi Dynamique 4WD
3/54/5

Die Honda is ʼn eenvoudige sedanmotor. Daar is niks in sy ontwerp wat ʼn mens ʼn bietjie opgewonde maak nie. Sy proporsies is ook maar bloot voldoende. Die Duster aan die ander kant is ʼn mooi afgeronde klein tot mediumgrootte sportnutsvoertuig. Sy sierwiele en goeie grondvryhoogte maak hom aantreklik en dit word boonop mooi afgerond met die dakrelings.

Binneruim

Honda Ballade 1.5 EleganceRenault Duster 1.5dCi Dynamique 4WD
3,5/54/5

Dis by die binneruim waar die Ballade effens veld wen. Die binneruim is ergonomies uitgelê en gemaklik, terwyl dit billike spasie bied met ʼn lekker kattebak. Die ontwerp is wel effens besig teenoor die Renault se skoner ontwerp. Die Duster se binneruim is puik en voel lekker ruim. As ek fout moet soek, sal ek sê die konsole by die bestuurder se linkerbeen is effens te breed en kan beenspasie belemmer.

Enjin, ratkas en dryfstelsel

Honda Ballade 1.5 EleganceRenault Duster 1.5dCi Dynamique 4WD
4/55/5

Albei voertuie maak gebruik van ʼn 1.5-viersilinderejjin. Die Honda van ʼn atmosferiese petrolenjin, en die Renault van ʼn turbodiesel. Die Honda bied 89 kW en 145 Nm. Hy voel lekker gretig op die pad, en die palwisseltransmissie is nie aaklig nie. Honda sê dat 5,5 ℓ/ 100 km moontlik is, maar ek het my bedenkinge. Die Duster se dieselenjin bied 80 kW en ʼn puik 260 Nm. Die enjin is gepaard met ʼn 6-spoed-handrat, maar bied wel vierwielaandrywing – wat hom werklik bekwaam maak daar waar die teer eindig. Renault maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 5,2 ℓ/ 100 km, wat heeltemal haalbaar is.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid

Honda Ballade 1.5 EleganceRenault Duster 1.5dCi Dynamique 4WD
4/55/5

Dié een is effens moeiliker om te gradeer. Die Honda het twee meer lugsakke as die Duster se ses, maar die Duster het vastrapbeheer en remhulp wat die Ballade nie het nie. Die ritgehalte van die Duster is uiters goed op sy hoër vering en lekker groot profiel bande. Padhouvermoë is in die kol vir albei voertuie, maar die Duster sal stof in die Ballade se oë skop sodra die teerpad eindig.

Waarborg en diensplan

Honda Ballade 1.5 EleganceRenault Duster 1.5dCi Dynamique 4WD
5/54/5

Hier wen die Honda. Hy bied ʼn 5 jaar/200 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan. Die Duster bied 5 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Opsomming

Honda Ballade 1.5 EleganceRenault Duster 1.5dCi Dynamique 4WD
19,5/2522/25

Die Renault Duster is ʼn puik voorbeeld van hoekom sedanmotors besig is om te verdwyn. Die Duster bied ʼn veelsydigheid wat die Honda nie kan ewenaar nie, en dit pas in by die huidige leefstyl waarna die meeste Suid-Afrikaners smag: ons het die naweek hierheen en daarheen gereis…

Gaan toetsbestuur beslis ʼn Duster – dis ʼn puik voertuig.

Die twee prys só

Honda Ballade 1.5 EleganceRenault Duster 1.5dCi Dynamique 4WD
R366 900R361 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AndrewL ·

Hmmm. Redelike eensydige vergelyking. Hoe vergelyk mens ‘n sedan met ‘n sportsnuts. Hul is vir verskillende gebruike gebou.

Dan laat die vergelyking boonop bougehalte uit.

Hoe lyk hierdie vir my soos ‘n betaalde advertensie. My ervaring met Renault voertuie is nie baie positief nie.

Janco ·

Hierdie artikel gee glad nie die redes hoekom ‘n sedan uitsterf nie en moes eerder beskou word as ‘n vergelyking tussen twee voertuie.

Die rede hoekom die geliefde sedan uitsterf is bloot omdat mense glo dat ‘n SUV meer spasie aanbied, dit is glad nie die geval nie. Mense sien nie dat die SUV vir wat jy klomp geld meer betaal nie eintlik net ‘n bietjie hoër van die grond af sit.

Wat vir my belaglik is- is die mense wat ‘n groot SUV soos ‘n fortuner koop en elke dag hom net gebruik om die kinders by die skool aftelaai.

andre ·

Wag tot albei 15 jaar oud is en 300 00km op die klok is.Ek wonder maar net,want ek kan my ballade nie vergeet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.