Hoe sleep ʼn Cruiser werklik?

(Foto: Brendon Staniforth)

Ons het in 2021 die bekendstelling van Toyota se Land Cruiser 300 bygewoon. Om te sê dit is die grootbaas van alle plase, is ligweg gestel.

Die meeste voertuie beïndruk tydens die bekendstelling, maar dit is wanneer jy vir ’n ruk lank met hom ry en hy in jou motorhuis geparkeer staan, wat hy sy ware kleure begin wys.

Ek het pas amper vyf weke met Toyota se Land Cruiser 300 deurgebring – ʼn pikswart GR-S met die 3.3 V6‑turbodiesel. Ek en my gesin het 18 dae lank by ATKV-Drakensville gaan kamp.

Ter voorbereiding vir ons kampvakansie word in Pretoria van winkel tot winkel rondgejaag en ek begin sommer toe al ’n ogie op die brandstofverbruik hou. In ʼn stadium sien ek dit is onder 10 l/100 km as jy rustig met hom werk. Dis werklik goed.

So vat ek, vroulief en die drie kinders die pad. Die kattebak is werklik indrukwekkend. Wat egter veel meer as die kattebak beïndruk, is die agterste vering. Wat voel soos ʼn ton koeldrank, bier en vuurmaakhout is agter in die Cruiser gelaai – en sy boude het skaars gesak. Fietse op die kattebakdeur gelaai, én die swaar gelaaide karavaan gehaak en die Cruiser staan sterk.

(Foto: Brendon Staniforth)

Voor ons die karavaan kon haak, is dit eers met ou kleppe sukkel. Soos ons die karavaan se domkragte optel, gaan hy so windskeef lê. Die kleppie is heeltemal verbrokkel. Nadat ons die buurman se moersleutels inspan, kry ons die boute los en die spaarwiel is gepas. Ons vertrek en gaan eers by die vulstasie aan om die bande na te gaan. Terwyl ek die ander kant se band pomp, sien ek daai kleppie is ook net met genade nog heel. Nou begin ek benoud raak. Daar lê 400 km tussen ons en Drakensville. En dis ’n Sondag. Waar gaan ek nou iemand kry om die kleppe te vervang? En hoekom het ek dit nie voor die tyd nagegaan nie?

Ek ry maar met ʼn grys gesig en ʼn kol op my maag verder. Ek sê vir vroulief: “Google gou vir ʼn bandeplek wat oop is.” Abu Auto Wheels in Bothalaan in Centurion is oop. Ons spring van die N1 af en gaan daar om. R200 later het ek twee nuwe kleppies in, en die spaarwiel is terug op sy plek.

(Foto: Brendon Staniforth)

Die 300 trek my Sprite Super Sport tjoepstil. Soos ons Gauteng verlaat en die paaie begin stiller raak, klim die Cruiser in 10de rat, 100 km/h op die spoedkontrole – 1 400 r/min en só toer hy pragtig tot by Drakensville. As daar ʼn kwaai bult kom, skakel die ratkas te veel ratte terug, maar ek skakel eenvoudig die spoedkontrole af en ry met die voet; dan gaan hy terug 9de toe en klim kwaai bulte met gemak.

Van Warden af kry ons die verskriklikste reën op die pad, maar die Cruiser marsjeer voort sonder om ʼn oog te knip. Dit is 393 km van my huis af tot by ATKV-Drakensville. Waar ek die Cruiser op my staanplek afsluit, staan die brandstofverbruik op 11,3 l/100 km – werklik puik vir karavaan sleep.  Huiswaarts is ietwat swaarder teen 12,8 l/100 km – maar gelukkig kon ek by Q4 op Harrismith lekker goedkoop diesel kry teen R18,12 per liter.

(Foto: Verskaf)

Ek het met opset nie my stabiliseerder opgesit nie. Ek het al met talle voertuie gesleep, en ek sal sê die KDSS-stelsel op die Cruiser se vering is fantasties. Die wa het nie een keer geswaai nie, en die vering op die Cruiser is uiters stabiel en wip en hop glad nie soos jy deur knikke en oor hobbels ry nie. Die Land Cruiser 300 is beslis die beste sportnutsvoertuig waarmee ek al my karavaan gesleep het – saam met Land Rover se Defender.

Die Land Cruiser 300 GR-S 3.3D bied 225 kW en 700 Nm. Hy is elektronies tot 210 km/h beperk, maar ek weet hy sal sy bene tot 220 km/h kan rek. As ʼn mens nie sleep nie, haal hy maklik 10 l/100 km. Is daar enige foute? Met sleep? Glad nie. Die Land Cruiser 300 sal 3,5 ton met liefde trek.

Die reeks lyk só:

Toyota Land Cruiser 300 GX-R 3.3D225 kW/700 Nm8,9 l/100 kmR1 283 200
Toyota Land Cruiser 300 ZX 3.3D225 kW/700 Nm8,9 l/100 kmR1 765 500
Toyota Land Cruiser 300 ZX 3.5T305 kW/650 Nm12,1 l/100 kmR1 797 100
Toyota Land Cruiser 300 GR Sport 3.3D225 kW/700 Nm8,9 l/100 kmR1 811 900
Toyota Land Cruiser 300 GR Sport 3.5T305 kW/650 Nm12,1 l/100 kmR1 842 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km‑waarborg en ʼn 9‑dienste‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Land Rover Defender 110 D300 X-Dynamic HSE221 kW/650 Nm7,6 l/100 km3,5 ton5 jaar/100 000 km‑waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 501 632
Nissan Patrol 5.6 V8 LE 4WD298 kW/560 Nm14,4 l/100 km3,5 ton6 jaar/150 000 km‑waarborg

3 jaar/90 000 km‑diensplan

 

R1 618 900

Hierdie is die enigste twee volgrootte sportnutsvoertuie met laestrek 4×4‑ratkaste in dié klas. Die Nissan is slegs in V8-petrol beskikbaar, wat hom dus hier uitskakel… maar die Land Rover en Toyota is fantastiese sleepvoertuie – en albei hiperluuks. Hier sal Toyota se reputasie vir uitermatige goeie betroubaarheid die 300 vir my oor die wenstreep stoot, en die feit dat daar min voorraad is, sorg dat tweedehandse waarde rateltaai bly.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Daar is baie ander voertuie op die mark wat dalk beter sleep teen n fraksie van die plaasprys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.