Dit is geen geheim dat ek ʼn groot liefhebber van Isuzu se X-Rider is nie. Dit bied puik waarde en ongeag wat jy met hom wil doen, is daar waarskynlik ʼn model in die reeks vir jou: 2.5-handrat, 2.5-outo of 2.5-handrat 4×4.
Die 2.5 X-Rider is ʼn eerlike bakkie met goeie vermoë. Ek dink daar was egter ʼn paar ouens wat groot waens wil sleep, óf net wil sê dat hulle bakkie vinniger 100 km/h kan haal as die volgende ou sʼn en ek het nog altyd gesê ʼn mens het nie regtig die 3.0 nodig nie.
Nou ja, ek het verlede jaar die 3.0 X-Rider vir ʼn week geniet en ek sal hier sê: ʼn mens het dit steeds nie nodig nie, maar sjoe, dit bly regtig lekker.
Die 3.0 X-Rider is presies dieselfde as die 2.5 gesien uit ʼn ontwerp- en visuele oogpunt. Dit is steeds ʼn dubbelkajuit met sitplek vir vyf. ʼn Mens kry steeds twee lugsakke en ABS met EBD.
Al wat die 3.0 van die 2.5 aan die binneruim onderskei, is die beter raakskerm-inligtingstelsel met sy twee USB-poorte.
Dit is onder die kap waar dinge mooi raak.
Die 3.0 gebruik Isuzu se 3.0-viersilinderturbodiesel gepaard met sy 6-spoed-wringkragomsitter outo. Die 3.0 bied 130 kW en 380 Nm teenoor die 2.5 se 100 kW en 320 Nm.
Op die pad voel die bakkies dieselfde wat ritgehalte en gemak betref, maar die 3.0 trek voorwaar baie sterker. Die sterker enjin verbeter die sleepkapasiteit van 2.1 ton tot 3.5 ton. Die 6-spoed outo maak die 3.0 ook effens ligter op brandstof.
Die sterker enjin en beter sleepvermoë vir die skraal prysverhoging van R50 000 maak dit ʼn maklike besluit om eerder die 3.0 aan te skaf indien jy nie ʼn 4×4 nodig het nie.
Die reeks lyk nou só:
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider handrat | 100 kW/320 Nm | 7,7 ℓ/100 km | R508 100 |
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider outo | 100 kW/320 Nm | 8,1 ℓ/100 km | R527 400 |
Isuzu D-Max 2.5 TD dubbelkajuit X-Rider 4×4 handrat | 100 kW/320 Nm | 7,9 ℓ/100 km | R565 200 |
Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit X-Rider outo | 130 kW/380 Nm | 7,5 ℓ/100 km | R578 700 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/120 000 km-waarborg en ʼn 5 jaar/90 000 km-diensplan.
Die mededinging lyk só:
Mahindra Pik Up 2.2CRDe dubbelkajuit S11 outo | 103 kW/320 Nm | 7,9 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/ 90 000 km-diensplan | R384 999 |
Nissan Navara 2.3D dubbelkajuit SE outo | 140 kW/450 Nm | 6,8 ℓ/100 km | 6 jaar/150 000 km-waarborg 3 jaar/90 000 km-diensplan | R561 400 |
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit outo | 133 kW/430 Nm | 7,6 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R584 995 |
Ford Ranger 2.0SiT dubbelkajuit XLT outo | 132 kW/420 Nm | 7,2 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 6 jaar/90 000 km-diensplan | R588 900 |
Toyota Hilux 2.8GD-6 dubbelkajuit Raider outo | 150 kW/500 Nm | 7,4 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 9-dienste-diensplan | R644 500 |
Volkswagen Amarok 2.0BiTDI dubbelkajuit Highline outo | 132 kW/420 Nm | 8,4 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R663 100 |
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
5 Kommentare
Dit is met kommer dat ek opmerk hoeveel onnodige luukses en foefies meë geroem word. Is dit dan nie veronderstel om ‘n bakkie te wees nie? Ek smag ma die dae van die Toyota TUV en die Nissan 720. Berge betroubaarheid en geen foefies wat net meer goed is wat kan breek nie.
Geen 4×4 outo nie.
Neewat, gaan verby.
Koop ‘n Triton – LOL
Hoe verbeter jy Isuzu se X-Rider?
Jy koop vir jou ‘n Amarok V6!
Koop ‘n Ford