Hoekom die elektriese toekoms piekfyn is

Die Porsche Taycan. (Foto: Verskaf)

Ons motorjoernaliste is voorwaar bederf. Ons ry alewig met die nuutste, beste vuurvreter motors. Dit is voorwaar die lekkerste beroep in die wêreld, maar dan en wan kom ʼn spesifieke motor oor ʼn mens se pad wat die wêreld in perspektief plaas.

Ek is nog altyd ʼn liefhebber van elektriese motors. Ek is nie in die kamp van mense wat sê dit sal nooit werk nie omdat beurtkrag en langafstandreise dit bykans onmoontlik maak nie. Ek dink eerder ʼn mens raak jou gekose ryding gewoond. As jy ʼn enkelkajuitbakkie besit, kan jy nie vier passasiers laai nie. As jy ʼn motorfiets het, hou jy die weer dop; dieselfde geld vir ʼn elektriese motor. Dit is egter glad nie met dié Porsche Taycan ʼn kwessie nie – kom ek verduidelik hoekom.

Ek het oor my drie dae met die Taycan 484 km gery. Ek het 22,8 kWh/100 km gehandhaaf. Dit is ʼn reikafstand van 404 km op die Taycan se battery – en ek het die Taycan soos ʼn Porsche gery, nie ʼn elektriese skoeter nie.

So, hier sit ons met ʼn kar wat min of meer lyk soos ʼn ander Porsche – die Panamera. So geen vlieënde piering stories hier nie. Die binneruim is fantasties. Dit is skoon, eenvoudig, luuks en duursaam. Die paneelbord en inligtingstelsels werk soos met enige ander Porsche.

Wat dan van die motor? Dié spesifieke Taycan is die intreemodel. Daar is een elektriese motor wat 300 kW en 345 Nm bied. Hy sal 100 km/h haal in 5,4 sekondes en sal aanhou tot 238 km/h. Dis puik. Wat meer indrukwekkend is,  is die verbruik as jy ʼn bietjie in die verkeer ry. Ek’t van Sandton tot by my huis in Pretoria gery, 16:00 die middag in matige verkeer. Dit was 57,7 km en ek het 11,6 kWh/100 km gebruik. Dit is ʼn reikafstand nader aan 800 km. Jaaaa, dit is die afdraande-been van die roete, maar dis steeds indrukwekkend.

(Foto: Verskaf)

Op die pad toer die Taycan soos ʼn ware GT. Dit is gemaklik, sterk en tjoepstil. Die Taycan vreet letterlik die myle op. Ek het ʼn app op my foon geïnstalleer, PlugShare, wat vir jou  al die laai-infrastruktuur naby jou gee. Indien jy ver van die huis af gaan wees, kan jy op ʼn laaier kliek en sien of hy reeds beset is, hoe sterk hy is en dies meer. Die Porsche Taycan gaan vir 99% van die tyd nie openbare infrastruktuur nodig hê nie. As mens ʼn Taycan , word ʼn sterk laaier wat ingesluit is by die prys, by jou huis geïnstalleer. Dan is dit soos jou selfoon. Laai hom in die motorhuis, en hou hom vol.

Wanneer jy oor die land heen reis is die netwerk voorwaar al lekker sterk. Daar is al ver oor die 200 laaistasies landwyd. ʼn Mens beplan jou roete daar om en laai terwyl jy eet. Die Taycan sal waarskynlik twee keer moet laai tussen Johannesburg en Kaapstad – nie sleg nie. Ek dink wel dat dié tipe klant ook ʼn petrolmotor sal besit vir dié tipe reistogte.

Wat beteken dit egter vir die toekoms? Elektriese motors is lieflik om mee saam te leef. Hul loop laat dit klap, en die slegte eienskappe is besig om teen ʼn goeie pas te verdwyn. Die regering is glo besig om te kyk na die belasting op elektriese motors; so dit sal goedkoper word. Daar is egter een punt wat die beste van als is. Hoe meer elektriese motors daar in die wêreld is, hoe langer hou die gewone brandstof soos petrol, vir voertuie soos ʼn GT3 – wat slegs kan voortbestaan as motors soos die Taycan bestaan.

Die Taycan is maklik om op te som. Die intreemodel is gemaklik. Die Turbo S is blitsvinnig en snol van 0-100 km/h in 2,8 sekondes. Dis berserk. Dié tegnologie sal al meer bekostigbaar en toeganklik word. Ek kan nie wag nie, maar vir dié wie se sakke diep genoeg is, gaan toetsbestuur ʼn Taycan – dis ʼn belewenis.

Die reeks lyk só:

Porsche Taycan300 kW/345 Nm0-100 km/h 5,4 sek.

Topspoed 230 km/h

R2 227 000
Porsche Taycan 4S390 kW/640 Nm0-100 km/h 4 sek.

Topspoed 250 km/h

R2 537 000
Porsche Taycan Turbo500 kW/850 Nm0-100 km/h 3,2 sek.

Topspoed 260 km/h

R3 376 000
Porsche Taycan Turbo S560 kW/1 050 Nm0-100 km/h 2,8 sek.

Topspoed 260 km/h

R3 977 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 3 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Hier is al die volle elektriese motors tans is Suid-Afrika beskikbaar:

MINI Cooper SE135 kW/270 Nm0-100 km/h 7,3 sek.

Topspoed 150 km/h

2 jaar/onbeperkte km-voertuigwaarborg

8 jaar/100 000 km-batterywaarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R686 400
BMW i3 S e-Drive135 kW/270 Nm0-100 km/h 6,9 sek.

Topspoed 160 km/h

2 jaar/onbeperkte km-voertuigwaarborg

8 jaar/100 000 km-batterywaarborg

5 jaar/ 100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R820 700
Jaguar i-Pace EV400 AWD S294 kW/696 Nm0-100 km/h 4,8 sek.

Topspoed 200 km/h

5 jaar/100 000 km-voertuigwaarborg

8 jaar/160 000 km-batterywaarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 999 900

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.