Hoekom is ons só lief vir ʼn V8?

Ek het al hier gepraat oor Ford se Mustang… ʼn paar keer. Toe ek die eerste keer so drie jaar gelede met ʼn Mustang gery het, was ek nie oortuig nie. Ek’t wel onlangs die Mustang Mach 1 gery en ek moet sê dis ʼn fantastiese ryding. Nie noodwendig die vinnigste nie, óf die motor met die beste padhouvermoë op aarde nie,  maar daar is iets in oorvloed… karakter.

Soos ek met die ’Stang huis toe ry en in my woonbuurt inbeweeg, begin die koppe draai. Almal kyk. Ek probeer dink… hoekom is ons só lief vir ʼn Mustang? Ek dink daar is ʼn paar elemente. Eerstens, dis ʼn Ford – en talle Afrikaners het grootgeword met Ford as handelsmerk in die huis.

Tweedens, dis ʼn V8. ʼn Harde, brullende, pragtige V8. Dié V8 bied 338 kW en 529 Nm… maar dis net syfers. Dis die geluid. En voor die tyd van turbo’s was daar net een ding vir krag – ʼn V8. Die Amerikaners het ʼn gesegde: “There’s no replacement for displacement!” Hoe groter, hoe beter.

Vriende en kennisse ry verby die huis en almal stuur ʼn boodskap, is julle tuis: kan ons kom kyk? Die Mach 1, soos hy in die oprit staan, betower almal wat verbyry. Daar is min karre wat dít kan doen.

Ek begin redes uitdink oor hoekom ek vinnig winkel toe moet gaan of vinnig iewers heen moet rits… net om tyd met die Mustang deur te bring. ʼn Pel se swaer is ʼn fanatikus. Hy’t al oor die jare heen ʼn klomp V8’s gebou, en my pel vra vir my of ek asseblief daar sal gaan draai. Ek laai die drie kinders in die Stang en ons vat die pad Pretoria-Noord toe. Op die N4 begrawe ek die versneller en ʼn mens is beïndruk deur die naelloopskoene wat die Mustang wegsteek.

Soos ons in die swaer se oprit stop, kan jy die bewondering op sy gesig sien. Dis bitter spesiaal. Ek vat hom vinnig om die blok en hy sê dat absoluut geen van sy V8’s wat hy gehad het by die Mach 1 kers sal kan vashou nie. Hy’s vas oortuig dat die ’Stang sy Transam in trurat sal wegry!

Op pad om die Ford veilig by die kantoor te bêre sit ek die Mustang vir die eerste keer in sy drag-modus. Klim op die remme en probeer lanseerbeheer aktiveer. Die Mustang bars los in ʼn fantastiese burnout soos die agterwiele tol trek die rook. My oudste se mond hang oop. Skielik is ek die coolste pappa op aarde, al voel ek bitter skuldig oor die duur rubber wat nou gemors op die teer lê!

Deur die middestad kom ons twee jong latte in ʼn Golf R teë wat wil resies hou. Die Mustang ry nie die Golfie maklik weg nie, maar hy doen – net-net. Een ding is wel seker, die twee in die Golf het ʼn groter glimlag op hul gesigte oor die fantastiese geluide wat uit die Mach 1 se uitlaatpype kom eerder as oor die feit dat hul Golfie so naby kon bly.

Dit val my toe by. Ek is nou 38 jaar oud, en ek begin hunker na die ou dae. Eenvoudiger dae. Ek dink baie mense doen dieselfde, en die Mustang is ʼn herinnering aan ʼn tyd toe Amerikana alles was. Texas, country, dans, musiek en ʼn brullende V8.

Daar is honderde tegniese redes hoekom die Mach 1 beter is as ʼn gewone Mustang, maar ongelukkig is almal reeds verkoop. Daar is egter ʼn oplossing – koop ʼn gewone Mustang en geniet self jou klein stukkie nostalgie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

uit toeka se dae het alles gegaan oor daardie brullende v8, maar dan moet dit ‘n ford ook wees

VaalDonkie ·

‘n V8 lewer beter wringkrag en is baie beter gebalanseerd as ‘n V6. En ‘n I-6 is te groot so jy kan net sowel maar ‘n V8 in daai geval gebruik want hy’s korter (omdat die I-6 ses silinders in ‘n ry het en die V8 twee banke van vier silinders het). So vir verrigting is die V8 net die beste opsie. Nie soseer oor die silinder kapasiteit nie, maar eerder oor die harmoniese balansering en die wringkrag.

Ek praat so, maar ek ry ‘n Subaru met 4 silinders en ‘n kleinerige turbo.

Lourens CFG ·

Daar is nie ‘n mooier geluid as ‘n V8 met 4 afsonderlike uitlaatpype, en wat mooi ge-“tune” is nie.
Turbo geluid by “spoil” dit eintlik.
Jy ry hom nie vir die krag nie maar die klank.
V6 ook, maar V8 beter.
Ford het niks daarmee te doen. Het al V8 Chev en Holden Monaro ook so gehoor.
Pragtig man, pragtig. Sug.

RS ·

Mense kan maar wat ook al se… daar bly maar altyd iets nostalgies aan n Ford V8.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.