Hoekom speel Everest tweede viool teen Fortuner?

Die Ford Everest XLS. Foto: Verskaf

Ford en Toyota is konstant in ʼn oorlog gewikkel in die bakkiesegment. Nie net is dié twee se Ranger en Hilux direkte mededingers nie, maar die Everest en Fortuner is ook sterk mededingers. Ongelukkig vir die Ford Everest, as mens na die verkoopsyfers kyk, klop die Fortuner hom elke maand omtrent vier tot een.

Hoekom? Die Everest het ʼn netjiese ontwerp. Dit is ʼn sewesitplek-sportnutsvoertuig wat op sy Ranger-boetie gegrond is. Die bladvere agter word vervang met meer gemaklike kronkelvere om hantering te verbeter. Verder is dit dieselfde idee as wat Toyota op sy Fortuner toepas, Isuzu op sy MU-X en Mitsubishi op sy Pajero Sport.

Die Ford Everest XLS. Foto: Verskaf

Tussen daai mededingers het die Everest een van die sterkste argumente ten opsigte van die binneruim. Nes ʼn Wildtrak een van die luuksste bakkies is, sal ek stry dat ʼn Ford Everest Limited die luuksste sewesitplek-sportnuts is. Die binneruim is van netjiese materiale gebou, en die bougehalte indrukwekkend. Daar is meeste van die standaarde luukshede sowel as Apple CarPlay en Android Auto.

In die enjinafdeling is die Everest 2.0 Turbo XLT die een om te hê, na my mening. Die 2.0 viersilinder-enkelturbodiesel bied ʼn billike 132 kW en 420 Nm. Die krag word na die agterwiele gestoot deur Ford se 10-spoed wringkragomsitter- outomatiese ratkas. Die wringkragomsitter is na my sin te lui in eerste en tweede rat, maar sodra hy sluit in derde rat is die ratkas puik.

Die Ford Everest XLS. Foto: Verskaf

Op die oop pad hanteer die Everest soos ʼn droom. Al loop hy op groot 18”-wiele het die bande steeds ʼn groot 60-profiel. Tesame met die soepel vering maak dit van die Everest ʼn lekker reismaat en sy indrukwekkende sleepkapasiteit van 3 000 kg sal van hom ʼn puik sleepvoertuig maak. Daar is sewe lugsakke en elke veiligheidstelsel en truuk om jou en jou gesin veilig te hou. ABS met EBD, vastrap en stabiliteitsbeheer – alles.

Dit is vir my vreemd dat die Everest nie meer verkoop nie. Hy handhaaf so tussen 200 en 250 eenhede per maand teenoor Toyota se 1 000 Fortuners. Die binneruim voel ruimer as dié van die Fortuner, en die ratkas se verhoudings wat gepla het op die 2.2 en 3.2 is nou uitgesorteer met die nuwe 2.0 enjins en 10-spoed outo. Dis vreemd want die Everest is ʼn puik voertuig.

Die reeks lyk só:

Ford Everest 2.2TDCi XLS118 kW/ 385 Nm7.3 ℓ/ 100 kmR536 200
Ford Everest 2.0Turbo XLT132 kW/ 420 Nm7.1 ℓ/ 100 kmR614 200
Ford Everest 2.0Bi-Turbo XLT157 kW/ 500 Nm7.6 ℓ/ 100 kmR668 100
Ford Everest 3.2TDCi 4WD XLT147 kW/ 470 Nm8.2 ℓ/ 100 kmR689 400
Ford Everest 2.0Bi-Turbo 4WD XLT157 kW/ 500 Nm7.6 ℓ/ 100 kmR717 800
Ford Everest 2.0Bi-Turbo 4WD Limited157 kW/ 500 Nm7.6 ℓ/ 100 kmR793 900

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/ 120 000 km waarborg en 6 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Pajero Sport 2.4 D4133 kW/ 430 Nm8 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R589 995
Isuzu MU-X 3.0130 kW/ 380 Nm7.3 ℓ/ 100 km5 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R630 400
Toyota Fortuner 2.8GD-6 Epic130 kW/ 450 Nm8 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R673 200

As ʼn mens so na die pryse kyk, kan die Pajero Sport nie geïgnoreer word nie. Al vier die voertuie het hul eie sterkpunte. Gaan toetsbestuur wel almal voor jy koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karlahari ·

Die Chev manne koop Toyota en die Ford manne….koop Ford.
Ek dink jy antwoord jou eie vraag. Die oorsoronklike ratverhoudings en ratkas probleme op die 3.2 het die Ford seergemaak so die kopers haak vas by die Fordtuna.

Shady ·

Die Fortuner was van die begin af die topverkoper in sy klas en sal die topverkoper bly –

'n Simpelman ·

Verstaan my nie verkeerd ons gesin besit 4 Fords.
Hoof rede volgens my is die BAIE swak vorige Everest.
Ek ken mense wat vorige een na gekyk het. As nou weer koop en ek sê kyk ook na Everest dan sê hulle dadelik enige iets anders as Everest

Pieter ·

Ek was baie beindruk met die Ford Everest 2,2 toe ek toetsbestuur het en toe koop ek hom. Die Everest ry sagter en is baie stiller binne in die kajuit as enige Fortuner. Die 2,2 outomaties is te swaar (tarra) en sukkel om ‘n Venter sleepwae verby ‘n lang trok op die N1 te steek. In die stad is die Everest nie sleg nie en trek lekker, maar beslis nie as hy gelaai is en ‘n “trailer” sleep nie. Dis hoekom Ford dit gesien het en toe die 2,0 Turbo uitgebring het, maar dit is gans te duur vir wat dit bied. Ek het toe die 2,8 Fortuner gekoop en kyk nie een dag terug nie. Dit sleep ‘n swaar “trailer” met gemak en is lig op diesel volgens my. As mense nie omgee hoe sterk die Everest 2,2 trek nie, is dit tog ‘n goeie kopie. Die Ford se inruilwaarde is ongelukkig baie swak – ek het hope geld verloor met die Everest 2,2 met 8100 km op die odo toe ek die dag inruil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.