Honda CRF 300 L – ’n Veldfiets met padhouvermoë

(Foto: Brian Cheyne)

Die inperking beteken almal is weer in hul persoonlike ruimte toegesluit. Gelukkig het Honda hul nuwe CRF 300 L hier kom aflaai dat ek net weer kan wegkom, weg van my rekenaarskerm. Die goeie ding van die CRF is dat jy nie beperk is tot die teerpad nie.

Die mark vir klein avontuurfietse het die laaste paar jaar vlamgevat en waar die meeste vervaardigers ’n padfiets aangepas het om soos ’n avontuurfiets te lyk, het Honda een van hulle veldfietse toegerus met flikkers en ’n hooflig. Ek besit self ’n BMW G 310 GS, en om hierdie twee fietse saam in die motorhuis te sien, maak die verskille duidelik.

Die CRF 300 L is onlangs bekendgestel en was ’n opdatering van hulle CRF 250 L.

(Foto: Brian Cheyne)

Honda het ’n roemryke geskiedenis in veldrenne, en hulle veldrenfietse is bekend vir betroubaarheid en duursaamheid. Die enjin is vergroot en het meer krag, die raam is ligter gemaak en die sesde rat is langer gemaak. Hiermee het Honda probeer om ’n meer ontspanne padfiets te maak, maar die teerpad is nie waar hierdie klein Hondatjie wil wees nie. My BMW verkies die teer, maar met die Honda voel jy heeltyd of jy klein tweespoorpaadjies wil verken.

Op die pad voel die fiets heel gemaklik en die langer sesde rat help dat jy 120 km/h gerieflik sal kan handhaaf.

(Foto: Brian Cheyne)

Omdat hy so hoog is, is die ryposisie ook baie ontspanne. Die fiets het ’n lang plat saal, en agter is vier hegpunte wat jy kan gebruik om iets aan die fiets vas te maak vir ’n naweek weg. Ek dink juis dat die CRF 300 ’n ideale fiets vir ‘n naweek se wegbreek sal wees. ’n Passasier sal dalk nie baie gemaklik wees agterop hierdie fiets nie, so maak maar reg om alleen te ry. Die klein CRF is beslis geskik vir mense wat nie van die teerpad hou nie.

Daar is so paar dinge wat lol as jy ’n veldfiets aanpas vir padgebruik. Die vering is aan die sagte kant en alhoewel die fiets baie hoog lyk, sak die fiets baie as jy gaan sit. Die brandstoftenk is piepklein en daar is baie plastiek oral. Sy veldfiets-gene is egter die duidelikste sigbaar in die pypies wat die voorremme voorsien. Dit loop reg voor die instrumentepaneel verby. Op ’n veldfiets is dit heeltemal aanvaarbaar, maar op die CRF steek dit die instrumentasie heeltemal weg.

Aan die ander kant het die CRF ongelooflike grondvryhoogte en ’n dun 21”-voorwiel. Dit het beteken dat ek kon verdwyn, die koppies in. Daar het ek net op ’n miershoop gaan sit en koffie geskink. Die wêreld wat so onderstebo is, was vir daardie oomblik nie in my gedagtes nie. Net die natuur, lekker koffie en ’n getroue rooi fiets agter my wat tik-tik soos hy afkoel. Miskien het jy ook ’n motorfiets nodig in jou lewe en teen R84 999 is vryheid nie heeltemal so onbereikbaar nie.

Klik hier vir die produkblad.

Spesifikasies:

Enjin286 cc-enkelsilinder
Gewig (Nat)142 kg
Kraglewering20,1 kW @ 8 500 r.p.m.
Wringkrag26,6 Nm @ 6 500 r.p.m.
Tenkkapasiteit7,8 l
PrysR84 999

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jasper

Ek volg vir Norali Schoenmacher op you tube sy het SA platgery op ‘n CRF 250 en ek was verbaas waar sy oral was,sy het al wat ‘n pas gery en sy is huidiglik in Namibië die klein honda is werklik ongelooflik.

SjN

Honda maak goeie fietse al die jare.