Honda Jazz Sport laat mens in tweestryd  

Die Honda Jazz Sport. (Foto: Verskaf)

Die Honda Jazz is ʼn oulike buksie. Honda maak al vir dekades rateltaai rygoed, en deesdae is hul binneruime baie slim verpak. Ongelukkig voer hulle slegs na Suid-Afrika in, en omdat hulle nie uitvoerkrediete het om teen hul invoere te verreken nie is hul produkte bitter duur.

Die Honda Jazz het egter nóg ʼn vlieg in die salf … net een woordjie, Sport. Die intreemodel 1,2 outo Jazz is ʼn lieflike dingetjie. Lig op brandstof en ʼn mens weet hy sal nooit ʼn voet verkeerd sit nie. Die Sport het drie probleme. Eerstens is meeste Honda-kliënte nou taamlik oud. Tweedens ry die Sport bitter hard. Derdens het die Jazz Sport ʼn palwisseltransmissie. ʼn CVT is puik vir brandstofverbruik, maar glad nie vir sportiewe rygewoontes nie.

Die Honda Jazz Sport. (Foto: Verskaf)

Die ontwerp is netjies, en die Jazz lyk lekker sportief. Die binneruim lyk belowend, dog Japannees. Al die truuks is daar om die rit veilig en gemaklik te maak soos ses lugsakke, ABS, EBD, stabiliteitsbeheer, klimaatbeheer, en fantastiese ligte wat werklik baie helder en spierwit skyn. Ongelukkig is die raakskerm ʼn teleurstelling sonder Apple CarPlay en Android Auto.

Die enjin is een van Honda se rateltaai staatmakers, die atmosferiese 1,5 viersilinderpetrolenjins met VTEC. Die enjin bied 97 kW en 155 Nm. Die kragpiek kom op ʼn indrukwekkende 6 600 r/min, maar die ware ervaring van ʼn sportiewe enjin word bederf deur die CVT ratkas. 0 – 100 km/h neem ʼn rustige 9,8 sekondes en hy sal aanhou hol tot 180 km/h, nie sterk tussen sy mededingers nie.

Die Honda Jazz Sport. (Foto: Verskaf)

Op die pad is die stuurgevoel fantasties, en die padhouvermoë ver bó waar enige Jazz-eienaar hom gaan beproef, maar die ritgehalte is verskriklik hard … té hard vir dié segment. Só laat die Jazz ʼn mens in ʼn tweestryd. Daar is beter sportiewe opsies daar buite … en die Jazz Sport is die tweede duurste mededinger in die hele segment.

Die reeks lyk só:

Honda Jazz 1.2 Trend66 kW/ 110 Nm5.6 ℓ/ 100 kmR236 100
Honda Jazz 1.2 Comfort66 kW/ 110 Nm5.6 ℓ/ 100 kmR279 600
Honda Jazz 1.2 Comfort outo66 kW/ 110 Nm5.6 ℓ/ 100 kmR301 100
Honda Jazz 1.5 Elegance88 kW/ 145 Nm6.0 ℓ/ 100 kmR320 800
Honda Jazz 1.5 Elegance outo88 kW/ 145 Nm5.8 ℓ/ 100 kmR339 100
Honda Jazz 1.5 Sport97 kW/ 155 Nm5.6 ℓ/ 100 kmR359 300

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 200 000 km waarborg en 4 jaar/ 60 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

ModelSuzuki Swift 1.4T Sport outoAbarth 500 595 1.4T outoOpel Corsa GSiVolkswagen Polo GTI
Krag103 kW/ 230 Nm107 kW/ 180 Nm110 kW/ 220 Nm147 kW/ 320 Nm
0 – 100 km/h8 sek8 sek8.9 sek6.7 sek
Topspoed205 km/h210 km/h207 km/h237 km/h
Brandstof-verbruik6.1 ℓ/ 100 km5.8 ℓ/ 100 km5.8 ℓ/ 100 km5.9 ℓ/ 100 km
Waarborg5 jaar/ 200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

3 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudings-plan

3 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 60 000 km diensplan

3 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

PrysR337 900R356 869R385 000R411 900

Die Polo GTi is nie ʼn werklike mededinger in dié segment nie – hy is éíntlik in die segment bó die. Die Suzuki Swift Sport is vir my die beste waarde hier as ʼn mens ʼn lekker sportiewe buksie soek wat wel sy sokkies kan oprol en wys. Hy het ʼn gewone wringkragomsitter outo, en ek verkies hom bó die handrat model. ʼn Mens kan die R20 000 wat jy bespaar teenoor die Jazz hou vir brandstof en bande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

andre ·

Wanneer word die Swift Sport outomaties getoets ? Die Jazz klop almal met spasie,maar hy is te duur.Altwee word in Japan gebou,so die kwaliteit hoort dieselfde gewees .Klaarblyklik is die outo Swift Sport in NZ n gewilder keuse as die handrat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.