Honda se kruismodel sit die pot mis

Die motorbedryf is reusagtig en daar word miljarde bestee aan navorsing en ontwikkeling van produkte. Dit begin gewoonlik jare voordat die publiek hul oë daarop kry. Dit is bitter moeilik om die publiek te beïndruk, maar maklik om hul teleur te stel.

Vat byvoorbeeld Honda se WR-V. Hy voldoen aan die moderne resep van ʼn klein luikrug: Lig sy vering effens om vir hom beter grondvryhoogte te gee, gee vir hom ʼn klein enjin om hom lig op brandstof te maak, en gee vir hom ʼn ontwerp wat die jonger mark teiken – en jy’t ʼn wenner.

Wel, nie heeltemal nie. Die probleem is dat verskillende handelsmerke verskeie gedeeltes van die mark teiken. Party veg vir die intreesegment, ander vir die middel – en dan is daar dié wat die luuksste kors van die segment teiken. Honda teiken deesdae die intreesegment, maar hul prys beslis nie.

Meer oor die WR-V. Die ontwerp is nie sleg nie. Dit kan mooi wees, maar ek dink daar is moontlik té veel aan die ontwerp getorring – nou lyk die ontwerp nie afgerond nie. Maar – ek is nie ʼn ontwerpkundige nie, so ek los dit daar.

Die binneruim is nie aanstootlik nie. Meeste van die panele, sitplekke en tegnologie is uit die gewilde Jazz gelig. Daarin lê die probleem. Honda probeer al jare lank hul demografie jonger maak, maar dan vat hulle panele uit ʼn voertuig wat die ouer garde gaande oor is… én hulle het dit gedoen om geld te spaar… en die WR-V is nie die goedkoopste mededinger in sy segment nie. Die binneruim is wel gemaklik en ergonomies uitgelê. Die funksionaliteit is voldoende, maar ek sou beslis die radio spesifiseer met Apple CarPlay en Android Auto.

Die enjin en ratkas is waar daar meer vlieë in die salf beland. Die WR-V word aangedryf deur Honda se 1,2 VVTi atmosferiese viersilinderpetrolenjin. Daar is geen turbo, en ook geen outomatiese ratkaste nie. Dit sit die WR-V ver agter baie van sy mededingers in die segment wat dit wel bied, vir die selfde soort geld.

My grootste probleem is dat die 1,2 met sy aanpasbare kleptydreëling hier bó op die platorand net té pap voel. ʼn Mens moet heel aggressief met die kierie raak om by die 4 800 r/min wringkragpiek uit te kom… en dán voel dit mens ry die wit waks uit die Honda’tjie uit… en dit is uitputtend vir daaglikse gebruik.

Op die pad is die ritgehalte heel goed, en die padhouvermoë in die kol vir dié segment voertuig. Die WR-V spog wel met ʼn indrukwekkende ses lugsakke, waar van die effens goedkoper mededingers slegs twee het.

Dit is vir my hartseer om die WR-V op te som. Ek het grootgeword met Honda as ʼn sterk, betroubare en amper luukse handelsmerk. Hul voertuie is wel nog betroubaar, en van hulle luuks – maar nie die WR-V nie. Teen sy prys is daar eenvoudig net té veel wat teen hom tel.

Die reeks lyk só:

Honda WR-V 1.2 Comfort66 kW/ 110 Nm6,4 ℓ/ 100 kmR289 900
Honda WR-V 1.2 Elegance66 kW/ 110 Nm6,4 ℓ/ 100 kmR319 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 200 000 km waarborg en 4 jaar/ 60 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Kia Picanto 1.2 X-LINE61 kW/ 122 Nm5 ℓ/ 100 km2 lugsakke5 jaar/ onbeperkte km waarborg

2 jaar/ 30 000 km diensplan

R237 995
Renault Captur 66kW turbo Blaze66 kW/ 135 Nm5,4 ℓ/ 100 km4 lugsakke5 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R284 900
Suzuki Vitara Brezza 1.5 GLX77 kW/ 138 Nm6,2 ℓ/ 100 km2 lugsakke5 jaar/ 200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R289 900
Ford EcoSport 1.5 Ambiente91 kW/ 150 Nm6,4 ℓ/ 100 km6 lugsakke4 jaar/ 120 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R297 400
Hyundai Venue 1.0T Motion88 kW/ 172 Nm6,5 ℓ/ 100 km2 lugsakke5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R307 500
Renault Duster 1.5dCi TechRoad66 kW/ 210 Nm5,1 ℓ/ 100 km4 lugsakke5 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R327 900
Volkswagen T-Cross 1.0 TSI 70 kW Comfortline70 kW 175 Nm4,8 ℓ/ 100 km6 lugsakke3 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R345 700
Mazda CX-3 2.0 Active115 kW/ 206 Nm6,9 ℓ/ 100 km6 lugsakke3 jaar/ onbeperkte km waarborg en diensplanR346 700

Ek was skelm en het twee mededingers hier ingeglip wat nie regtig hier hoort nie. Dis die Picanto en die Duster. Die Picanto is nie werklik ʼn kruismodel nie, maar lyk wel só. Hy is ook baie goedkoper as die WR-V, dog bied hy die selfde bruikbare spasie en ʼn lekkerder enjin met ʼn mooier ontwerp. Aan die ander kant vir die selfde geld as die WR-V is die Duster baie groter, bied baie meer wringkrag en ʼn werklik sportnutsvoertuig – nie net ʼn opgepompte luikrug nie. Hier is werklik nie een mededinger op dié lys wat geïgnoreer kan word as dit teen die WR-V vergelyk word nie. Gaan toetsbestuur almal deeglik voordat jy jou besluit maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Jammer Toyota het nie ‘n mededinger in hierdie segment nie, of altans nog nie. Die Corolla Cross gaan hier gebou word, en kom ons kyk hoe hy geprys gaan word en of hy hier gaan verkoop word.
Tussen hierdie lys hierbo, is die Duster die wenner met die Ecosport kort op sy hakke.

Bernard ·

Uitstekende en professionele analise. Verfrissend anders as die gebruiklike lofgesange. Die Jazz, byvoorbeeld, was nog altyd ‘n outanniekar – en daar lê Honda se probleem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.