Honda se NC 750 X verdere evolusie van wenresep

(Foto: Brian Cheyne)

Die Honda NC 750 X is een van daardie fietse waarmee ek min fout kon vind. Honda het onlangs hierdie nuwe fiets bekendgestel en dit verteenwoordig ’n verdere evolusie van ’n wenresep.

Die Honda NC 700 is in 2012 bekendgestel en het dadelik aanklank gevind by veral die Europese mark. Die fiets se tweesilinder-enjin was uiters ekonomies en die hele ontwerp van die fiets was anders as normaalweg. Waar tradisionele fietse se brandstoftenk sit, het Honda ’n uiters handige paneelkissie. NC is immers ’n afkorting vir “New Concept”.

(Foto: Brian Cheyne)

My eerste kennismaking met hierdie fiets was toe Honda in 2016 die NC 750 X bekendgestel het. Wat my dadelik opgeval het van die NC was die uiters gemaklike ryposisie. Die stilering was heelwat opgeskerp en daar was seker geen ander fiets wat kon vergelyk met die NC in ’n pendelrol nie. Die enjin was ook met 75 cc vergroot. Vandaar die nuwe 750-benaming.

Vir 2021 het Honda voortgebou op die elemente wat hom so gewild gemaak het. Om die verrigting te verbeter, het die enjin ’n klein hupstoot in krag gekry, en die rooi-lyn is verhoog. Die ratkas is aangepas om die eerste drie ratte korter te maak, en die fiets het 6 kg gewig verloor. Die resultaat het my verstom. Die NC, alhoewel dit bemark word as ’n pendelfiets, is nou groot pret om te ry. Die versnelling is merkbaar beter en die uitlaatpyp sing nou saam met ’n growwe stem. Die fiets klink baie goed.

Die hele raam is herontwerp wat nie net die saal 30 mm laer gemaak het nie, maar ook meer plek gemaak het om die paneelkissie groter te maak. Die laer saal maak die fiets geskik vir ’n groter teikenmark. Die instrumentasie het ’n verbeterde vloeikristaleenheid, want die nuwe NC 750 X het nou ryprogramme wat deur die ryer self gestel kan word. Omdat die fiets nou ’n elektroniese versneller het, kon Honda drie items verstelbaar maak: die kraglewering, tolbeheer en enjinremming. Elkeen kan individueel verstel word afhangend van omstandighede.

(Foto: Brian Cheyne)

Die vorige NC 750 X was glad nie ’n slegte fiets nie en Honda het baie subtiele veranderings aangebring wat die nuwe een net soveel beter maak. Ek het nooit gedink ek sal soveel pret kan hê met ’n pendelfiets nie. Natuurlik het Honda ook ’n DCT-weergawe van die NC en dit is na my mening die fiets om voor te gaan. Dit maak die hele ryervaring net soveel gemakliker.

Ekonomies maak die NC egter die meeste sin. Tydens die plaaslike bekendstelling het Honda die joernaliste uitgedaag om ’n afstand van 36 km op die minste moontlike brandstof af te lê. Een van die joernaliste het die afstand afgelê met net 700 ml-brandstof. Dit is ’n ongelooflike 55 km/l! Ek moet net byvoeg dat as hy nog stadiger sou ry, die fiets dalk sou omval, maar dit wys wat kan gedoen word.

Verder is die fiets ook baie aantreklik geprys. Die standaardmodel is R126 000 en die DCT-weergawe is R135 000. Motorfietse is nie meer net ’n luuksheid nie. Die NC 750 X kan jou alledaagse vervoermiddel word sonder om die bank te breek.

Besoek Honda se webtuiste vir meer inligting.

(Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.