Honda verfyn sy avontuurbuksie

Kyk, as daar nou een vervaardiger is wat al lankal ’n kleinkapasiteitavontuurfietsie moes maak wat meeding met fietse soos BMW se 310 GS en Zontes se 310 T, dan is dit Honda. Met al hul ervaring behoort dit mos nie moeilik te wees nie.

Honda het die saak egter vanuit ’n ander oogpunt benader. Waar die ander vervaardigers hulle padfietse aangepas het om soos ’n avontuurfiets te lyk, het Honda hul bewese veldfietse aangepas om op die pad ook te werk. Die Honda CRF250L is in 2012 bekendgestel, en was ’n praktiese, alledaagse fiets. Naweke moes hierdie einste fiets diens doen as jou paspoort tot avontuur.

Vir 2021 het Honda die 250L onder hande gekry en hom heelwat aangepas om ’n waardige teenstander te wees vir die ander fietse in hierdie segment. Die enjinkapasiteit is vergroot tot 286 cc en lewer nou 10% meer krag en 18% meer wringkrag. Die in- en uitlaatstelsel is verfyn om die kraglewering beter te versprei. Met die nuwe hupstoot in krag kon Honda sy sesde rat heelwat langer maak, sodat die enjin meer ontspanne behoort te wees op langafstandritte.

Die hele raam is herontwerp en gebruik ligter materiale wat ’n gewigbesparing van 4 kg te weeg gebring het. Die grondvryhoogte is met 20 mm verhoog wat hom nou op ’n allemintige 285 mm te staan bring. Die 21” voorwiel en 18” agterwiel beteken dat Honda ernstig is oor hierdie fiets se veldryvermoë.

Die instrumentpaneel is ’n vloeikristaleenheid en is ook herontwerp om meer leesbaar te wees. Die algehele ontwerp van die CRF trek sterk op Honda se kompetisiefietse en dit maak die fiets nie te onooglik nie.

Honda bied ook ’n reeks bybehore vir die CRF om hom reg te maak vir avonture, ongeag wat jou definisie van avontuur mag wees. En teen slegs R84 999 is avontuur dalk nader as wat jy dink.

Ek het heelwat van hierdie klein avontuurfietsies nou al gery, so ek is nuuskierig om te voel hoe hierdie fiets opweeg teen die ander. Sodra Honda een beskikbaar maak vir die media, sal ek meer volledig kan terugvoer gee.

Kyk hier na die produkblad.

Spesifikasies:

Enjin286 cc enkelsilinder
Gewig (Nat)142 kg
Kraglewering20,1 kW @ 8 500 rpm
Wringkrag26,6 Nm @ 6 500 rpm
Tenkkapasiteit7,8 ℓ
PrysR84 999

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anthony

R 85 000 vir n 300cc ??