Honda wys sy splinternuwe B-segment kruismodel  

Foto: Verskaf

Honda is ʼn betroubare handelsmerk in Suid-Afrika. As vervaardiger het hulle deur ʼn reuseverandering gegaan in die afgelope paar jaar. Ongelukkig is daar in Suid-Afrika ʼn groot migrasie van Japans of Europees geboude voertuie na Indies geboude voertuie omdat ons dit baie goedkoper kan invoer.

Aanvanklik was dit ʼn jammerte – want die eerste voertuie wat uit Indië gekom het, was substandaard. Dit is nie meer waar nie. Die voertuie wat nou uit Indië kom, is heeltemal goed. Een daarvan is Honda se splinternuwe WR-V.

Foto: Verskaf

Die WR-V is in Indië ontwerp, ontwikkel en gebou. Dit is ʼn B-segment kruismodelletjie… dink VW T-Cross, Hyundai Venue en dies meer.

Die ontwerp is oulik, netjies en pure Honda. Die binneruim is grootliks geleen by die Jazz weens die Jazz se slim verpakking en uiters veelsydige binneruim… dit spaar ook ʼn reusebedrag om onderdele te deel. Die materiale is grootliks harde plastiek, maar dit is duursaam en voel nie goedkoop nie.

Foto: Verskaf

Die spesifikasievlak op die luukser Elegance-weergawe beïndruk met ʼn raakskerminligtingstelsel, klimaatbeheer, spoedkontrole, ABS, EBD, ses lugsakke, ISOFIX – de lot. Die sitvlak van die voorste sitplekke is effens kort en mens kan sukkel om gemaklik te raak, maar daar is beslis slegter sitplekke in dié segment.

Die WR-V word aangedryf deur Honda se goeie atmosferiese 1,2 viersilinderpetrolenjin. Die buksie bied 66 kW en 110 Nm. Die enjin is gepaard met ʼn 5-spoed handrat en dít werk goed in samewerking met die enjin te danke aan Honda se puik VTEC kleptydreëling. Honda beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6,4 ℓ/ 100 km… dit klink heeltemal aanvaarbaar – en ek dink as jy gaan vir verbruik is 5 ℓ/ 100 km nie onmoontlik nie.

Foto: Verskaf

Op die pad is die WR-V sag geveer en heel gemaklik. Padhouvermoë is in die kol en meer as wat iemand in dié segment ooit sou benodig. Padhouvermoë is aanvaarbaar goed. Die Suidooster in die Kaap kan hom ʼn bietjie rondpluk, maar dis te verstane. Dis nie ʼn renmotor nie – maar heeltemal gemaklik as gevolg daarvan.

Dit is maklik om die Honda WR-V op te som. Dis ʼn oulike klein buksie met rateltaai betroubaarheid teen ʼn billike prys. Wat meer sou mens wil hê?

Die reeks lyk só:

Honda WR-V 1.2 ComfortR289 900
Honda WR-V 1.2 EleganceR319 900

Ons sal weer tyd met die WR-V op die platorand deurbring en hom dán teen sy mededingers vergelyk en sien hoe hy is om in die verkeer mee saam te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.