Husqvarna Vitpilen: Twee nuwe pyle in ʼn historiese koker

Die Husqvarna Vitpilen (Foto: Husqvarna)

In die laat 50’s, toe jy nog in jou kantoor kon rook en ʼn oproerige kind die roede kon inlê, het Husqvarna ʼn 175 cc-enkelsilindermotorfiets in Swede bekend gestel: die Silverpilen. Die naam beteken Silwer Pyl.

Motorfietsryers van daardie tyd was maar ʼn rowwe klomp, en dié betrokke fiets het baie aanklank gevind by veral die jonger manne. Sy oop raam en eenvoudige ontwerp het beteken dat hierdie fiets maklik omgebou kon word tot iets unieks. Kort daarna het ʼn Guldpilen ook sy verskyning gemaak, maar toe het Husqvarna begin naaimasjiene en tuingereedskap maak en alle motorfiets-aspirasies opsy gestoot.

In 2013 het KTM eienaarskap van die Husqvarna-naam gekry en Husqvarna kon begin werk aan opvolgers vir die legendariese Silverpilen. Deesdae word rokers egter tot geverfde blokkies verban soos melaatses van ouds. Almal neem aanstoot oor alles, en motorfietsryers is deesdae nie meer uitvaagsels nie. Dit het beteken dat Husqvarna iets unieks moes bied vir ʼn totaal nuwe motorfietsmark. Twee woorde is as ontwerpstema gebruik: eenvoudig, progressief.

By die 2017 SA Bike Festival het Husqvarna ons al geterg met die voorgestelde ontwerp en twee nuwe pyle is verlede maand bekend gestel: die Vitpilen en die Svartpilen. Die ontwerp het bitter min afgewyk van die fiets wat ons ʼn jaar terug gesien het. Die verskil tussen die twee is dat die Svartpilen stofpadbande het en handvatsels wat meer regop is, terwyl die Vitpilen ʼn meer sportiewe padfiets is. Al twee modelle is beskikbaar in twee enjingroottes.

Met KTM wat sorg vir die grondslag, kon Husqvarna net konsentreer op die ontwerp, eerder as om ʼn nuwe fiets van meet af aan te ontwikkel. My ryding vir die week was die Vitpilen 401, gegrond op die KTM 390 Duke. Daar is ook ʼn 701-weergawe wat op sy beurt die 690 Duke as grondslag gebruik.

Die Husqvarna Vitpilen (Foto: Brian Cheyne)

Die 401 ry op 17″-vellings, stylvol afgewerk in geanodiseerde brons en lywige speke. Die geel aksent op die vellings is net een van die klein soort detail wat die Vitpilen sy uniekheid besorg. Vering is van WP, en die voorste skokbrekers is onderstebo gemonteer. Die ryposisie van die Vitpilen is baie sportief. Die saal, tenk en handvatsels is op dieselfde horisontale vlak en jy kan nie anders as om dié fiets hard te wil ry nie.

Die enjin is maar net 375 cc, maar moenie dat dit jou flous nie. Die Husqvarna is baie lig en klein, wat hom rats maak in die verkeer. Hy kan ook maklik 160 km/h handhaaf op die snelweg. Omdat daar nie windbeskerming is nie, raak dit egter onaangenaam om hierdie spoed vol te hou, maar die Sweed kan as dit moet.

Die instrumentepaneel is een van die ontwerpselemente waarvan jy hou of nié. Dit is ’n klein ronde tweekleur-vloeikristaleenheid, en dit bevat omvattende inligting. Dit is egter baie klein, en soms moeilik om te lees.

Die Husqvarna Vitpilen (Foto: Brian Cheyne)

Die saal is redelik hard dog gemaklik, en die Vitpilen se agterstewe hang in die lug. Die nommerplaat en flikkers hang aan die afgestompte modderskerm en reg van agter is nie die Husqvarna se beste kant nie.

Die Vitpilen was werklik ʼn fees om te ry. Net soos die KTM 390 waarop hy gegrond is, borrel die enjintjie van entoesiasme, en jy kan die 401 maar gooi om ʼn draai. Daar is genoeg woema, mits jy die enjintjie aan die kook hou. Die fiets is amper belaglik klein, so as ʼn pendelfiets is hy ook ideaal.

Die mark vir klein fietsies het skielik ontplof, en die Husqvarna het probeer om iets unieks na die mark te bring. Ek het die Vitpilen baie geniet. So as jy iets unieks soek wat koppe laat draai, gaan krap gerus in Husqvarna se koker. Daar sal ʼn pyl wees wat jou pas!

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop

Enjin373 cc-enkelsilinder
Gewig (Droog)148 kg
Maksimum kraglewering32 kw/43 pk
Saalhoogte835 mm
Tenkkapasiteit9.5 ℓ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.