Hyundai se gewilde sportnuts vernuwe

Om die uiters gewilde Tucson in Suid-Afrika bekend te stel, was een van die beste goed wat Hyundai kon doen. Hy het in ʼn stadium die pad byster geraak en ʼn nuwe naam gevat met die iX35 en toe keer hulle terug na die oorspronklike naam.

Ek sou sê dat die eerste generasie Tucson – die 2.0 GLS – Hyundai Suid-Afrika se reddingsboei was. Hulle het derduisende van die goed verkoop en hom daardeur as ʼn eerste keuse onder kopers gevestig. Die nuwe model se ontwerp is polariserend, maar onder die vel is dit steeds ʼn lekker voertuig.

Die ontwerp val vreemd op my oog. Van voor af lyk dit amper presies soos Mercedes-Benz se EQC. Van die kant af is daar vir my te veel hoeke en lyne, maar dit is darem nie bloot lelik nie – ek sukkel net om daaraan gewoond te raak.

Die binneruim is baie groter as wat ʼn mens verwag van die buiteproporsies. Dit sitplekke is lekker gemaklik en die beenruimte vir die tweede ry is enorm. Ek is oortuig ons kan moontlik ʼn sewesitplek‑weergawe van dié voertuig sien.

Die materiale is heel goed, en die bougehalte in die kol. Die ontwerp van die stuurwiel is dieselfde as wat jy op die Creta vind; dit val nie in my smaak nie, maar dit pas by die res van die voertuig. Die digitale instrumente is duidelik, en ʼn mens kan dit maklik lees. Die blinkplastiek op die middelkonsole moet na my mening met ʼn dowwer materiaal vervang word.

Die gehalte van die inligtingstelsel se skerm is heel goed, maar jou foon kan slegs met Bluetooth en Wi‑Fi koppel vir CarPlay. ʼn Jammerte, want die diens is betroubaarder as jy die draad as verbinding gebruik.

Daar is twee enjins beskikbaar – ʼn 2.0‑viersilinderpetrol en ’n 2.0‑turbodiesel. Ons het tydens die bekendstelling met die diesel gery. ʼn Juweel skuil onder die kap. Hy bied 137 kW en 416 Nm. Die enjin is gepaard aan ʼn 8-spoed‑wringkragomsitter‑outo wat sy krag aan die voorwiele stoot. Hyundai maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7,9 ℓ/100 km, maar ons het tydens die bekendstelling ʼn fantastiese 5,9 ℓ/100 km op die oop pad gehandhaaf.

Op mooi teer toer die Tucson werklik gemaklik. Indien die teer swak raak, kan hy effens hard geveer voel. Aan die veiligheidskant is daar ses lugsakke, sluitweerremme en die volle suite veiligheidstelsels soos botsingwaarskuwing, noodremhulp, baanbeheer en blindekolwaarskuwing.

Ons het ʼn kort tydjie met die Tucson deurgebring, maar lank genoeg om te weet hy toer lekker. Sportnutsvoertuie in die C-segment is deesdae bitter duur; ek vra dus altyd, sou ek dit bó iets soos ʼn Fortuner of Everest verkies – maar die afgeronde ervaring wat dié voertuie bied, is indrukwekkend. Ons sal weer tyd met hom deurbring en sien hoe hy hom dan in die daaglikse roetine gedra en hom dan ook met sy mededingers vergelyk. As ek vinnig na die mededingers se pryse kyk, dan dink ek Hyundai het moontlik ʼn lat vir hulself gepluk aangesien die kompetisie sterk is in dié prysklas.

Die reeks lyk só:

Hyundai Tucson 2.0 Premium outo115 kW/192 Nm8,9 ℓ/100 kmR519 900
Hyundai Tucson 2.0 Executive outo115 kW/192 Nm8,9 ℓ/100 kmR569 900
Hyundai Tucson 2.0 Elite outo115 kW/192 Nm8,9 ℓ/100 kmR634 900
Hyundai Tucson 2.0D Elite outo137 kW/416 Nm7,9 ℓ/100 kmR699 900

Die reeks word gedek deur ʼn sewe jaar/200 000 km-waarborg en ’n ses jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Wat maak al die silver plastiek aan die buitekant van die motor?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.