Hyundai se luukse sportnuts opgeknap

Hyundai het hom nou al goed in die Suid-Afrikaanse motormark gevestig.

Ek sou sê hulle het dit eenvoudig reggekry om goeie en betroubare motors teen ʼn billike prys te bied.

Dit bring my by ʼn kopskuif wat ek vir myself moet maak. Is R800 000 vir ʼn Hyundai belaglik? Sien, my kop is nog waar ʼn mens ʼn BMW X5 vir daai soort geld kon koop – maar ʼn mens kan nie meer nie. ʼn BMW X5 gaan jou nou R1,5 miljoen uit die sak jaag – wel vir ʼn sessilinder-diesel, maar Mercedes-Benz se viersilinderdiesel is ook R1,4 miljoen. Audi se Q5 is baie nader aan die merk teen R865 000, maar dit sal vir die intreemodel wees.

Hyundai se Santa Fe is gepeper met elke denkbare luuksheid. Sê ek dan dat Hyundai ʼn luukse handelsmerk is? Nee, maar die Santa Fe is egter wel ʼn luukse motor, met minder van die lokvalle wat saam met ʼn luukse handelsmerk kom soos waardevermindering en reuse-instandhoudingskoste.

Daar is twee modelle in die Santa Fe-stal: ʼn voorwielaangedrewe Executive en ʼn vierwielaangedrewe Elite. Albei word deur ʼn fantastiese 2.2-viersilinderturbodiesel aangedryf wat 148 kW en 441 Nm bied. Nie net trek die enjin werklik sterk nie, maar gepaard met die nuwe 8-spoed-dubbelkoppellaarratkas is die Santa Fe werklik lig op brandstof en haal maklik syfers van 6 /100 km sonder om jou te veel aan die spoedgrens te steur.

Die sitplekke in die Santa Fe is lieflik. Dit bied goeie steun terwyl dit uiters gemaklik is. Die binneruim is gepeper met elke denkbare luukse truuk en veiligheidstelsel. Alles is daar van blindekolwaarskuwing, ʼn selfverduisterende truspieëltjie, outomatiese ligte en ruitveërs, klimaat- en spoedbeheer, asook ses lugsakke.

Die Santa Fe spog met sewe sitplekke en ʼn 2,5 ton-sleepkrag. Dit maak die Santa Fe ʼn lieflike gesinsbuks. Vir diegene wat werklik ver van die teerpad af wil wandel, is die bakkie-gebaseerde sportnutse soos ʼn Everest of Fortuner waarskynlik ʼn beter oplossing – maar vir diegene wat uitmuntende gemak op die teer wil hê, staan die Santa Fe baie sterk.

Op die pad toer die Hyundai soos ʼn droom. Die enjin is tjoepstil en die ritgehalte puik. Padhouvermoë is beter as wat die bakkie-gebaseerde SNV’e kan bied, en in die kol vir dié soort voertuig.

Die reeks lyk só:

Hyundai Santa Fe 2.2D ExecutiveR769 500
Hyundai Santa Fe 2.2D EliteR859 600

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuig- en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg, asook ʼn 6 jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Hyundia het in die vroeë 90’s ons mark ingekom as ‘n bekostigbare voertuie. Wel nie meer nie. Ons moet nou maar staat maak op Suzuki en die Chinese handelsmerke om nuwe voertuie te koop. Ek glo die belasting in SA help nie om voetuie bekostigbaar te maak nie.

Boerkind ·

Klink goed… steeds maar duur (kan al ‘n oulike intree huis koop vir die prys van twee van die voertuie!) Ek is seker al te oud om daardie sierrooster (voor) te waardeer! Hyundai en Kia maak vandag puik voertuie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.